Verslaap, maar betyds!

by Timothy Kieswetter

Die son het nog nie eers opgekom op die besluit wat ek gister geneem het om met my “Binne die Glashuis” blog te begin nie en die eerste droom is alreeds opgelewer. Soos wat jy my volg sal jy agterkom dat drome ’n groot rol in my lewe speel. Dit is of die Here wat met my gesels of my binne-diep-onbewuste mens wat sy stem wil dik maak.

Sodra ek wakker word van ’n droom dan probeer ek dadelik die konteks soek wat die droom se betekenis na vore sal bring. Die hoof tema van gisteraand se droom was dat ek verslaap het. Die oombliklik konteks was dat ek my wekker moes stel vir 5am om betyds te wees vir ’n manne-ontbyt praatjie. (Sommige mense dink God is net wakker vroeg in die oggend!) Die stel van die alarm vir 5am kon vir enige ander dag die nodige konteks gee om betekenisvolheid uit my droom te neem, want dit is vir my baie traumaties om my wekker vir daardie belaglike uur van die oggend te stel. Maar hierdie droom se konteks is groter as net die stel van die wekker. Dit is die launch van my “Binne die Glashuis”.

Die droom.

Ek droom ek en Janet word wakker met die gehuil van ons kind (wat regtig gebeur het). Janet klim uit om ondersoek te gaan instel. My pa klim toe in die bed en sê vir my ek het verslaap en is laat vir my praatjie. Ek gryp na my horlosie en sien dit is 6:01am. Ek het verslaap! Ek spring toe uit die bed en gaan badkamer toe om te gaan stort. Daar vind ek my vrou en kind besig om te bad. Ek kom agter hierdie is nie ons huis nie, maar weer soos baie van my drome, my oorlede oupa en ouma se huis in die Kaap. Ek klim in die stort maar sukkel. Ek kry nie die deur toe gemaak nie, die kraan oop gedraai nie. Ek voel totaal en al onbekwaam om betyds te wees vir hierdie praatjie.

Soos wat ek in die stort besig is om myself met die dove seep te was (wat nog in sy boksie is), erken ek aan Janet dat ek nie weet wat om vir die mense te sê nie. Ek weet nie hoe gaan ek betyds daar kom nie en as ek daar opdaag weet ek nie hoe ek hulle oor Gesonde Seks gaan kan leer nie. En soos wat ek dit erken kyk ek na myself wat my probeer was met die boksie dove en ek raak opgewonde omdat ek kaal staan. Net toe sê Janet vir my dat ek niks meer nodig het om te doen as wat ek alreeds doen nie.

Ek word toe wakker 4:45am.

Interpretasie.

Ek en Janet het baie gesels oor die wysheid agter my “Binne die Glashuis” blog. Dit is serious emosionele exhibitionism. Maar binne die eerste 24uur kom bevestig die Here dat dit nie gaan oor wat ek alles vir mense oor Gesonde Seks kan leer nie. Want as dit net van my vermoë af hang dan word ek totaal en al geparaliseer met onbekwaamheid. Al wat ek kan doen, is om eerlik en opreg binne die Glashuis te staan en my eie openbaringe met die wêreld te deel.

Die feit dat my pa ook in my droom was en in baie van my drome is, is omdat hy my geestelike mentor is en ’n groot inspraak in my lewe het. My pa simboliseer ook die kerk-sisteem, wat van my verwag om nie laat te wees nie, om te perform, om ’n goeie praatjie te lewer.

Dit simboliseer ook my eie default ‘kerk’ setting wat verwag dat dit my verantwoordelikheid is om die boodskap van Gesonde Seks reg oor te dra. Werke, werke, werke!

Maar Janet se stem is simbolies die Here. Wat net weer sagkens vir my sê, dit gaan nie oor wat jy kan en nie kan doen nie, maar wat jy bereid is om deur jou lewe te weerspieël.

Die onderwerp van seks (Gesonde Seks) het verslaap. Vir jare, generasies, is daar vir ons gelieg oor die gesondheid en geestelikheid van seks. Die menslike realiteit is dat die waarheid van Gesonde Seks, verslaap het. Maar die goddelike realiteit is dat dit nie te laat is nie. En die openbaring van Gesonde Seks begin nie met wat jy kan leer of bemeester nie. Dit begin met die bewuswording en opgewondenheid van jou eie seksualiteit.