Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Month: Junie, 2013

Jesus word nie afgeskrik deur erotika nie.

Female-Mannequin-A-10-

Ek wil graag drie gedagtes met julle deel.

ʼn Vergelyking.

ʼn Gebeurtenis.

En ʼn Skrifgedeelte.

Almal om dieselfde punt te illustreer dat erotika (raw seksualiteit) ons as Christene nie hoef af te skrik of te repulse nie.

Jy mag dalk vra: Waarom kan ons nie maar eerder so ver as moontlik van enige iets seksueel af wegbly nie, want kyk net hoe gaan dit in die wêreld?

Maar dit is juis die persoon wat niks gewoond is wat die meeste uithaak, of die persoon wat onder die meeste reëls is wat die hardste rebelleer.

Nadat God mens gemaak het, het hy gesê dit is goed. (Ek glo erotika was deel van daardie “goed”.)

En ek glo, en kan verseker getuig in my eie lewe was dit so, dat reëls, wette, sonde of eers selfbeheersing op ʼn goeie dag, nie my “drang” tot seksualiteit kon keer of wegneem nie. Ek was ʼn slaaf tot my seksualiteit.

Dit was eers toe hierdie “niks gewoond” naïewe persoon seksuologie begin studeer het dat ek kon leer hoe om my seksualiteit te verstaan, aanvaar en bestuur.

Ek is nou meester van my seksualiteit nie omdat ek so ver as moontlik daarvan weg bly nie, maar omdat ek vrede gemaak het met watse begeertes in my donkerkant wegkruip en geleer het hoe om dit te bestuur dat dit nie my lewe verwoes nie.

Ek glo wanneer ons weer die “goed” in erotika en raw seksualiteit kan sien sonder dat dit ons afskrik kan ons antwoord: “Here, ek stem saam dit is “goed”” sonder dat dit my moraliteit hoef in dwang te plaas nie.

vs.

“Wyk Satan, dit is “sies”!” En hard te werk  dat hierdie diep donker begeerte my gedagtes nie so begin oorheers dat ek slaaf raak tot iets wat nou groter as ek geword het.

So met dit in gedagte, om erotika weer in ʼn onbesoedelde lig te aanskou, deel ek dan nou met jou my drie gedagtes.

 

ʼn Vergelyking:

Seksuele etiek het oor die jare ontwikkel, beïnvloed so deur die jare heen deur seker individue wat maar ook met hulle eie issues geworstel het. In hierdie proses van lagie op lagie se seksuele taboe aan die een kant en seksuele losbandigheid aan die ander kant, raak ons blind vir erotika.

Erotika kan voorgestel word soos ʼn mannekyn in ʼn vertoon venster.

Leweloos, maar tog met soveel werklikheid.

Maar oor die jare sien ons haar nie meer vir wie en wat sy is nie. Al wat ons sien is mense wat klere op die mannekyn plaas en ander mense wat dit weer afruk. Die mannekyn word nou gebruik as ʼn wapen, iets om te beklee of iets om te ontbloot. Iets om te verwerp en iets om te misbruik.

Maar die mannekyn word nie meer gewaardeur nie, of selfs raak gesien nie.

Die “goed” is gevind in die mannekyn se naaktheid, sonder enige klere wat versteek of klere wat uitlig nie. Net eenvoudig goed,  die default setting, soos haar ontwerper haar gemaak het. Nie die “goed” wat sy word wanneer sy met klere beklee word, wat as mooi en aanvaarbaar geskou word nie.

“Goed” op haar eie.

Sonder om eers die status goed en mooi te kry wanneer sy in iets of iemand anderste transformeer.

“Goed” nes sy is.

 

‘n Gebeurtenis.

In die begin van my seksuologiese studies was baie van my pastoor vriende bekommerd en versigtig. Toe een van my goeie vriende die geleentheid kry om vir my te bid en ʼn tipe van innerlike genesing met my te doen, het hy gespring tot die geleentheid.

