Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Month: September, 2013

My vyande kan maar gaan vlieg.

button_enemies

Daar is seker niemand ouer as 16jaar wat nie weet hoe dit voel om ʼn mes in hulle rug gesteek te hê nie. Die pyn, seer en hartskrampe wat veroorsaak word deur die mense wie jy naby jou toe laat, wie jy vertrou en na op kyk, lief het en respekteer, wat vir geen verklaarbare logiese rede op jou draai en jou so seer maak, so kul, so bedrieg en so ʼn deel van jou naïewe mense nog so bietjie meer doodmaak.

Ek het onlangs deur so ʼn “Et tu Brute” oomblik gegaan. Ek sal graag hier vir jou wou skryf alles is nou weer reg en ons sing almal nou weer saam Kumbaya. (Maar ek sing glad nie, nie eers as ek happy is nie.) Maar ek het so paar dinge hier in geleer. (Dit is een van my lewens motto’s, leer wat ek kan waar ek kan. Hierdie filosofie het egter eers na hoërskool in geskop.)

Van die begin af het ek geweet ek is nie lus om terug te baklei nie. (Nog nooit enige iets goeds was al deur terug bakleiery verkry nie.) So ek het deur ʼn innerlike reis gegaan om deur my emosies te werk.

Omdat ek ʼn Christen is, is my default om God orals te wil in bring, maar ongelukkig is my vyande ook Christene en hulle het ook God in gebring. (Go figure!)

Nou kom die skrif die hele tyd by my op van Matteus 5:43-44

“Julle het gehoor dat gesê is: ‘Jy moet jou eie mense liefhê, maar jy hoef nie jou vyand lief te hê nie.’ Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir diè wat julle vervolg.”

My goeie vriend het my uitgedaag om elke dag vir hierdie spesifieke persone te bid en te seën.

Ek vertel hom toe dit is nie ʼn probleem nie, ek bid elke dag vir hulle dat hulle die error in hulle ways sal sien. Ek bid dat hulle tot bekering sal kom. Ek bid dat hulle tot inkeer sal kom. Ek bid dat hulle sal sien hoe belangrik ek is.

Hoe maklik is dit nie om dinge oor ons te maak nie?

Die rede hiervoor is omdat emosies is soos die zoom in knoppie op ʼn kamera. Die emosies gaan jou insluk dat al wat jy kan sien en voel is die intense pyn wat hulle aan JOU gedoen het. En dan wanneer jy selfs God inbring, al waaroor jy kan bid, preek, spreek, lees, beleef is jouself. Maar hierdie is self vernietigend wat die lewe gaan nie regtig oor ons nie, ons is nie so belangrik nie, en dit is wat Jesus in sy teaching vir ons probeer uitwys.

As jy vervolg word, moenie dit oor jou, maak nie, bid vir hulle.

En dit is nie die tipe gebed wat ek aan die begin gebid het nie. Want daardie gebed is nie eintlik enige iets naby aan die seën gebede wat God van ons verwag om te doen nie. Dit is selfsugtige gebede, waar ons God aan ons kant maak. Daarom kan twee Christen baie hard en lank met mekaar verg en al twee voel hulle het God aan hulle kant.

Ek dink God se antwoord vandag is steeds dieselfde as wat hy vir Josua geantwoord het in Josua 5:13-14

“Josua was in die omgewing van Jerigo toe hy skielik ʼn man voor hom sien staan met ʼn swaard in sy hand. Josua het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Is jy ons vriend of ons vyand?”

“Nie een nie.” antwoord die Man.

Ons moet versigtig wees om die Here in te sleep in ons gevegte. Hy gaan nie kant kies nie. Hy is bo dit. Hy is lief vir almal en genadig vir ons vyande ook.

God wil hê ons moet ophou die zoom in knoppie druk op ons pyn en seer, want al wat dit ons maak is bitter, selfsentrerend, selfsugtig en oortuig God is net vir my.

Om genees te word, om gesonde te wees, om ʼn lewe van oorvloed te geniet moet ons konstant die zoom uit knoppie druk, sodat ons perspektief kan kry. En sodra ons sien dit gaan nie oor ons nie, ek is nie die belangrikste nie, dan weer ons waarlik het ons begin om perspektief te kry.

