Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Month: Mei, 2013

God se bouncers

bouncers

Ek het laas week weer my enkel geswik in ʼn plek waar jy nie eintlik ʼn voet verkeerd mag neer sit nie. Ek was so vinnig uitgehaal, eenkant geskuif en die deur op my toe gemaak dat ek by myself dink, “Maar wanneer het God vir Homself bouncers gekry?”

Daar is baie wat Christenskap behandel soos hulle eie eksklusiewe klub. Hulle besluit wie mag in kom en wanneer dit tyd is vir iemand om te loop. Ons verkondig op die advertensiebord “ALMAL* is welkom.” Maar ons bedoel eintlik almal wat aan die * terme en voorwaardes voldoen.

* By almal bedoel ons eintlik net die wat alreeds hulle sonde raak sien en bereid is om die bekerings pad te stap. Die wat nog in sonde wil bly, kom terug wanneer julle reg is om te erken julle is verlore. Want ons lees die verhaal van die verlore seun slegs vanaf vers 17, waar die verlore seun tot sy sinne kom. Ons lees nie die deel tussen vers 11-16 waar die Vader die seun toelaat en seën om in die wêreld te gaan nie. Nee, nee. Sulke almal’s is nog nie welkom nie.

Ongelukkig keer hierdie selfaangestelde bouncers nie net mense by die deur van Genade en Liefde nie, hulle besluit ook wie nie meer voldoen aan die Genade en Liefde terme en voorwaardes nie. (Wat? Terme en voorwaardes vir Genade en Liefde? Nou vertel jy my ʼn ding!)

Sodra ʼn kerkleier een voet verkeerd sit, waar jy nie eintlik mag loop nie. (En ja, daar is baie dinge waaroor die predikant nie oor MAG praat nie.) Of waar hy in ʼn oomblik van swakheid sy masker laat val, word daar vinnig-vinnig vergader, beraad en besluit sensuur of sumier skors is die enigste opsie. Want net masker mense moet ons lei.

Hierdie kerkleier wat vir jare sy bloed en sweet gegee het vir die gemeente word nou as ʼn melaatse hanteer. Waarom? Want hy het tog uit gekom om ook tog net mens te wees.

Die selfaangestelde bouncers van Christenskap neem hom by die agter deur van Wet en Geregtigheid uit, waar daar geen welkom matjie te vinde is nie. Die bouncers komplimenteer mekaar dat hulle nie toe laat dat 1 verdwaalde skaap die ander 99 skape verder kan mislei nie.

Nooit sal ek die opregtheid van enige van hierdie geestelike skoonmakers bevraagteken nie. Hulle dien God met alles wat in hulle is. Hulle beskerm die geloof met hand en tand. Hulle sal self sterwe vir dit waarvoor hulle glo.

Petrus en Saulus het ook op ʼn stadium hulleself gesien as God se bouncers.

Petrus het Jesus vermaan toe hy hoor hoe Jesus praat van die kruis. “Hierdie sal nooit met jou gebeur nie.” Jesus het egter die groter prentjie van liefde raak gesien en die kruis verduur.

Petrus het later (duidelik nie die boodskap van Liefde en Genade al gesnap nie), een van die mense wie Jesus gevange wou neem, se oor afgekap. Jesus het egter die groter prentjie van liefde raak gesien en sy vyand genees.

Saulus het nie net mense se ore afgekap wat nie wou luister nie, hy het mense dood gemaak wat met tradisie wou breek. Jesus het egter die groter prentjie van liefde raak gesien en Saulus gewys hoe blind hy werklik was.

God het ons nie geroep om meester oor mekaar te speel nie. Daar is geen bouncers nodig in God se koningryk nie. Hier is wat Jesus vir die Fariseërs (God se bouncers van die tyd) gesê toe hulle die sondaars en tollenaars rondom Jesus wou verwyder. “Diè wat gesond is, het nie ʼn dokter nodig nie, maar diè wat siek is. Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’”

So voordat ons weer iemand voorkeur by die deur van Liefde en Genade of wil agter uitskop by die deur van Wet en Geregtigheid, onthou God smag nie enige offers van jou nie, hy smag ontferming van jou vir almal vir wie Hy liefhet.

