2012 – Die einde van my ‘Fallback’ wêreld.

end-world-survival-guide-staying-alive-during-zombie-apocalypse.w654

21 Desember 2012 was dalk nou nie die einde van die wêreld nie, maar dit was die einde van ’n baie groot wêreld vir my. My ‘Fallback’ wêreld. Soos wat die meeste van julle behoort te weet, is my pa die beroemde predikant, Gary Kieswetter en het onlangs sy eie kerk in die Kaap begin. My suster en haar man was beroep soen toe om die tweede in bevel te wees.

Van die begin af het my ouers my en my vrou baie welkom daar laat voel en genooi om ook af te trek Kaap toe om deel van die visie vir herlewing te wees daar in die Kaap. Dit was ek wat altyd gebriek het en gevoel het om my eie ding in Pretoria te maak werk. Ek verwys na my Seksuologie loopbaan.

Maar maak nie saak hoe goed dit gegaan het met my studies, praktyk en Gesonde Seks bediening in die algemeen nie, daar was ’n deel – dalk ’n groot deel – van my wat gehunker het om Kaap toe te trek en deel van ’n suksesvolle kerk te word.

As gevolg van die feit dat ek en baie mense daar buite gedink het ek sal in my pa se voetspore volg en sy bediening oorneem eendag, het daar baie vyandskap in my ontstaan tussen myself en my swaer wat nou 2de in beheer is van my pa se gemeente. Ek was jaloers. Maar nog steeds wou ek nie deel raak van die kerk nie. Ek love hulle visie en deel hulle passie vir die Here en herlewing, maar dit is nie my eerste liefde nie. Dit is nie my visie of primêre passie nie.

Ten spyte van al hierdie gemengde gevoelens het ek besluit as hierdie Gesonde Seks ding nie vir my werk nie, sal ek maar ’n werk gaan soek daar by my ouers se gemeente in die Kaap. Dit was tot en met Desember 2012 toe ons daar vakansie gehou het.

Ek kon sien hoe my swaer die perfekte persoon is vir die job, ek kon regtig sien hoe hy nie net my pa se arms ondersteun in die gemeente nie, maar ook hoe hy in sy eie reg en bediening floreer. Ek het myself toe in daardie posisie gevisualiseer, soos wat ek al baie maal gedoen het, maar hierdie keer het ek nie oor die posisie gefantaseer nie, maar eerlik daarna gekyk. En tot die harde besef gekom dat ek nie daar pas nie. My hele manier van dink en redeneer is anderste. (Nie beter of slegter nie, net anderste.) En ek kon vir die eerste keer sien en verstaan wat ek nog die hele tyd gevoel het die Here vir my sê. Ek sal meer skade aan die gemeente se visie asook aan my eie passie veroorsaak as wat ek ’n hulp en vervulde lewe daar sal hê.

Ek kon vir die eerste keer my swaer in die oë kyk en vir hom in sy pos komplimenteer en gelukwens. Ek kon ook vir my ouers vry maak om te voel hulle moet vir my ’n plekkie oop hou. Want wat ek besef het, is dat ek wel die salwing van my pa ontvang het. Maar juis as gevolg van daardie spesifieke salwing sal dit nie werk vir my om onder ’n sisteem te ‘submit’ nie. (Ek submit wel onder mense en het wel mentors vir wie ek luister en wie ek toelaat om in my lewe in te spreek.)

My pa het vir 22 jaar pionier werk gedoen onder die Afrikaanssprekendes. As ’n Engelsman het hy die sisteem se reëls omseil en het Sondag na Sondag op die NG Kerk se kansel gestaan en preek. En as gevolg van hierdie Pionier-salwing wat ek van my pa geërf het, is my bediening nie as ’n pastoor of pastorale berader nie, maar as ’n Pionier wat iets probeer doen wat bitter min mense al probeer het om te doen: Om ’n taboe aan te spreek en dit uit die donker plekke uit te sleep en die lig van openbaring daarop te skyn, met die uitsluitlike doel om mense vry te maak. Vry van naïwiteit. Vry van skuld. Vry van oordeel en vry om te wil en mag seks geniet.

Ek gaan 2013 in, met ’n opgewondenheid en ’n afwagting dat die boodskap van Gesonde Seks menigtes sal vry maak.

Advertisements