In hierdie spesifieke terapie moet jy rustig word en jou oë toe maak en beskryf wat in jou gedagtes opkom. Aan die einde van jou herleef en beskrywing van wat jy voor jou sien, sal die fasiliteerder dan sê dat jy nou moet visualiseer dat God in die prentjie kom. Wat sê Hy? Wat doen Hy? Hoe verander Hy jou prentjie?

Die oomblik wat ek my oë toe gemaak het, sien ek die onderkant van ʼn vrou se lyf. Dadelik weet ek hierdie is Eva. Ek sien hoe ek as ʼn jong seuntjie “stout” onder die dame se rok op kyk en glimlag.

My pastoor vriend moes gedink het dat hierdie was waar ek my genesing van hierdie seks-besigheid gaan kry. En met so veel hoop sê hy: “Nou visualiseer hoe God die prentjie betree. Wat sê Hy? Wat doen Hy? Hoe verander Hy jou prentjie?”

Op daardie oomblik verander my prentjie en ek begin hard op lag met my oë nog styf toe.

“Wat sien jy?” vra my pastoor vriend angstig.

“Is jy seker jy wil weet?” vind ek uit.

Hy sê ja.

“Ek sien hoe God langs my kom kniel en ook onder die rok op kyk.”

Dit was die einde van daardie sessie! My pastoor vriend het ook nog nie weer hierdie spesifieke tegniek op iemand anderste gedoen nie, want dit het duidelik nou nie gegaan soos wat hy gedink het dit so gaan nie.

Sien, ek glo nie erotika skrik God af of hoef my af te skrik nie.

 

 

ʼn Skrifgedeelte.

In Lukas 7:36-50 (gaan lees dit gerus), vind ons waar Jesus by ʼn Fariseër se huis kuier. Halfpad deur die kuier storm daar ʼn “goedkoop” vrou in met ʼn baie slegte reputasie. In ander woorde, ʼn prostituut. Sy gaan staan by Jesus se voete en begin ween.

Haar trane val op Jesus se voete.

Sy maak haar hare los.

Sy gooi gegeurde olie oor Sy voete.

Sy was Sy voete met haar los hare.

Hierdie het die Fariseër en almal wie dit gesien het baie kwaad gemaak en ontstel. Hoe kon Jesus toelaat dat “so” ʼn vrou aan hom vat?

Jesus het haar nie gestop nie, haar toegelaat om te doen wat sy wou doen, want Hy het haar hart gesien en nie vasgekyk in haar verlede of in wat sy gedoen het nie.

Om te verstaan hoekom almal so omgekrap was, moet ons die kultuur van die tyd verstaan. ʼn Vrou in daardie tyd mag nie met los hare rond geloop het nie, want dit was direk gekoppel aan haar seksualiteit. Tot vandag toe is daar sommige kulture wat die vrou verbied om haar hare voor mans los te dra, maar vir die meeste kulture vandag het hare sy seksualiteit verloor.

So wat hierdie prostituut kom doen het deur om nie net haar hare voor Jesus los te maak en dit vir hom te wys nie, maar ook om haar los hare te gebruik om sy voete te was, was die erotiese ekwivalent van ʼn lap dance vandag.

Geen wonder die mense het uitgefreak nie!

Wat sy doen is duidelik verkeerd.

Wat sy doen is duidelik wellus.

Wat sy doen is duidelik eroties.

Wat sy doen is duidelik vleeslik.

Maar dank God, Jesus het dit nie daaraan vas gekyk nie.

Wat Hy gesien het is iemand wat uitroep na Hom, wat na liefde en aanvaarding smag en dit probeer kry deur die beste en enigste maniere wat sy ken.

As Jesus haar daar en dan uitgewys het op haar “onvanpaste” gedrag, sou sy meer stukkend daar weg stap en nog dieper in die swartgat van prostitusie verval het.

 

Nie altyd is ‘n persoon se aksies ‘n ware refleksie van die persoon se hart nie.

Soms ook word erotika op gedress om iemand seer te maak.

Vir lank het ek weg gehardloop van erotika, maar hoe meer ek weg gehardloop het, hoe groter het my begeerte geraak na die verbode vrug.