Kom ons ondersoek ons eie blindheid wanneer ons hierdie deel in die Boodskap vertaling saam lees.

Matteus 9:11-13

“Van die Jode wat die wet baie streng gehou het, het Jesus toe saam met al daardie mense aan die tafel gesien. Dit het hulle laat wonder of Hy dan soos daardie mense wou word, want ʼn mens eet mos net saam met goeie vriende. Hulle het by sy dissipels probeer uitvis: “Wat is Jesus besig om te doen? Wat leer hy julle? Waarom is hy so vriendelik met hierdie slegte mense dat hy selfs saam met hulle eet?” Hulle het die dissipels met vrae gepeper.”

v.12 “Jesus hoor dit toe en vra: “Wat dink julle moet ʼn dokter doen? Moet hy heeltyd die gesonde mense oppas? Of is sy plek by die siek mense vir wie hy iets kan beteken?”

v.13 “Die antwoord op hierdie vraag sal julle help om God se woorde te begryp: ‘Dit help nie julle broei mekaar warm in die kerk en hou mooi eredienste nie. Nee, Ek wil eerder hê julle moet mense help wat julle hulp regtig nodig het.’ Dink mooi hieroor na; dan sal julle verstaan wanneer Ek sê dat Ek nie hier is om mense wat klaar aan God gehoorsaam is weer na Hom te lei nie. Nee, dit is die mense wat nie van Hom weet wie se oë Ek graag vir God wil oopmaak.”

Soos ek die lees, wonder ek by myself, na wie het God werklik hierna verwys as die siek?

Die wat weet hulle is siek of die wat nie weet hulle is siek?

Wie se oë wil God oop maak?

Die wie Hom sien as liefde en genade?

Of die wie Hom sien as streng wetties?

Verdere lees:

Matteus 9:10-13

Matteus 16:22

Lukas 15:11-32

Johannes 18:10

Handelinge 9:1-19

Advertisements

Om jou kind by die skool aflaai.

GoingToSchool

Om jou kind by die skool af te laai is iets wat aan elke ouers se hartsnare trek. Die onderwyser het gevra dat die ouers nie meer saam met hulle 5jariges in loop tot die klaskamer nie, maar om vir hulle totsiens te sê by die hek. (So leer die kind selfvertroue) Ek laai elke oggend my dogtertjie af by die skool, sê vir haar totsiens, lekker dag en pappa is lief vir jou, by die hek.

Soms kry ek ’n soen ander dae nie. Dan hou ek haar dop hoe sy oor die speelterrein loop na haar klaskamer toe met haar groot tas op haar klein skouertjies, hoe sy straal van alles wat goed en mooi is in die lewe is.
Ek dink toe by myself dat dit is hoe God moet voel om Sy kinders die wêreld in te stuur met vrye wil. Hy soos elke ouer het deeglik ondersoek ingestel om net die regte skool vir jou kind te kies. So het God elke persoon in persies die regte familie geplaas vir die beste opvoeding. Hy staan by die hek en laat jou gaan met jou eie vrye wil, in by ‘n plek waar daar ander mense is ook los gelaat met hulle eie vrye wil.

Hy staan daar met liefde in sy hart en met ’n mate van kommer gaan jy okay wees.
Die versoeking om saam te gaan en jou kind se hand vas te hou is groot, maar die voordeel vir jou kind is klein. God het die mens gemaak om te floreer deur om te leer hoe om hulle unieke vrye wil toe te pas en gebruik. Soms gaan jy val en seer kry, soms sal jy ander maatjies stamp en slaan, soms sal die sisteem jou straf en dissiplineer, maar aan die einde van ’n lang “vrye wil” dag sal jou Abba Vader altyd daar by die hek staan met ope arms om jou met al die liefde en aanvaarding in die wêreld te ontvang en vas te hou en te verseker dat alles okay sal wees.