En Matteus 5:44 verduidelik vir ons hoe om uit te zoom.

Seën bid vir die wat jou vervolg.

“Here seën hulle.” Is nie goed genoeg nie. Want jou hart sal hulle graag wil seën met aambeie.

Spesifieke seën gebede.

“Here, seën hulle in hul besigheid.”

“Seën hulle met genoeg kliënte.”

“Seën hulle sodat hulle kliënte op tyd sal betaal.”

“Seën hulle sodat hulle ʼn verskil sal maak in die werk wat hulle doen.”

 

Nou om hierdie seën gebede te uiter was moeilik en het my lank geneem om dit hardop te bid. Maar hoe meer ek dit gedoen het, hoe meer het ek ʼn verskil begin agter kom. Nie die verskil wat EK graag sou wou gesien het, waar my vyande nou weer my vriende geword het. Nee, want dit gaan nie oor my nie.

Ek kon die verskil sien wat ek glo God in my wou sien. Volwassenheid.

Eweskielik kom ek agter maar hulle doen eintlik baie goeie werk, hierdie vyande van my. Hulle help mense met allerhande seksuele probleme. Hulle versterk huwelike. Hulle doen almal goeie gesonde seks werk.

Dit is nie net meer net ek wat die Gesonde Seks boodskap moet dra nie.

Eweskielik is die fokus nie, meer op myself nie, my Facebook blad nie, my Gesonde Seks, my kliënte, my inkomste, my reputasie, my eer, my seer, my pyn.

Nee, die zoom uit knoppie het perspektief gebring, dit gaan oor mense.

Mense wie van jou hou, maar ook mense wie nie van jou hou nie.

Mense wie jou lief het, maar ook mense wie jou haat.

Mense wie jou sal help, maar ook mense wie jou sal teëwerk.

Mense wie soos jy glo, maar ook mense wie glo jy is die duiwel.

Mense, al shape and sizes. Mense.

En in dit, begin ek weer God se hart sien.

Sy liefde vir mense.

Sy liefde vir my en jou.

Sy genade vir wie in Hom glo, maar ook vir die wat in Hom twyfel.

Mense.

Mense.

Mense.

Nie meer net, EK EK EK EK EK, nie.

Nee,

Mense.

Mense.

Mense.

Liefde vir mense.

Ek begin nou eers verstaan hoekom Jesus kon sê die heel belangrikste van al die wette en wat al die wette van oud vas hou aan mekaar is ons liefde vir mekaar.

Liefde is nie net ʼn warm gevoel wat jy het teenoor iemand anderste het nie, dit is die groter “zoom uit” perspektief prentjie wat ons het van mense, dat ons hulle seënwense toe bid. Dat dit mag goed gaan met hulle.

Mense dit gaan oor mense!

En as jy getroud is en jy baklei meer gereed as wat dit vir julle gesond is, soek vir daardie zoom uit knoppie. Moenie langer toe laat dat jou eie seer en pyn, jou insluk nie. Zoom uit. Kry perspektief. Bid vir jou man of vrou. Nie om te verander nie. Of om met jou te kom reg maak nie. Nee, seën gebed. Gebede van voorspoed en eweskielik gaan jy ʼn verandering sien. Nie in die persoon vir wie jy bid nie, maar in jouself.

En dit is wat ek glo waar die krag van gebed in lê, om ons te verander om in die wêreld om ons in te pas, in plaas van om te bid om die wêreld te verander om by ons aan te pas nie.

 

 

 

Dit is reg om oog vir ʼn oog te ruil, maar dit is meer reg om die ander wang te draai.

ethics

Ek is besig om die finale werk te doen aan my navorsing oor die Afrikaanssprekende Christen se seksualiteit en het al begin dagdroom oor wat ek graag sal wil doen vir my doktorsgraad. Ek speel rond met die idee om te skryf oor seksuele etiek. (As ek so na mense kyk, sal iemand anderste asb. iets skryf oor Christelike etiek, want die kinders van Jesus doen nie soos Jesus nie.)

Daar is nou ʼn groep mense wat, nie baie van my hou nie. Wel dis regtig nie iets nuuts nie, daar was al van my St1 insident met die grootste en bevreesde persoon in die skool, mense wat nie van my gehou het nie. (Haar naam was Lee-Ann, ek wonder wat het van haar ooit geword?)