Nou kan ek erotika waardeer en erken sonder dat dit ‘n hou vas op my het of my lewe verwoes.

Advertisements

My herhaalde droom waar ek en my pa mekaar met vuiste slaan

fight

Drome is vir my belangrik en is baie keer die eerste leidraad tot hoe jy werklik diep binne voel. En wanneer jy jou tema drome kan identifiseer, is jy so veel nader om jou siel-mens te verstaan. In die laaste jaar of so het ek ʼn nuwe tema droom begin ontwikkel. Een wat altyd deur dieselfde gebeurtenisse getrigger word en wat min of meer dieselfde trant volg.

As ek kan bieg, ek hou glad nie van die nuwe tema in my drome nie en ook nie die uitleg daarvan nie.

Die nuwe droom tema: Ek en my pa baklei, skree op mekaar en eindig om vuis te slaan. (Die drome eindig nooit met ʼn wenner of met ʼn oplossing nie.)

Die droom:

Die nuutste episode in die “Baklei met my pa” reeks het ek net ʼn paar aande gelede gedroom.

Ek was tronk toe gestuur vir ʼn seksuele wandaad. Ek was gevang tydens masturbasie of so iets.

My vonnis? 8jaar in die tronk!

Toe ek my 8jaar vonnis voltooi het, het ek terug huis toe gegaan waar my familie was. In die droom het ek twee susters en ‘n broer gehad. Wie ek almal in die bed saam gevind het besig met ‘n threesome. Ek het dadelik toe na hulle geloop en baie emosioneel hulle vermaan. Ek het my twee susters 3 keer elkeen met die plathand in die gesig geslaan en my broer 3 keer met die vuis.

Ek skree op hulle dat hulle weet nie wat hulle doen nie. Ek het 8jaar gekry vir ietsie kleins, wat gaan hulle kry? Maar hulle het my net aangekyk asof hulle iets weet wat ek nie van bewus was nie.

Met trane wat by my wange afrol loop ek na my ouers se kamer toe en probeer myself kalmeer om vir hulle die skokkende nuus te vertel. Al wat ek kon uiter deur die snikke is dat ek my broer en susters geslaan het. Dit het dadelik my pa briesend gemaak. Hy het oor die bed gespring en my begin slaan. Ek keer en sê: “Laat ek net verduidelik. Laat ek net #*@ verduidelik. #@* laat ek praat.”

Tussendeur die houe verduidelik ek dat ek my broer en susters in die bed saam gekry het besig met ‘n threesome. My pa hou my op slaan en gee so paar tree terug. Sy antwoord lui nog in my ore:

“Dis tegnies nie ‘n threesome nie, want hulle het nie ‘n videotape daarvan gemaak en dit as porn verkoop nie.”

Die droom eindig waar ek stukkend, emosioneel, geestelik en vleeslik daar staan in die absolute ongeloof dat hierdie bloedskande threesome oorkyk word.

 

My Interpretasie

Hierdie tema drome waar ek en my pa baklei het niks te doen met my verhouding tussen my en my pa nie. Dankie tog! Ons verhouding is sterk, ons gesels gereeld, ons ondersteun mekaar en is lief vir mekaar.

Maar ongelukkig verteenwoordig my pa in my drome die leierskap van die kerk.

En die trigger vir hierdie tema drome is elke keer wanneer ek en iemand in die kerk baklei.

Die broer en susters in die droom is ook nie my regte suster nie, maar my geestelike broers en susters.

Die huis waarnatoe ek terug gekom het na my tyd in die tronk, en wat nog steeds my begeerte is om te wees en werk (bedien), is die kerk.

Dit is in hierdie huis (kerk) waar ek my broers en susters en my ouers (leierskap, reëls, etiek en dogma) vind.

Toe ek begin het met my Gesonde Seks bediening so 5 jaar gelede het dit vir my gevoel of ek tronk toe gestuur word vir hierdie “lus” wat ek nou mee gevang is.