Waar sal ek God vind?

CloudsSunRays

Ek en Janet het onlangs weer ʼn gemeente besoek wie ons al twee van hou. (Sy dalk meer as ekke)

En wat vir my interessant was, was hoe verskillend ek en sy met God connect het. Ons het ʼn bietjie laat aangekom, so in die middel van die aanbidding. (Ons het nog nie genoeg tyd in gereken hoe lank dit ekstra neem om nog ʼn kind gereed te kry vir kerk en in die kar te laai nie.) Ek dink die antwoord lê daarin om ʼn kerk te kry wat twee oggend dienste het. As ons mik om betyds te wees vir die eerste diens behoort ons net-net dit te maak vir die tweede diens.

Die kerk was so te sê vol en ek het dadelik die mense in die kerk begin scan vir tekens van verwerping, seksuele trauma, gesonde huwelikspaartjies, rebelse tieners, ens. Janet aan die anderkant het met die intrapslag dadelik ʼn warmte in haar binneste gevoel, hoe haar gees lewendig word en saam met die gemeentelede in aanbidding spring. In daardie oomblik voel sy hoe al die gejaag van die oggend en die emosionele stres van die week, maand wegskuif en in konteks geplaas word van die groot EK IS.

Haar gees het voedsel gekry en dit het haar hele wese versadig.

Ek aan die ander kant het gedink aan my ouers gedink wat nou besig is om kerk te bou en hoe groot hulle die stage gaan wil maak. Dan het my gedagtes gespring na die kinderkerk by wie ek my oudste twee (wat eintlik nog baie klein is) gelos het. Ek moes eers ʼn vrywaringsvorm invul wat sê ek hou nie die kerk verantwoordelik vir enige iets wat sleg met my kind kan of gaan gebeur nie. Sjoe, miskien moet ons sulke vorms uitdeel op ons troudag. Na afloop van ons trou beloftes aanmekaar, “Liefie teken net gou hier wat my vrywaar van enige seer en skade wat ek aan jou gaan bring in ons getroude lewe.”

Vir Janet het die diens te kort gevoel, vir my heeltemal te lank.

Op pad terug huis toe, almal van ons in ʼn bietjie van ʼn semi-slaap-koma (die van julle wat nog nie kinders het nie, jy sal nie glo as ek vir jou sê hoe moeg hulle jou maak nie. Vandat ons nuutste dogtertjie gebore is gaan ek werk toe net om ʼn bietjie slaap te kry.)

Ek sit my vriend se nuwe CD aan in die kar, net om wakker te bly tot ek by die huis kom. (My vriend se CD as jy dit wil bekom is beskikbaar by alle CUM boekwinkels. Hennie Maritz, Duislig) Wat ʼn wonderlike CD.

Die musiek het pas begin die kar volmaak toe ek voel hoe ek met my God connect. My gees het eweskielik vanuit ʼn semi-slaap-koma en verveelde kerkdiens toestand tot aandag gespring en God as Skepper en Verlosser en Geneesheer, beleef. In daardie oomblik flits elke liewe kliënt van my deur my geestesoog en ek sien hoe God daar is met hulle. Ek sien elke bekommernisse van myne hoe dit in God se teenwoordigheid wegsmelt. Al my vrese verander dadelik in kleinighede. Die groot EK IS, het Homself aan my kom openbaar.

In daardie oomblik van worship musiek het my gees kos ontvang en my hele wese versadig.

Ek is omtrent in trane hoe ek voel hoe my binneste gloei van heerlikheid, toe ek Janet hoor sê van agter die kar, sit asseblief af die musiek want dit pla my baie.

My punt van hierdie storie, is dat die antwoord op hierdie vraag: “Waar sal ek God vind?” een is wat elke een vir hom/haarself moet beantwoord. En moenie skuldig voel of sleg voel as jy Hom vind op ʼn ander plek as die mense rondom jou nie. God stel belang om ʼn intieme en persoonlike konneksie met jou te maak. Dit is slegs wanneer ons doof en blind raak tot hierdie persoonlike konneksie dat God oorgaan om ons aandag op ʼn meer tradisionele breë-kam godsdienstige ritualistiese en wettiese metodologie te soek.

