‘n Kerk of nie-Kerk boodskap?

by Timothy Kieswetter

 

My Gesonde Seks bediening het begin goed lyk. My Facebook groep het meer as 5000 lede toe gehad en mense het na my advies begin luister. Ek het nog nie regtig geweet hoe ek ’n inkomste van hierdie kan maak nie of hoe my Gesonde Seks Bediening in die kerk gaan inpas nie. Al wat ek geweet het, is dat ek geniet wat ek doen en dat ek vrede het in my hart om voort te gaan daarmee.

Tydens ’n breakfast met een van my mentors word ek gekonfronteer met ’n toekoms besluit wat ek binnekort sou moes maak. “Timothy, jou boodskap is baie uniek en nodig. Dit is ook baie radikaal. Watse audience probeer jy voor cater?”

Dit was ’n maklike antwoord. Hierdie was nie ’n vraag wat ek nog nie alreeds baie oor bepeins het nie. Selfs in my motiverings brief aan die Akademie vir Seksuologie om daar te studeer het ek geskryf: “Ek het ’n hart vir alle mense.  En met my graad wil ek die konserwatiewe persoon vertel van die plesiere van seks en ek wil vir die liberale persoon vertel van die commitment van ware liefde.”

Met ander woorde ek wil met my boodskap beide die kerk en die nie-kerk mense bereik.

Wat ek nie verwag het nie, was wat my mentor vir my toe gesê het. “Jy gaan nie al twee gelukkig kan hou met jou boodskap nie. Jy gaan moet kies.”

Ek het terug geskuif in my stoel. Ek was nie lus om te kies nie. Al wat ek ken is die kerk, maar tog is daar iets daar buite wat my trek. Nee, ek gaan nie hoef te kies nie. Ek is goed genoeg om al twee gelukkig te hou.

Hy het vir my gesê ek hoef nie nou ’n antwoord vir hom te gee nie, maar hy voorspel in die nie te naby toekoms gaan ek my boodskap in ’n meer spesifieke rigting moet inneem, wat een van hierdie twee groepe ongelukkig gaan maak.

Ek het in die volgende maand, agtergekom, dat hy reg was. Ek gaan moet kies en die keuse wat ek moes maak sou bitter-soet wees.