Maar hier is nou ʼn nuwe groep. ʼn Groep wat nie regtig ʼn probleem met my het nie, maar met waar ek studeer. (Politiek) Wat baie ironies is, is dat juis hierdie mense in die mediese veld en sielkundige veld wat nou ʼn probleem met my het, was so gaaf om woorde van lof te skryf vir my twee boeke oor seksualiteit.

Hierdie elitegroep wat seksuologie nou vir hulleself wil hou, (by the way, seksuologie as beroep bestaan nog nie in Suid Afrika nie asook is daar nie een beheerliggaam of raad wat die beroep verteenwoordig nie. Daar is nou ʼn paar rade in SA wat almal baie hard fight om te wen om koning te kraai van die seks-hoop. Nog niemand het gehoor van saam werk nie. Dit moet iets in ons Afrikaner DNA wees of iets, want saam werk is iets wat ons nog nooit kon saam doen nie. En om saam iemand te werk wat soos jy dink is nie regtig die saamwerk wat ek na verwys nie.)

So loop die aantuiging teen my, omrede ek nie ʼn mediese dokter is of ʼn kliniese sielkundige is, weet ek niks van seksualiteit nie, of kan my advies nie getrust word nie, al het hulle baie mooi woorde van lof vir my boeke oor seksualiteit geskryf.

Net vir die rekord het ek nog nooit myself uit gemaak as ʼn mediese dokter of as ʼn sielkundige nie.

Ek is ʼn Bybel en Seksualiteitskenner wat besig is om my meesters graad te studeer by die Akademie van Seksuologie SA.  (Waarmee hierdie elitegroep ʼn probleem mee het.)

Wat dinge verder ironies maak is dat hierdie elitegroep deel is van PRESIES dieselfde internasionale seksuologie rade en in dieselfde internasionale seksuologie wetenskaplike joernale gepubliseer is as die Akademie van Seksuologie SA.

 

So omdat my gedagtes alreeds rondom etiek draai, het ek gewonder watse etiek is hier te vinde om my optrede te begelei?

#1 My Christelike geloof gee my die reg om ʼn beer uit die woud te roep om my vyande te verslind.

(2 Konings 2:23-24)

“Elisa het daarna na Bet-El toe opgegaan. Terwyl hy in die pad loop, kom ʼn groep klein seuntjies uit die dorp en begin hom spot. “Gaan op, kaalkop!” het hulle uitgeroep. “Gaan op, kaalkop!” Elisa het omgedraai, na hulle gekyk en hulle in die Naam van die Here vervloek. Toe kom daar twee bere uit die bos en verskeur 42 van hulle.”

Gelukkig is ek nie kaalkop nie. Ek skeur net my hare baie kort. Maar as ek Nataniel weer sien sal ek hierdie vers vir hom gee.

#2 My Bybel gee my ook die reg om ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand te verruil.  

(Eksodus 21:24-25)

“’n Oog wat beseer is, moet met ʼn oog se skade vergoed word. As ʼn tand verloor is, moet iemand se eie tand uitgeslaan word. ʼn Hand se skade moet met ʼn hand vergoed word, ʼn voet vir ʼn voet, ʼn brandplek vir ʼn brandplek, ʼn wond vir ʼn wond en ʼn kneusplek vir ʼn kneusplek.”

Te danke aan my admirasie vir Rob Bell, lees ek al sy boek en daarin verduidelik hy hierdie vers oor ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand is nie so barbaries soos dit vandag klink nie. Hy verduidelik dat voordat hierdie reël neer gelê was, was dit ʼn free for all. As iemand jou kar gestamp het, kon jy sy kar vat, of as iemand te lank na jou vrou kyk kon jy sy vrou vir jouself neem. Daar was geen reël of etiek wat die ‘reg’ van ʼn optrede bepaal het nie. Elke ou kon net doen wat hy wou. En daarom is etiek belangrik, sodat ons nie almal doen wat ons wil nie, want dan is daar ʼn kans dat daar baie meer bere is wat rondloop en mense verslind.

