Jammer ek het so baie mense mislei

by Timothy Kieswetter

mislei

Ons almal het al dinge gedoen waaroor ons nie trots is nie en as ons die kans gegun word, sou ons spring om dit anderste oor te doen.

Ek het al van ‘n jong ouderdom meer belang gestel om te lei as om te volg. Ek het die ander dag my kleuterskool verslag in ‘n boks ontdek. Dit het gesê, “Timothy geniet dit om speletjies uit te dink en vir sy vriende te vertel hoe hulle dit moet speel.”

Saam met hierdie leierskap posisie (al was dit ‘n selfaangestelde posisie) het daar ook baie verantwoordelikheid mee saam gekom. Ek was deur my kleuterskooljare, laerskool en hoërskooljare baie bewus van die verantwoordelikheid. Dit het swaar op my skouers gerus. En ek het dit baie ernstig opgeneem. Hierdie swaar las om die (selfaangestelde) leier te wees van almal rondom my het ‘n baie diep identiteit in my gevorm.

Dit was my Godgegewe (nie meer selfaangestelde posisie nie) plig om die mense rondom my in die waarheid in te lei.

Elke aksie, optrede en gesprek wat ek gehad het was gemotiveer deur hierdie God-gegewe verantwoordelikheid om mense te lei.

Ek onthou een van die vroegste gevalle waar dit my verantwoordelikheid was om geregtigheid te laat skiet. Ek was in St5 en voor my het een van my vriende gesit, Johan Fourie. Soos kinders maar is het Johan baie kinderagtig opgetree, wat my baie geïrriteer het. Hy het terug geleen op sy stoel en my tafel gestamp. Hierdie het ‘n snaakse speletjie geword vir hom, want hy kon sien hoe dit my vreeslik gepla het. Die stampe het al hoe harder en meer gereeld geword, soveel so dat my penneblikkie van die tafel af geval het en die inhoud daarvan het oor hele klaskamervloer geskiet. Op daardie oomblik skop ek sy stoel so hard dat hy langs die meisie voor hom inskuif.

Natuurlik net op daardie oomblik sal die juffrou haar kop optel en sien wat ek gedoen het. Maak nie saak hoe ek probeer verduidelik dat Johan alles begin het nie, was ek uit gevang en gestraf. Hierdie duidelike onreg het my bloed so laat kook en ek was seker die Here was netso omgekrap oor die onregverdigheid van wat gebeur het, dat ek met soveel oortuiging in my hart vir Johan gesê: “Jesus, maak hom dood.”

My verantwoordelikheidsgevoel om geregtigheid te laat skiet het dalk nou nie Johan dood gemaak nie, maar dit het ons vriendskap dood gemaak.

Ook in St5 het ek ‘n uitval gehad met een van my ander vriende, Jacques Kruger. Ek kan nie onthou waaroor ons aan die stry geraak het nie, maar dit het vinnig geëskaleer in baie groot geveg. Al wat ek kan onthou is dat ek reg was en hy verkeerd was. En dit my so gepla het dat hy nie kon erken ek was reg en hy verkeerd. Ek het toe gevoel dit was my verantwoordelikheid om vir hom uit te wys dat iemand wat lieg nie hemel toe sal kan gaan nie, maar hel toe. Hierdie waarheid het hy nie baie goed geneem nie, en vir my gesê dit is ek wat hel toe sal gaan. Hierdie het my net verder opgewen want duidelik is ek die een met die verhouding met die Here. Ek gaan hemel toe en hy hel toe. So het ons vir meer as 5minute vir mekaar gesê, “Nee, jy gaan hel toe.” “Nee, jy”, “Jy!”

Ek het selfs gebid vir die Here om Jacques se oë oop te maak tot die feit dat hy hel toe gaan en ek hemel toe. Ek het toe agter gekom ek nie die argument gaan kan wen nie, en het hom maar net met die laaste bietjie waarheid gelos. “Wel as jy eendag doodgaan sal jy sien ek was reg en jy verkeerd.”

My verantwoordelikheidsgevoel om leuenaars te wys hulle gaan hel toe, het dalk nou nie Jacques hel toe gestuur nie, maar dit het ons vriendskap vernietig.

Op hoërskool het my verantwoordelikheidsgevoel net al hoe sterker en sterker gegroei. Seker omdat die mense rondom my gehoer en rumoer het. My absolute beste vriend vir meer as 4 jaar, Danie Prinsloo, het in St9 besluit om nuwe vriende te kry. Alhoewel ek nie presies geweet het wat hierdie nuwe vriende van hom alles gedoen het nie, was ek seker dit was alles sedelike dinge. Na my mening het Danie nie net sy rug gedraai op my nie, maar ook op God. (Want Jesus lewe tog mos in my.)