Vlermuis bedinges

BatMain03c

Ek is ʼn baie goeie meisies pappa, want ek leer hulle baie mooi hoe om te gril en skrik vir enige insekrige of slymerige dinge. “Is mamma okay?” sal hulle vra, nadat hulle die gegil hoor. Voordat ek het hulle met die greintjie oorblywende manlikheid kan antwoord, moet ek eers van die bank afklim waarop ek so vinnig beland het.

Nou ek het nie eintlik ʼn top 10 lysie van goggas wat ek die meeste voor skrik nie, almal is maar gelyk bo aan die lysie, maar daar is een gedierte wat my “batshit crazy” maak. ʼn Vlermuis. Ek hou nie eers van ʼn gewone muis nie, nou is daar een wat kan vlieg. Ag, nee, dis net een te veel. Moet ek nou kaas lokvalle van die plafon hang?

Ons het so rukkie gelede ʼn nuwe intrekker in ons dak gehad.

Rot? Nee.

Voël? Nee.

Inbreker? Nee.

Vlermuis? #$%&

So het die nog ʼn slapelose aand verby gegaan, waar ek na hierdie vlermuis moet luister hoe hy in my dak rond klouter en so elke nou en dan ʼn hoë sein nood los laat, net om seker te maak sy gasheer is nog wakker.

Moenie die verkeerde idee kry van my nie. Ek is darem nie so mal dat ʼn vlermuis in my dak my so uit my slaap kan hou vir geen rede nie. Daar is iets wat ek moet by voeg. Iets wat my bouer vergeet het om by te voeg. ʼn Deel van my plafon. In ons kamer het ons gegaan vir die sigbare dakkappe wat beteken ons het nie regtig ʼn plafon in die tradisionele sin van die woord nie. En bo ons badkamer waar die sigbare-dakkappe-dak en res-van-die-huis-dak by mekaar kom is een groot gat. ʼn Gat groot genoeg vir hierdie vlermuis om deur te kom, mits hy dit vind.

Ek moes van beter weet want die Bybel praat van dat wat ons vrees oor ons sal kom. Maar die vrees vir die vlermuis deur daardie gat was so outomaties. En op hierdie beskore aand het diè vrees my oorval. Ek en my vrou het nog nooit so styf aan mekaar in die bed geklou soos toe daardie vleiende muis oor ons bed fladder. Om en om en om.

Janet hardloop vir die deur en maak dit agter haar toe. Ek duik onder die lakens. Dit het nie saak gemaak dat my oë styf toe was en my kop onder die lakens was nie, ek kon die vlermuis se fynste beweging sien. Die vlermuis land toe reg langs my op die gordyn en klouter vinnig op tot bo aan die reëling. Ek waag dit om my kop van onder die lakens te haal en kyk waar hy is. So waar. Daar is die ding. Armlengte van my, bo die gordyne. Janet interpreteer my gille as “maak oop die deur” en ek is uit.

Nadat ons vir mekaar kans gegee het vir die meeste adrenalien om te sak het ons besluit om maar die aand in die spaarkamer te gaan slaap. Die vlermuis moet maar self sy eie gat weer vind.

Die volgende oggend met die sonsopkoms is ek ʼn bietjie meer braaf en gewapen met ʼn tennisraket sien ek kans om in die slaapkamer te betree. Dankie die Vader, die vlermuis is nie te vinde nie. Son sak sy gewone tyd en ek en Janet moet die lewensbelangrike besluit maak waar gaan ons vanaand slaap. Ons waag ons slaapkamer. Ligte af, nag soentjies, ore spits vir enige weggee tekens van ʼn herhaling van die vorige aand. 1minuut. 5minute. 10minute.

