Die veiligheid van die Kerk of die onsekerheid van Gesonde Seks?

by Timothy Kieswetter

As jy nog nie my vorige drome gelees het nie, sal dit sinvol wees om dit te lees om die konteks van my droomwêreld beter te verstaan.

Elke keer wanneer ek by my ouers in die Kaap gaan kuier dan los dit my met ’n vraag? “Moet ek nie dalk in die kerk rigting gaan nie? Ek kan ook oor normale dinge preek! Ek is ook lief vir Jesus! Ek weet ook hoe om te bid en Bybel te lees!”

Vir die van julle wat nog nie weet nie, my ouers het ’n gemeente in die Kaap begin so jaar of so gelede “Die Bron” en die seëning van die Here is so duidelik daarop dat dit my lus maak om ook deel daarvan te word. Toe my ouers met die gemeente begin het, het hulle vir my suster en haar man, wat toe pastore in Kuruman was, beroep Kaap toe. (Die weer is ’n bietjie beter in die Kaap hoor ek.) Nou sit my hele familie in die Kaap, in die bediening, in dieselfde kerk, besig om die Here se koninkryk te bou. En waar is kiepie? Alleen in Pretoria besig om met mense te praat oor hulle seks lewens!

Hierdie was vir my ’n moeilike besluit gewees om nie die veiligheid van die kerk te kies nie. Veiligheid in die sin van, teologiese veiligheid, finansiële veiligheid, covering veiligheid en hate mail veiligheid. (Ek is seker daar is ook predikante wat hate mail kry!)

Ten spyte van die hunkering in my om in te blend en die mainstream ding te doen kry ek elke keer die gevoel om te bly en om aan te gaan met Gesonde Seks. Na een van my Kaap trips droom ek hierdie droom.

Droom:

Ek staan in ’n bunker wat in ’n berg gebou is. Daar tipiese weermag bunkers wat gebou is vir veiligheid. In die bunker loop my ouers rond, my suster en haar man. Dit is hulle bunker. Ek inspekteer die bunker van hoek tot kant en bewonder die veiligheid daarvan. Ek oorweeg dit om daar te bly.

Ewe skielik vind ek myself in ’n landery. Die grond was sopas klaar geploeg en in die middel van die landery staan my KIA kar en soos wat ek daarna toe loop verander die KIA na ’n Hyundai H1 (My droom kar). Ek sien hoe die skuifdeur oop staan en die kinder se tasse is oop en al die klere is orals gestrooi. Iemand het my beroof. Ek is so kwaad vir die Here en vra vir Hom hoekom het Hy dit toe gelaat? Hoekom het hy ons nie beskerm nie?

Met daardie vraag word ek wakker en ontvang dadelik die interpretasie van die droom.

Interpretasie:

Die bunker is natuurlik my ouers se kerk wat ek seriously eye. En terwyl ek probeer om my bediening daar te maak werk, word daar van my huidige bediening (karre praat baie maal van ministry – veral as dit ’n traveling ministry is) gesteel. Die antwoord is duidelik. Omdat ek nie al my aandag by my Gesonde Seks bediening plaas nie, maak ek myself oop vir potensiële skade. God se beskerming lê daarin om in Sy wil te wees vir jou lewe. God beskerm en seën my ouers en suster in die kerk omdat dit God se wil is vir hulle. God seën en beskerm my in my Gesonde Seks bediening want dit is Sy wil vir my.

Die upgrade van die KIA na die H1 praat weer van groei en momentum in my bediening. Die feit dat die kar in die middel van nêrens staan, kan na ’n paar dinge verwys. Dat my traveling ministry my gaan neem na plekke soos, Steelpoort, Christiana, Koster en Kanoneiland. Dit kan ook verwys na my vorige droom oor moenie die kansel na jaag nie, waar ek alleen op die grondpad ry. Gesonde Seks is ’n alleen bediening in die sin dat daar nie baie pioneers is wat die onderwerp van Gesonde Seks in die kerk of onder die Afrikaners oopgebaan het voor my nie.

Maar wat my die meeste opgewonde maak oor hierdie droom was dat die kar in die middel van ’n geploegde landery gestaan het. Hierdie is bevestiging waar ek voel die Here my spesifiek geposisioneer het. Nie in die landerye wat gereed is om geoes te word nie, waar die kerk homself bevind. Lukas 10:2 “Jesus het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Maar op ’n dor stuk land. Op sommige plekke moet daar nog gedisc word, geploeg en dan begin die saai proses. Die werk van ’n pionier. Ground breaking work. Die afbreek van ou taboes. Die voorstelling van nuwe Gesonde Seks filosofie en gedagte patrone. En ultimately die saaiing van ’n nuwe generasie wat die ware betekenis van intimiteit verstaan en geniet.