Nee, hierdie reël in Eksodus was cutting edge vir sy tyd gewees. Dit het ʼn nuwe etiek onder die mense in gebring dat as iemand teenoor jou oortree, moet jy in ʼn gelyke mate reageer.

Om ʼn beer uit die woud te roep is reg, maar dit is meer reg om net hulle terug te spot.

So in my situasie het ek reg om ook stories aan te dra en hulle kennis oor seksualiteit te bevraagteken. Maar is dit die meeste reg om dit te doen?

Is dit waar ons etiek vas gehak het, by ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand?

Nee, Jesus het gekom en ons etiek na nog ʼn nuwe vlak geneem.

#3 Draai die ander wang.

Matteus 5:38-40

“Julle het gehoor dat daar gesê is: “’n Oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand.’ Maar ek sê vir julle, julle moet julle nie teen ʼn slegte mens verset nie. As mense jou op jou regterwang klap, draai vir hulle ook jou ander wang. En gee vir hulle wat jou hof toe wil vat omdat hulle jou onderkleed wil hê, ook jou bo-kleed.”

Sjoe dis, moeilik.

Kan ek nie maar eerder ʼn beer roep nie?

My linkerwang is my beste kant!

Ek het nie ʼn probleem om my onderkleed of bo-kleed uit te trek nie. Ek is so bietjie van ʼn nudis in my binneste!

Maar hierdie elitegroep het voordat hulle met hierdie veldtog teen my begin het, ʼn afspraak met my gehad om my ʼn ultimatum te stel. As ek al my Gesonde Seks Facebook mense en kliënte na hulle toe verwys sal hulle my uitlos, en vir almal sê moenie oor Timothy worry nie, hy doen goeie werk op Facebook, want hy stuur al sy kliënte vir ons.

As die persoon my net mooi gevra het, sonder om my deur die gesig te klap, sou ek met liefde al my mediese en kliniese kliënte daarheen verwys. Ek het nie ʼn probleem om te deel nie. Maar dit was nie goed genoeg nie, vind ek nou uit, want twee maande later, vertel hulle almal wat al ooit saam met my gewerk het, hoe swak my opleiding is.

So hulle het gevra vir my Gesonde Seks Facebook blad, en ek het vir hulle gesê ek verwys graag, maar eers moet hulle my ophou klap. (Dit was nie ʼn baie aangename ervaring nie.)

Ek moet hier by noem dat ek anderste geleer is, as die elitegroep. Dat nie alle seksuele probleme is medies of sielkundig nie. Seksualiteit is deel van alles wat daardie persoon opmaak. Jy kan nie dit wil kompartementaliseer nie.

Die meerderheid mense wat by my eindig het nie mediese of sielkundige of teologiese probleme nie. Vir dit gaan hulle (ek neem aan) dadelik na hulle dokter, sielkundige of pastoor toe. Die mense wat by my op eindig is mense wat sukkel om Gesonde Seks in hulle lewens te geniet. So noem my dan maar ʼn life coach. (Wat ook nog ʼn beroep is in SA wat nie gereguleer is deur een groep nog nie, so ek is diep in die middel van politiek.)

Selfs toe ek nog gewone preke gedoen het, het ek nie regtig iewers ingepas nie. Ek het by ʼn klein Engelse Bybelskool studeer. Ek was ʼn jeugpastoor in die AGS kerk. Ek het interkerklik vir jare daarna bedien in NG Kerk, Gereformeerde kerk, PPK, APK (Kan jy glo!) en selfs by die Sewendedagadventis gemeentes. (Ek het daardie Saterdag oopgehad!)

Ek verstaan dat ek nog nooit iewers in gepas het nie, maar nog altyd uitgestaan het. En ek kan nie regtig sien hoe dit in die toekoms gaan verander nie.

So kom ons kyk wat die etiek ons geleer het.

Dit is REG om ʼn beer uit die woud te roep as iemand my spot, maar dit is MEER reg om my vinger in iemand se oog te steek, maar dit is die MEESTE reg om die ander wang te draai.

Dit is REG om ʼn prokureur te roep as iemand my sleg sê, maar dit is MEER reg om net so stink brief oor hulle publiek te maak, maar dit is die MEESTE reg om al die mediese en kliniese kliënte na hulle te verwys.