Al twee van ons spring op en uit die kamer. Die verdomde ding is nog iewers in ons kamer. Besluit om die man van die huis te wees en ʼn boer-maak-‘n-plan plan te maak. Storm in, ruk al die gordyne oop en maak die vensters wawyd oop. Hardloop uit en sluit die deur agter my. Nou het die vlermuis 3 meer exits om van te kies.

Nog ʼn aand in die spaarkamer. Dankie die Here vir ʼn spaarkamer.

Venster een.

Venster twee.

Venster drie en hy’s uit.

 

Die bouer kom toe uit daardie week om die gat in die dak toe te maak, nadat hy lekker gelag het vir my deeglike verduideliking oor die foon.

Soos enige goeie man moet ek self gaan kyk of die bouer sy werk reg gedoen het. Op met die leer, stamp amper die lamp om en krap so bietjie van die muur verf af soos wat ek die lang leer deur die gang stuur.

Dis die stadigste wat iemand al ooit die trapdoor oop gemaak het. Ek was oortuig dat die oomblik wat ek die deur oop maak en in die dak loer sal ek honderde vlermuise sien hang aan die dak soos druiwetrosse. Die dak was skoon.

Ek klim toe in en versigtig maak ek my pad oor na die gewese gat in die plafon. Te vrede met die werk wat die bouer verrig het sit ek vir ʼn oomblik op my hurke en bak in die gevoel van manlikheid wat oor ʼn mens kom wanneer jy in die dak doenig is. Net toe ek voel my manlike ego tenk is so te sê weer vol, sien ek iets beweeg in die hoek van my oog.

Ek sien hoe ʼn vlermuis uit ʼn nou opening tussen die plafon en dak uit kruip. Daar is nêrens anders vir hierdie vlermuis om te gaan behalwe verby my.

ʼn Duisend en een gedagtes flits deur my kop.

Ek spring op, draai om en besef ek kan nie hardloop nie ek is in die verdomde dak. (Wat maak ek hierso?)

Ek keer maar net dat ek nie op die geyser val nie, of om ʼn balk mis te trap nie, of om ʼn vlermuis in my hare te kry nie, trap ek op die naaste dwarsbalk… te hard. Ek hoor hoe die balk kraak en voel hoe hy onder my gewig meegee. Elke spier in my lyf skop styf om te keer dat ek deur die dak val. Ek gryp waar ek kan, gelukkig geen warm water pype nie, om my val deur die dak te keer.

“Liefie is jy okay?” Roep Janet van uit die kamer.

“So bietjie deur die dak geval.” Antwoord ek met een voet bo die stortkop.

“Het jy seer gekry?”… “Wat maak jy in die dak?”

“Nee, net my ego.”

 

Nadat ek besef ek is veilig en gaan nie heel te mal deur die dak val nie, onthou ek die rede vir hierdie paniekaanval. Die vlermuis.

Met een voet nog wat deur die plafon hang draai ek om, om te kyk waar die vlermuis is. Al wat ek waarneem is ʼn stukkie swart seil wat wapper in die plek waar ek kon sweer ek die vlermuis net ʼn oomblik gelede gesien het.

Verlig en verleentheid oor die verdomde vlermuis.

Nou is daar ʼn nuwe gat vir die vlermuis om te vind. Ek sal maar met my lig aan slaap vanaand.

Môre bel ek maar weer die bouer.

 

Die dieperliggende boodskap van die verhaal, indien jy opsoek is na een. Moenie dat jou vrese ʼn oorhand oor jou laat kry nie, want dit gaan net-nou ʼn gat van (vir) jouself maak.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kinders by Dosyne

Opvoedkundige komedie deur Timothy Kieswetter

WellnessseX

Understanding, Acceptance and Management of our sexual wellbeing

goeienuusloli

Ek deel myne...kom deel joune!

tamatieland

'n paar gedagtes

Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Timothy Kieswetter's Blog oor Gesonde Seksualiteit

Om 'n gesonde gesindheid rondom ons seksualiteit te ontwikkel.

%d bloggers like this: