Soek julle my pa? Nee, ons soek jou vrou!

by Timothy Kieswetter

 

Daar is baie voordele om met ’n bekende pa groot te word en dit is daardie voordele wat my gebring het tot waar ek nou is. Maar seker die grootste nadeel is die gevoel van om in iemand anderste se skaduwee te wees.

Toe ek begin het om ook rond te toer en te preek, was dit ’n konstante herinnering vir my dat ek in iemand groter se skaduwee staan. Elke keer wanneer iemand my bel om my te bespreek vir ’n praatjie, moet ek eers vra: “Soek julle my pa?” (Ek het gevoel die bietjie vernedering oor die foon is beter as die groot verleentheid om by ’n plek op te daag waar hulle verbaas is om my daar te sien.)

Die meeste van mense wat my gebel het, was opsoek na my. Maar wanneer ek daar aankom moet ek hoor hoe baie hulle van my pa hou en hoe opgewonde hulle is om sy seun te hoor. Ek het ook elke van my preke begin met die sin: “Wie van julle het al my pa, Gary Kieswetter gehoor preek? Wel, die appel van nie vêr van die boom nie.”

Selfs noudat ek seks praatjies aanbied begin ek ook my speech met:  “Wie van julle het al my pa, Gary Kieswetter gehoor preek? Wel, hy weet wat ek doen en is steeds trots op my.”

Ek werk tans aan ’n nuwe opening line vir my seks praatjies: “Ons gaan vandag praat oor seks, maar moenie worry nie ek is ’n professional. Julle kan maar net rustig wees, ek sal julle nie embarrass nie. So net voordat ons begin, kan al die mense wat ’n voet fetish het aan hierdie kant sit en die ander aan my linker kant.”

Ek moet sê die meeste fun wat ek het, is wanneer iemand laat in stap by een van my praatjies.

As iemand laat in stap dan stop ek waarmee ek besig is en sê: “Welkom, julle het darem nie veel gemis nie. Ons het nou net klaargemaak waar almal in hulle beurt vertel het van hulle sekslewe. Nou is dit julle beurt.”

Vandat ek seksuologie begin studeer het, was daar baie minder mix-ups tussen wie die mense wou nooi, my of my pa. Uiteindelik ek is nie meer in my pa se skaduwee nie. (Dit het ’n professie soos seksuologie gekos om daaruit te beweeg, maar ek is nou my eie mense, met my eie bediening.)

Wel, dit was nie lank nie, toe het die Gesonde Seks gogga ook vir my vrou Janet gebyt en sy het begin praatjies aanbied. Ek was in die begin baie opstanding daaroor, want ek het geweet dat die samelewing eerder na ’n vrou oor seks sal wil luister as ’n man. Maak nie saak of dit die man is met die seksuologie graad nie, dit is altyd die vrou wat genooi word om oor seks te kom praat. (Ek sal dalk in ’n ander blog post vertel van die droom wat ek gehad het van dié ander vrou wat oor seks praat en oor als genooi word.)

Ek kan dit seker verstaan. Die man is immer die antagonis in die hele seks storie en daar is in elk geval nie ’n manier hoe ’n man die vrou-spesie kan verstaan nie.

Maar nou eers terug na my eie vrou.

Janet se seks praatjies het so gewild geraak dat almal begin vra het vir haar. En dit was nou onlangs waar ek nou weer moes begin screening question gee vir iemand wat my wil bespreek vir ’n praatjie.

“Is julle opsoek na my pa?”

“Nee, ons is opsoek na jou vrou!”