Moenie die kansel najaag nie

by Timothy Kieswetter

Opvolg tot “‘n Kerk of nie-Kerk boodskap?” My Gesonde Seks bediening het tot ’n punt gegroei waar dit aandag vereis het. Nie ek of die kerk waar ek was kon langer dit ignoreer nie en ’n besluit moes gemaak word hoe ek my Gesonde Seks boodskap gaan verpak. Gaan ek dit so verpak om nie die kerk-ganger se vere te veel te ruffle nie of gaan ek dit so verpak dat dit nie aan die wêreld daar buite aanstoot gee nie. (In retrospek dink ek nie ek kry enige van die twee goed reg nie.)

Op daardie stadium van my bediening was ek nog baie onseker oor Gesonde Seks en wat ek daarmee moet doen en het die meeste van my tyd in gebed en bepeinsing deur gebring opsoek na helderheid. Ek kry toe ’n droom.

Die droom

Ek sien hoe ek en my vrou in my X3 BMW op die N1 ry. Die pad is groot en wyd. Daar is baie karre en die geboue en stede langs die hoofweg is gevestig. Ek bring die kar tot ’n stilstand by ’n klein grond afdraaipad. Janet vra vir my waarnatoe gaan ek? En ek antwoord ‘trust me’. Sy herhaal dit weer maar die keer sit ek in die passasiers sitplek en die Here sit agter die stuurwiel en antwoord ‘trust Me’.

Ek draai toe af op die grondpad wat nou 90grade wegbeweeg van die hoofweg. Ek sien hoe dit al hoe kleiner agter my word. Die grondpad is klein en ongemaklik. Na ’n hele end se gery is daar ’n draai in die grondpad en ek kan nou weer die hoofweg voor my indie vêrte sien. Die grondpad sluit nooit weer aan by die hoofweg nie, maar eindig tog in dieselfde stad, doer in die vêrte.

Soos wat ek aanhou om op die grondpad te ry begin daar klein huisies en geboue opspring langs die pad. (Daardie tiepe geboue wat jy in die Western movies sien, al wat gekort het in die droom was die tumbleweeds wat oor die pad gerol het). Die spoed van die ontwikkeling langs die grondpad was indrukwekkend. Selfs die grondpad was besig om deur ’n metamorfose opgradering te gaan. Dit het breër geword, dit was geskraap en dit was geteer.

Ek ry toe met my X3 BMW in ’n KIA garage in om my ou kar in te ruil vir ’n nuwe SUV.

Die Interpretasie

Die interpretasie van die droom was duidelik die oomblik toe ek wakker word. Die hoofweg is die kerk, die tradisionele manier van bediening. Dit is gevestig en bedien baie mense en het baie motors (ander mense se bedienings) daarop.

Die feit dat ek in my huidige kar gery het, het gepraat van die hier en nou. Die grond afdraaipad is die keuse wat ek oor gewaarsku was. Wie gaan jy bedien? Hoe gaan jy jou boodskap verpak? Ek volg my hart en sê vir Janet sy moet my vertrou. Alhoewel logies dit nie sin maak nie, sy moet my vertrou want ek voel iets in my hart. Maar ten selfde tyd soos wat ek my vrou op die Gesonde Seks paadjie neem, voel ek die Here neem beheer van my toekoms en roeping en gee my rustigheid en sê ek moet Hom vertrou, Hy het ’n plan.

Die grondpad is die grys-area, dit is nie die normale wit en swart absolutes van die hoofweg bedieninge nie. Maar die belofte is daar dat daar groei sal wees op hierdie grondpad.

Vir die mense op die hoofweg gaan dit lyk asof ek wegbeweeg en my eie ding doen. Ek self gaan soms wonder wat de hel maak ek. Maar die aanhoudende groei gaan my oortuig ek doen die regte ding. Daar is mense langs die grondpad wat eens op die hoofpad was, maar vir wat ook al rede nie meer bedien word of belangstel in die hoofweg bedieninge nie. My grondpad bediening sal vir daardie mense hulp bring en die Goeie Nuus, (al is dit vereers vermom met die Gesonde Seks goeie nuus) verkondig.

Die feit dat my BMW ingeruil word vir ’n KIA Sorrento (Ek het toe na die droom my BMW ingeruil vir ’n KIA) wys twee dinge. #1 My grondpad Gesonde Seks bediening sal groei en sal nuwe wiele kry. Maar dit gaan ’n downgrade wees van BMW na KIA. Dieselfde tiepe status downgrade as wat dit was om vanaf ’n hoofweg bediening na ’n grondpad bediening te gaan.

Die droom los my met die sekuriteit dat ek nie hoef te bekommer oor die grondpad wat ek kies nie, want dit sal suksesvol wees en dit sal op die ou einde op dieselfde plek eindig as die hoofweg, maar dit gaan vir eers eensaam en hard wees.

Die bevestiging kort daarna

Ek het al vir baie lank oorweeg om seks speelgoed via my website te verkoop en het toe alles in orde gekry om daarmee uit te rol. Die dag toe ek dit publiek maak dat ek binnekort seks speelgoed op Gesonde Seks gaan verkoop, ontvang ek ’n oproep van een my toe pastore. Hy nooi my vir ’n koffie. Na die aanvaarbare hoeveelheid van chit-chat kom hy tot die eintlike rede vir die intervensie. “Timothy ek het gesien dat jy dinge op jou website gaan begin verkoop?!” Ek weet nie of dit ’n vraag of ’n stelling was nie.

Nadat ek alles verduidelik het en so meer drop hy die bom. “Ek wil jou net vriendelik laat weet dat as jy voortgaan met hierdie besluit, gaan die kerk geforseer wees om van jou bediening afstand te doen.”

Ek kry toe dadelik ’n glimlag en sê hardop. “Hier begin die grondpad, trust (M)y.”