Hierdie verwerping en sondige gedrag het vir my geen ander opsie gegee nie, behalwe om Danie soos ʼn melaatse te behandel. Dit was my verantwoordelikheid om vir hom duidelik te maak dat as hy nie glo soos ek glo en dinge doen soos ek dit doen nie, is daar geen vriendskap nie. Vir ons hele Matriek jaar het ek hom geïgnoreer. Nie vir hom gekyk nie, nie met hom gepraat nie, nie eers sy bestaan erken nie.

My verantwoordelikheidsgevoel om my beste vriend te wys op sy “sondige” dade, het toe nou nie Danie gebring tot inkeer nie, maar het ons vriendskap beëindig.

In my Matriek jaar het ek my preek stem gevind. Ek het nie net met ‘n Bybel onder my arm geloop nie, maar met die Woord op my spacecase. My spacecase was daardie met ‘n deurskynende deksels, sodat jy prentjies en foto’s kon in sit. Daar was hierdie een spesifieke ou in my klas, Johan Kogh. Volgens my ‘n baie duidelike verlore seun. Hy het altyd ‘n gewoonte gehad om verby my tafel te loop en my nuutste prentjies en foto’s op my spacecase te kyk. Dit het swaar op my skouers gerus om hom uit te wys op sy “verlore” status. By die huis print ek my eerste preek uit en sit dit op my kansel (spacecase).

1 Korintiërs 6:9-10

 Or do you not know that wrongdoers will not inherit the kingdom of God? Do not be deceived:Neither the sexually immoral nor idolaters nor adulterers nor men who have sex with men nor thieves nor the greedy nor drunkards nor slanderers nor swindlers will inherit the kingdom of God.”

(Ek het die woord drunkards in mooi groot font en bold gemaak net, om seker te maak niks word gemis nie.)

Nes ek dit beplan het, (of soos die Here dit gelei het) sit ek eerste, spacecase uit gehaal en op die tafel geplaas. Johan stap in en soos gewoonte hou stil by my tafel en draai my spacecase om en lees wat daarop staan. Ek kan nie begin om die satisfaksie te beskryf wat ek in daardie oomblik gevoel het soos wat hy die waarheid om my spacecase lees. Ek het gevoel hoe die Here so trots is om my dat ek nie skaam is om Sy boodskap te versprei nie.

Nadat hy dit gelees het, het hy my in my oë gekyk, die spacecase terug gedraai en sy skouers opgetrek. In daardie oomblik het ek die grootste openbaring ontvang van my lewe. Een wat ek nie daardie dag ten volle sou kon inneem nie, maar een wat tot vandag toe nog in my hart werk.

Ek kan nie beskryf wat ek raak gesien het in Johan se oë nie, maar al wat ek kan onthou is die geweldige skaam gevoel wat oor my gespoel het. Skaam vir wat ek gedoen het.

My verantwoordelikheidsgevoel om Johan op sy dronkenskap uit te wys, het nou nie hom gehelp om minder te drink nie, maar dit het ‘n potensiële vriendskap gestop.

 

As ek nou daaroor terug dink kom ek agter ek was verantwoordelik teenoor die verkeerde persoon. Ek het geglo dit was my verantwoordelikheid teenoor God om mense na Hom te lei. Maar hoe ek die Woord en Evangelie nou verstaan kom ek agter dat my verantwoordelikheid is teenoor my naaste om God aan hulle te openbaar.

Godsdiens, (altans die reëls daarvan) het geen effek buite of sonder ‘n verhouding nie. Dit wat God vir ons het, dit wat Hy vir ons vra om vir mekaar te gee, is onvoorwaardelike liefde en respek wat in vriendskap manifisteer. Ek was nie lief vir hierdie mense vir wie ek voor gepreek het nie. Ek was nie lief vir die mense wie ek in die hemel wou kry nie. Ek was lief vir die idee om God se werker te wees. Ek was lief vir hoe dit my laat voel het.

Om waarlik lief te wees vir iemand is nie om hulle op hulle foute uit te wys nie, maar om daar by hulle te wees, ten spyte van hulle foute.

So aan Johan Fourie, Jacques Kruger, Danie Prinsloo en Johan Kogh, ek is jammer ek het julle mislei deur om te laat lyk asof genade en liefde verdien moet word. Eks jammer ek het julle mislei deur om vir julle te preek en nie julle te bevriend nie. Eks jammer ek het julle mislei dat ek die waarheid het en julle kortskiet.

Maar dankie vir julle wat deur al my hoogmoed gesuffer het, om aan my te openbaar die belangrikste waarheid: Vriendskap. Liefde. Genade.

 

“Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword.

Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.

Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.”1 Korintiërs 13:1-3

Advertisements