Ek voel nie meer so nie. Ek is gemaklik in my Gesonde Seks roeping en lus vir my is nie ‘n lelike ding nie. So ek voel nie meer asof ek in die tronk is nie. (Dalk wil my ‘familie’ my nog in die tronk hê, maar ek is nie meer in my eie tronk nie.) My begeerte was en is nog steeds om die Gesonde Seks boodskap in die kerk vir my broers en susters te verkondig.

Wat ek ongelukkig oor en oor vind in my spreekkamer is die hoer en rumoer van my geestelike broers en susters en die absolute “Sshhhh” van die kerk.

Dit maak nie vir my sin wanneer een van die grootste gemeentes in Suid Afrika hulle huweliksfokus bediening beëindig nie. Die 5 grootste gemeentes in Pretoria het almal vir my dieselfde gesê toe ek gratis my dienste as ‘n seksuoloog aanbied. “Nee, toemaar ons mense het nie seks probleme nie.”

Goed om te weet, maar jy lieg vir jouself!

Die antwoord is nie dat die kerk net meer moet toelaat om oor seks te praat nie, sy moet heeltemal haar siening rondom seks verander. Want sy fokus om seksuele wandade tronk toe te stuur, maar die eintlike vrot te ignoreer.

Vanoggend in die stort snap ek iets. Dalk is sy vas gevang in ‘n gevoel van moedeloosheid en hulpeloosheid om die bloedskande-vrot te hanteer en genees dat sy oorreageer om al die “klein” seksuele wandade hard te vonnis.

Sy het baie om te sê en haar etiek is duidelik oor masturbasie, sex toys, pornografie en seks voor die huwelik, (Waar ek tot vandag toe GEEN verse in die Bybel vind wat enige van hierdie 4 eers noem nie), maar die affairs, egbreek en intiemlose huwelike (wat die Bybel wel magdom van verse oor het), maar eerder onder die mat vee. Want gelukkig het ons nou nie ‘n movie daarvan gemaak nie!

 

Dalk moet ek ophou so hard probeer om my broers en susters op hulle ongesonde seks uit te wys en terug gaan tronk toe –  ‘die wêreld’ – wat onder geen illusies is van die seksuele dade wat daar aangaan nie. (Verduidelik die soap-on-a-rope), want duidelik niemand in my “huis” het enige seksuele probleme nie.

“Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.” – Markus 2:17

 

 

Jammer ek het so baie mense mislei

mislei

Ons almal het al dinge gedoen waaroor ons nie trots is nie en as ons die kans gegun word, sou ons spring om dit anderste oor te doen.

Ek het al van ‘n jong ouderdom meer belang gestel om te lei as om te volg. Ek het die ander dag my kleuterskool verslag in ‘n boks ontdek. Dit het gesê, “Timothy geniet dit om speletjies uit te dink en vir sy vriende te vertel hoe hulle dit moet speel.”

Saam met hierdie leierskap posisie (al was dit ‘n selfaangestelde posisie) het daar ook baie verantwoordelikheid mee saam gekom. Ek was deur my kleuterskooljare, laerskool en hoërskooljare baie bewus van die verantwoordelikheid. Dit het swaar op my skouers gerus. En ek het dit baie ernstig opgeneem. Hierdie swaar las om die (selfaangestelde) leier te wees van almal rondom my het ‘n baie diep identiteit in my gevorm.

Dit was my Godgegewe (nie meer selfaangestelde posisie nie) plig om die mense rondom my in die waarheid in te lei.

Elke aksie, optrede en gesprek wat ek gehad het was gemotiveer deur hierdie God-gegewe verantwoordelikheid om mense te lei.

Ek onthou een van die vroegste gevalle waar dit my verantwoordelikheid was om geregtigheid te laat skiet. Ek was in St5 en voor my het een van my vriende gesit, Johan Fourie. Soos kinders maar is het Johan baie kinderagtig opgetree, wat my baie geïrriteer het. Hy het terug geleen op sy stoel en my tafel gestamp. Hierdie het ‘n snaakse speletjie geword vir hom, want hy kon sien hoe dit my vreeslik gepla het. Die stampe het al hoe harder en meer gereeld geword, soveel so dat my penneblikkie van die tafel af geval het en die inhoud daarvan het oor hele klaskamervloer geskiet. Op daardie oomblik skop ek sy stoel so hard dat hy langs die meisie voor hom inskuif.

