Vrees vir ‘n seuntjie van my eie

by Timothy Kieswetter

Ek was nog altyd meer van ‘n dogtertjies-tiepe-pappa. (Wat ook al dit beteken!) Selfs toe ek op skool was het ek geweet dat my oudste ‘n dogtertjie gaan wees. Dit was so sterk tydens ons eerste swangerskap, hierdie wete, dat enige iets of iemand wat die teendeel stry, ‘n baie streng en hard woord van my sou kry.

Opgewonde oupas en oumas, wie hulle eerste kleinkind verwag, het reg gestaan met drome, baba name en blou-bul baba kleure. (Dit was in die dae toe die blou bulle nog blou was!) Almal het ‘n seuntjie verwag.

Selfs die vreemde, ek neem aan Christen-broeder in die plaaslike Christelike boekwinkel wat opstap na my vrou toe en sy hand op haar maag sit en sê: “Die Here het groot planne met hierdie mannetjie.”

“Ek hoop nie so nie, want hierdie is ‘n meisiekind.”

En dan soos enige goeie charismatiese gevulde kennis-oor-die Gees Christen, het hierdie dierbare broeder net aangegaan met sy eie goddelike gevoel. “Dokters, scanners, toetse, moderne wetenskap, dit kan alles verkeerd wees, maar hierdie (g)od is nooit verkeerd nie.”

Die dude was baie naby om die ander wang te draai, want ek was goed op pad om hom by te kom.

My vrees/angs/onsekerheid vir ‘n seuntjie van my eie was so groot gewees toe die dokter ons eerste kind uithaal en haar vir my wys, het ek getwyfel. Ek het lank gestaar na die geslagsdeel van hierdie baba in die dokter se hande, maar dit wou nie in my kop registreer watse geslag nie. Ek weet nou as  seksuoloog, is die vrou se geslagsdeel baie opgeswel by geboorte en kan soos ‘n skrotum lyk, maar daar is een ander deel van die man se geslag wat gekoppel moet wees aan daardie skrotum, wat net nie daar was op my oudste nie. Die dokter moes gesien het ek weet nie waarna ek kyk nie, en sy het sag kuns genoem: “Gelukkig pappa en mamma, julle het ‘n pragtige dogtertjie.”

Die onderliggende vrees vir ‘n seuntjie van my eie het weer gaan hiberneer, net totdat die piepie-stokkie weer twee lyntjies getoon het. Die dokter het met die eerste sonar beweer dit mag dalk ‘n bulletjie wees, die keer!

Ek droom toe daardie aand, dat al die vooraf mediese-toetse en geestelike-gevoelens almal ooreenstem. Dit is ‘n seuntjie. Maar nadat hulle die kind uithaal is die geslagsdeel onontwikkeld en die dokter sê vir my dit is my besluit watse geslag hy of sy gaan uitdraai. (Gelukkig was dit net ‘n droom, maar duidelik was die onderliggende vrees vir ‘n seuntjie van my eie nog steeds iets wat by my psige gespook het.)

Ek is nie iemand wat dinge net los nie. Ek probeer dit uitpluis. Ek soek antwoorde. Ek wil verstaan. En met dié het ek ‘n paar moontlike redes vir my vrees vir ‘n seuntjie van my eie, mee vorendag gekom.

  • Ek is bang my seun gaan dieselfde seks vs. gees stryd hê as ek.
  • Dat ek nie so goeie pa sal kan wees as wat my pa vir my was nie.

Maar nie een van hierdie redes het my onderliggende vrees vir ‘n seuntjie van my eie versadig nie. Dit was nie totdat ek met een van my ooms in berading gesit het nie (ek was die persoon wie die berading ontvang het), dat hierdie vraatsugtige siels-dier tot ruste kon kom nie.

“Timothy ek dink nie dit het te doen met enige van hierdie redes wat jy wil voorgee dit is nie. Ek dink dit het baie eerder te doen met jou eie kinderjare en wat met jou gebeur het toe jy nog ‘n seuntjie was.”

In een oomblik, totale ontnugtering. Helderheid. Duidelikheid. Selfs genesing. (wel tot ‘n mate), maar genoeg só dat ek nou uitsien met die hoop dat nou met Janet se derde swangerskap dit ‘n seuntjie van my eie sal wees.