(Ek is baie jammer aan al die prokureurs wat hierdie lees, ek het nie bedoel om julle met bere te vergelyk nie! – Moenie my sue nie!)

 

So net om dinge duidelik te maak. Ek gaan aan hou om Gesonde Seks te doen. Nie as ʼn mediese dokter nie, (want ek is dit nie) of as ʼn sielkundige nie, (want dit is ek ook nie), maar as iemand wat so ietsie van seksualiteit weet. ʼn Deel daarvan het ek geleer deur om elke dag honderde anonieme vrae oor Gesonde Seks te lees en die res het ek geleer by die Akademie van Seksuologie van SA, (al is daar baie mense wat nie van die Akademie hou nie.) Ek het darem daardie mense se woorde van lof op my boeke.

 

 

 

 

 

Steeds vlermuis bedinges

BatMain03c

Die winter is verby en alles wat somer is, is besig om sy verskyning te maak, die lekker van somer asook die slegte van somer.

Die lekker van somer is natuurlik die Transvaal donderstorms, heerlike warm dae en aande, die reuk van reën, die groen gras, die verskillende kleur skoenlappers, die blommetjies, die vrugte, die lewe!

Die slegte van somer is natuurlik vir my al die lewendige dingetjies. Die miere, die goggas, die krieke, die kakkerlakke, die muise, die spinnekoppe, die kewers en al die “wat-de-hel-was-dit” goeters.

En omdat ek laas seisoen so vlermuis bedinges was, (lees die verhaal hier), weet ek presies “wat-de-hel-was-dit” toe ek dit begin van laas week weer hoor.

Vlermuise.

Blykbaar is vlermuise territoriaal en eers as hulle nes gemaak het iewers, kom hulle elke somer weer terug om, te paar, babas maak, babas groot maak, babas voer, babas leer om te vlieg, babas leer om te sonarlawaai.

Dankie, maar nee dankie. Ek het ʼn baba van my eie en sy hou ons alreeds wakker genoeg. Ek het nie nog ʼn baba in my slaapkamer nodig nie.

Die pastoor in my het dadelik ʼn geestelike antwoord tot ʼn baie duidelik demoniese probleem gesoek. Ek het met al die Charismatiese energie en geloof wat ek in my by mekaar kon skraap, die vlermuis bebid, gebind, uitgedryf, vervloek, toe net sommer normale vloek, gesmeek, gespoeg en skree, maar niks het gewerk nie.

Toe word ek herinner van die teksvers in Matteus 7:21 waar Jesus se dissipels vir hom vra maar hoekom kon hulle nie ʼn sekere demoon uitdryf nie. Jesus antwoord “Hierdie soort kan net deur gebed en vas uitgedryf word.” So die volgende dag eet ek niks nie, en verwag ʼn wonderwerk.

Duidelik is die “wat-de-hel-is-dit” wat in my dak lewe nie dieselfde demone waarvan Jesus in Matteus van praat nie. So toe staan ek maar op en gaan maak vir my kos.

Toe probeer ek ʼn tegniek wat ek in twee van gunsteling Roberto Benigni films gesien het “Life is Beautiful” en “The Tiger and the Snow”. Positiewe gedagtes. Waar ek letterlik die krag van positiewe gedagtes gebruik om die vlermuis familie uit my dak uit te WIL.

Dit het toe ook nie gewerk nie. (Dit het net verkeerd gevoel om so baie positiewe gedagtes te hê vir iets wat ek net die vorige dag so vervloek het.)

Ek los toe die geestelike en metafisiese metodes en probeer ʼn meer ‘old fashioned’ fisiese benadering. Ek het in die laaste paar maande tennis opgeneem en het nog als goed geraak daarmee. Ek dink dit was te danke aan die oefening metode wat ek gevolg het. Wanneer ons nie Tenike, (ons jongste) aan die slaap kon kry nie, het ons gaan tennis speel. Ek het haar in die kangeroe pouch gesit en so met haar tennis gespeel. My voorarm hou was ʼn bietjie beperk, maar my backhand was koning.

Met hierdie geoefende backhand en die kennis van my kinderdae dat vlermuise hou van tinfoelie balle het ek ʼn “game-set-and-match” plan beraam.