Natuurlik net op daardie oomblik sal die juffrou haar kop optel en sien wat ek gedoen het. Maak nie saak hoe ek probeer verduidelik dat Johan alles begin het nie, was ek uit gevang en gestraf. Hierdie duidelike onreg het my bloed so laat kook en ek was seker die Here was netso omgekrap oor die onregverdigheid van wat gebeur het, dat ek met soveel oortuiging in my hart vir Johan gesê: “Jesus, maak hom dood.”

My verantwoordelikheidsgevoel om geregtigheid te laat skiet het dalk nou nie Johan dood gemaak nie, maar dit het ons vriendskap dood gemaak.

Ook in St5 het ek ‘n uitval gehad met een van my ander vriende, Jacques Kruger. Ek kan nie onthou waaroor ons aan die stry geraak het nie, maar dit het vinnig geëskaleer in baie groot geveg. Al wat ek kan onthou is dat ek reg was en hy verkeerd was. En dit my so gepla het dat hy nie kon erken ek was reg en hy verkeerd. Ek het toe gevoel dit was my verantwoordelikheid om vir hom uit te wys dat iemand wat lieg nie hemel toe sal kan gaan nie, maar hel toe. Hierdie waarheid het hy nie baie goed geneem nie, en vir my gesê dit is ek wat hel toe sal gaan. Hierdie het my net verder opgewen want duidelik is ek die een met die verhouding met die Here. Ek gaan hemel toe en hy hel toe. So het ons vir meer as 5minute vir mekaar gesê, “Nee, jy gaan hel toe.” “Nee, jy”, “Jy!”

Ek het selfs gebid vir die Here om Jacques se oë oop te maak tot die feit dat hy hel toe gaan en ek hemel toe. Ek het toe agter gekom ek nie die argument gaan kan wen nie, en het hom maar net met die laaste bietjie waarheid gelos. “Wel as jy eendag doodgaan sal jy sien ek was reg en jy verkeerd.”

My verantwoordelikheidsgevoel om leuenaars te wys hulle gaan hel toe, het dalk nou nie Jacques hel toe gestuur nie, maar dit het ons vriendskap vernietig.

Op hoërskool het my verantwoordelikheidsgevoel net al hoe sterker en sterker gegroei. Seker omdat die mense rondom my gehoer en rumoer het. My absolute beste vriend vir meer as 4 jaar, Danie Prinsloo, het in St9 besluit om nuwe vriende te kry. Alhoewel ek nie presies geweet het wat hierdie nuwe vriende van hom alles gedoen het nie, was ek seker dit was alles sedelike dinge. Na my mening het Danie nie net sy rug gedraai op my nie, maar ook op God. (Want Jesus lewe tog mos in my.)

Hierdie verwerping en sondige gedrag het vir my geen ander opsie gegee nie, behalwe om Danie soos ʼn melaatse te behandel. Dit was my verantwoordelikheid om vir hom duidelik te maak dat as hy nie glo soos ek glo en dinge doen soos ek dit doen nie, is daar geen vriendskap nie. Vir ons hele Matriek jaar het ek hom geïgnoreer. Nie vir hom gekyk nie, nie met hom gepraat nie, nie eers sy bestaan erken nie.

My verantwoordelikheidsgevoel om my beste vriend te wys op sy “sondige” dade, het toe nou nie Danie gebring tot inkeer nie, maar het ons vriendskap beëindig.

In my Matriek jaar het ek my preek stem gevind. Ek het nie net met ‘n Bybel onder my arm geloop nie, maar met die Woord op my spacecase. My spacecase was daardie met ‘n deurskynende deksels, sodat jy prentjies en foto’s kon in sit. Daar was hierdie een spesifieke ou in my klas, Johan Kogh. Volgens my ‘n baie duidelike verlore seun. Hy het altyd ‘n gewoonte gehad om verby my tafel te loop en my nuutste prentjies en foto’s op my spacecase te kyk. Dit het swaar op my skouers gerus om hom uit te wys op sy “verlore” status. By die huis print ek my eerste preek uit en sit dit op my kansel (spacecase).

1 Korintiërs 6:9-10

 Or do you not know that wrongdoers will not inherit the kingdom of God? Do not be deceived:Neither the sexually immoral nor idolaters nor adulterers nor men who have sex with men nor thieves nor the greedy nor drunkards nor slanderers nor swindlers will inherit the kingdom of God.”

(Ek het die woord drunkards in mooi groot font en bold gemaak net, om seker te maak niks word gemis nie.)

Nes ek dit beplan het, (of soos die Here dit gelei het) sit ek eerste, spacecase uit gehaal en op die tafel geplaas. Johan stap in en soos gewoonte hou stil by my tafel en draai my spacecase om en lees wat daarop staan. Ek kan nie begin om die satisfaksie te beskryf wat ek in daardie oomblik gevoel het soos wat hy die waarheid om my spacecase lees. Ek het gevoel hoe die Here so trots is om my dat ek nie skaam is om Sy boodskap te versprei nie.

Nadat hy dit gelees het, het hy my in my oë gekyk, die spacecase terug gedraai en sy skouers opgetrek. In daardie oomblik het ek die grootste openbaring ontvang van my lewe. Een wat ek nie daardie dag ten volle sou kon inneem nie, maar een wat tot vandag toe nog in my hart werk.

Ek kan nie beskryf wat ek raak gesien het in Johan se oë nie, maar al wat ek kan onthou is die geweldige skaam gevoel wat oor my gespoel het. Skaam vir wat ek gedoen het.

My verantwoordelikheidsgevoel om Johan op sy dronkenskap uit te wys, het nou nie hom gehelp om minder te drink nie, maar dit het ‘n potensiële vriendskap gestop.

 

As ek nou daaroor terug dink kom ek agter ek was verantwoordelik teenoor die verkeerde persoon. Ek het geglo dit was my verantwoordelikheid teenoor God om mense na Hom te lei. Maar hoe ek die Woord en Evangelie nou verstaan kom ek agter dat my verantwoordelikheid is teenoor my naaste om God aan hulle te openbaar.

Godsdiens, (altans die reëls daarvan) het geen effek buite of sonder ‘n verhouding nie. Dit wat God vir ons het, dit wat Hy vir ons vra om vir mekaar te gee, is onvoorwaardelike liefde en respek wat in vriendskap manifisteer. Ek was nie lief vir hierdie mense vir wie ek voor gepreek het nie. Ek was nie lief vir die mense wie ek in die hemel wou kry nie. Ek was lief vir die idee om God se werker te wees. Ek was lief vir hoe dit my laat voel het.

Om waarlik lief te wees vir iemand is nie om hulle op hulle foute uit te wys nie, maar om daar by hulle te wees, ten spyte van hulle foute.

So aan Johan Fourie, Jacques Kruger, Danie Prinsloo en Johan Kogh, ek is jammer ek het julle mislei deur om te laat lyk asof genade en liefde verdien moet word. Eks jammer ek het julle mislei deur om vir julle te preek en nie julle te bevriend nie. Eks jammer ek het julle mislei dat ek die waarheid het en julle kortskiet.

Maar dankie vir julle wat deur al my hoogmoed gesuffer het, om aan my te openbaar die belangrikste waarheid: Vriendskap. Liefde. Genade.

 

“Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword.

Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.

Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.”1 Korintiërs 13:1-3

Kinders by Dosyne

Opvoedkundige komedie deur Timothy Kieswetter

WellnessseX

Understanding, Acceptance and Management of our sexual wellbeing

goeienuusloli

Ek deel myne...kom deel joune!

tamatieland

'n paar gedagtes

Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Timothy Kieswetter's Blog oor Gesonde Seksualiteit

Om 'n gesonde gesindheid rondom ons seksualiteit te ontwikkel.

%d bloggers like this: