As daar net een God is, hoekom aanbid ons elkeen ons eie god?

#1

Hierdie artikel broei al ʼn hele rukkie in my hart en toe ek vanoggend na ʼn liedjie van Van Coke Kartel luister, het die artikel natuurlik gevolg. Die liedjie kom van hulle Wie’s Bang album en is getitel “Nevermind”. Die refrein wat my gegryp het sê: “Ek weier om te glo, wat jy glo, is alleen reg.”

(Ek voel ek moet nou net hier aan die paar mense wat alreeds teleurgesteld is in my omdat ek na “sulke” musiek luister, ietsie verduidelik. Ek dink dit kan baie gevaarlik wees om so geïsoleerd te wees in ons eie geestelike kokon waar ons net Christen musiek luister, Christen TV kyk, Christen boeke lees, Christen skole toe gaan, Christen kosse eet, Christen lingo gebruik en net met ander Christene uithang. Soms is die “nie-Christen” dinge in die lewe meer opreg as enige iets anderste. Dit laat my dink aan ʼn ander liedjie van Fokofpolisiekar “Ek (skyn)heilig”. Maar dit is ʼn artikel vir ʼn ander dag. (Of dalk nie!)

Maar kom ek gee vir jou Skrif om te regverdig dat ek “wêreldse” inspirasie kan gebruik om iets van God te leer. Die tien plae waarvan ons lees in Eksodus, wat God gestuur het oor Egipte, was almal geïnspireer deur die tien hoof afgode van Egipte. God het iets “wêrelds” gebruik om na Hom te wys.

Maar kom ek maak net weer almal rustig. Ek luister en geniet ook my Christen musiek.)

EK WEIER OM TE GLO, WAT JY GLO, IS ALLEEN REG.

Nou ek weet nie waarna Van Coke Kartel met hierdie woorde verwys nie, maar ek sien dat hierdie sin baie aktief gebruik kan word in die kerk.

As daar net een God is, hoekom aanbid ons elkeen ons eie god?

Met hierdie artikel wil ek nie eers, of hoef nie eers buite die Christen geloof te gaan om my punt te maak nie. Die Christen geloof is een van die gelowe met die mees afgesplinter dinominasie, elkeen glo wat hy glo is alleen reg. (Dalk nie genoeg om mekaar as ʼn sekte af te skryf nie, maar net genoeg om af te kyk op ʼn ander een wat nou nie presies glo soos hy glo nie. – As jy my nie glo nie gaan vra ʼn bietjie rond wie afgeskryf was oor die hele klein/groot doop issue.)

EK WEIER OM TE GLO, WAT JY GLO, IS ALLEN REG!

In die Bybel is daar meer as 50 verskillende name vir God.

So alhoewel ek glo in net een God, glo ek Hy manifesteer Homself aan sy kinders (die mens) hoe Hy wil en soos Hy wil.

Selfs Jesus wie die Naam bo alle Name het, (Filippense 2:9) het nie in dieselfde vorm aan almal verskyn nie.

Na sy opstanding het Maria Magdaline gedog Jesus is die tuinier. (Johannes 20:15)

Toe Jesus aan sluit by die Emmaus gangers, terwyl hulle oor Jesus praat, het hulle Hom nie eers erken nie, want die Skrif sê Hy het in ʼn ander vorm aan hulle verskyn. (Luke 24:13–35)

Jesus se eie dissipels wie vir 3jaar saam Hom gebly het, het hom nie eers erken nie. (Johannes 21:4)

In elke een van hierdie gevalle het Maria, die Dissipels en Emmaus gangers God gemis, omdat Hy verskyn het ANDERSTE as wat hulle gewoond was om Hom te sien.

As hulle bly glo het, dat wat hulle glo, is alleen reg, sou hulle God gemis het.

Met elke pastoor waarmee ek al gepraat het, het aan my erken toe hulle na hulle eie preke luister wat hulle gepreek het in die begin van hulle prekery, was hulle baie skaam daaroor en glo nie meer alles wat hulle so passievol geglo het op daardie stadium nie.

Met ander woorde hulle (ek ook) het gegroei oor die jare. En daar is ʼn goeie kans dat ek en ons almal in die toekoms nog gaan groei. (Hopelik)

So as dit waar is kan ons mos by ʼn punt uit kom dat wat ek nou glo is nie noodwendig die volle waarheid nie, want wat ek nou glo is slegs as gevolg van wat ek tot dus vêr beleef het, geleer het en aan my geopenbaar was.

Hoekom dan voel ons so sterk om aan ander wat nie soos ons glo te oortuig dat hulle verkeerd is en ons reg is?

EK WEIER OM TE GLO, WAT JY GLO, IS ALLEEN REG.

Veral as jy oor ʼn paar jaar nie eers self meer alles 100% jouself glo nie.

Toe Moses God in die brandende bos sien, vra hy vir God wat is sy naam.

ʼn Naam simboliseer identiteit.

Moses wou weet watse naam, watse God gaan hy vir die Israeliete vertel Hy gesien het.

God antwoord hom met “Ek is wie Ek is.”

Moses kon gedink het, okay dit is oulik. Ek is ook wat ek is, maar ek is Moses.

Die probleem is, dat God ʼn bietjie groter is as net een naam,

as net een openbaring,

as net een waarheid,

as net een goeie preek,

as net een herlewing,

as net een droom,

as net een genesing,

as net een identiteit

of een doop

of een dogma.

Kan ons almal saam stem Hy is groter as enige iets wat ons ooit sal kan verstaan.

En as die Bybel vol stories is waar Hy aan mense in verskillende vorms en met verskillende name Homself aan die mens kom bekendstel het, is daar nie dan ʼn goeie kans dat Hy dit steeds doen nie?

En as ons dit kan begryp dat God opdaag in die vorm en naam in wie die persoon Hom in daardie oomblik die meeste nodig het, is daar net nog een struikelblok wat ons as Christen moet oorbrug, om waarlik die liefde van die Here aan ons naaste te kan uitstraal.

En dit is om te weier om te glo, wat EK glo, is alleen reg!