Ek het toe ʼn tennisbal-groot tinfoelie bal gemaak en gewag vir skemer. Die plan sou wees dat ek die tinfoelie bal sou op in die lug gooi en wanneer die vlermuis afduik om dit te vang sou ek met my Wilson tennis raket reg wees vir die beste backhand wat al ooit op Wimbledon aanskou was.

Soos beplan het vlermuis dadelik die tinfoelie bal raak gesien en geteiken. Onbeplan het ek te groot geskrik vir die vlermuis wat op my afpyl en met die raket en al in die huis weer gehardloop.

Ek is raad op, ek moedeloos, ek is gefrustreerd, ek is geïrriteerd, ek is moeg, ek is vlermuis bedinges.

My geestelike, metafisiese tot my tennis backhand kon nie die vlermuis familie uit ons slaapkamer dak kry nie. Nou moet ek maar rustig in die spaarkamer slaap tot Donderdag wanneer die “Roofrats” mense kom en my huis ʼn vlermuis vrye zone maak.

Dis nou eers Sondag.

 

Wat maak jou ryk?

plastic view

Ons het vanoggend, Janèy, ons oudste (5 going on 15) afgelaai by ʼn maatjie se verjaarsdag partytjie en besluit dat die res van ons gaan ʼn lekker ontbyt gaan eet by Cuppachinos in Woodlands Mall. Ons het op die balkon buite gesit en terwyl ons wag vir ons kos om te kom merk ons op die baie interessante uitsig wat hierdie balkon bied.

Aan ons linker kant kyk ons op die baie posh Woodhill Golf Estate, met al die golfkarretjies, jetski’s en Duitse motors wat besig is om gewas te word in die 4 garage driveway’s. Oorkant die pad sien ons ʼn deel van die plakkershuisies wat deel maak van die sogenoemde “Plastic View” wat onwettiglik die reg het om daar te plak. Duskant die plakkerhuisies sien ons Pretoria Oos Begraafplaas.

So ons panoramiese uitkyk strek van die Ultra-ryk (of dubbel verbandgelaai – hoe ook al jy dit wil bekom), verby die brandarm (maar tog so vriendelik en altyd glimlaggende – hoe ook al jy dit wil probeer verstaan), tot die 6foot onder die grond (waar beide ryk en arm langs mekaar lê).

Niks in hierdie artikel is nuut of earthshattering nie, ek weet, maar dit is tog die 414 woorde en paar minute werd om ʼn oomblik te neem en te gaan, uhmm.

Soms bly ʼn uhmm, net ʼn weird audible klank wat jy hoop niemand om jou gehoor het nie, want dan sal jy daardie uhmm moet verduidelik.

My uhmm, het my tot hierdie vrae en uiteindelik tot diè artikel gelei.

 

Wat maak jou ryk?

Is dit waar jy bly?

Is dit wie langs jou bly?

Is dit watse karre jy ry?

Is dit of jy krag en lopende water wat jy kry?

Is dit jou view?

 

Of is dit waar jy eendag finaal gaan rus?

 

Na ons ete, gaan tel ons weer ons oudste op. (Die party is nog nie verby nie, maar ons mis haar nou te veel.)

Ons merk op al die karre, wat voorheen nie daar was nie. Duur karre, dinge wat lyk soos karre maar hopelik nie. Groot karre, klein karre. Skoon karre, vuil karre.

Almal is hier vir ʼn begrafnis. Want daar is iemand wat nie meer in sy paleis of plakkershuis bly nie, daar is kar sleutels of ʼn persoon in ʼn taxi wat Maandag vermis gaan word. Iemand is dood.

Ryk of arm?

Nou maak dit nie meer saak nie. Want vir ewig is sy finale rusplek, een met ʼn interessante uitsig!

 

Kinders by Dosyne

Opvoedkundige komedie deur Timothy Kieswetter

WellnessseX

Understanding, Acceptance and Management of our sexual wellbeing

goeienuusloli

Ek deel myne...kom deel joune!

tamatieland

'n paar gedagtes

Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Timothy Kieswetter's Blog oor Gesonde Seksualiteit

Om 'n gesonde gesindheid rondom ons seksualiteit te ontwikkel.

%d bloggers like this: