My pa die snaakste predikant en ek die prekerigste komediant.

AppleTreeLg

Die appel val nie ver van die boom nie. Wat seker nie ʼn slegte ding is as jy ʼn appel is nie, maar as jy ʼn ambisieuse testosteroon gedrewe jong seun is dan is daar ʼn seker rebellie wat in jou binneste groei omdat jy jouself in die skaduwee van jou pa se Appelboom vind.

My pa is verseker een van die beste aardse pa’s wat jy kry en ons het ʼn nog altyd ‘n baie goeie verhouding gehad. Daar was net een probleem volgens my. My pa was net tè bekend. Die van julle wat nie my pa, Gary Kieswetter ken nie, hy is ʼn rondreisende predikant en maak nie saak waar ek sou gaan in Suid-Afrika nie, sou almal my Gary Jnr. noem.

Ek moet bieg dat daar baie voordele is om ʼn bekende pa te hê. Maar vir hierdie jong seun wat sy eie merk op die samelewing wou maak, was die kerk-wêreld net te klein vir twee Kieswetter’s. So toe ek my loopbaan in seksuologie begin toe begin ek voel hoe hierdie appel al hoe verder van die Appelboom wegrol. My identiteit as individu was nog nooit so sterk nie, maar so ook my stresvlakke, want ek rus nie meer in my pa se bekende skaduwee nie.

Ek voel hierdie appel het vol sirkel gekom die naweek van 2-3 Augustus 2014.

Soos baie van julle weet en 750 van julle my gesien het, was ek die 2de Augustus met my een-man standup comedy show “Die Stripshow” in die Kaap gewees. Daar was baie dinge van daardie aand wat vir my uitgestaan het, maar niks so veel soos my pa wat in die voorste ry van die gehoor gesit het nie. (Die 10 rye agter hom 250 van sy gemeentelede.)

Ek begin toe my show om te noem dat alles wat ek die aand op die verhoog gaan “strip” is alles my pa se skuld. Hoekom? Want hy is só bekend dat ek ʼn male-stripper moes geword het om uit sy skaduwee te kom. (Ek is seker my pa is baie dankbaar ek het nie besluit om ʼn female-stripper te word nie.)

Die show het fantasties goed gegaan. Ek het so goed gevoel, want nie net het ek my pa se goedkeuring en ondersteuning vir my “stripping” nie, maar ook het ek vir die eerste keer in my lewe my eie Appelboom gegroei. Ek het my eie identiteit gevind en besig om my merk op die wêreld te maak. As iemand sou vra wat doen ek, kan ek met totale uniekheid antwoord: “Ek was eers ʼn jeug-pastoor en toe gaan studeer ek seksuologie en nou is ek ʼn standup komediant.”

Die aand was ʼn sukses. Nie net het die mense vir my grappies gelag nie, maar hulle het ook my boodskap ingeneem.

Die volgende oggend gaan ek saam na my pa se gemeente in die Kaap “Die Bron.” (Die van julle wat ʼn gemeente in die Kaap soek, ek kan my pa se gemeente aanbeveel, want hulle ondersteun “Stripshows.” Verseker net myne, maar nogsteeds. Facebook Die Bron)

Daar sit ek in die kerk, baie tjuff met myself en luister na my pa se preek en besef wat ek nog al die jare geweet het. My pa is die snaakste predikant. Ek het nog altyd gewonder hoekom hy nie in comedy in gaan nie, want die mense in die kerk huil soos hulle lag. (Natuurlik eers nadat hulle gekyk het of die dominee ook lag.)

My verhoogbestuur wat langs my gesit het in die kerk voordat sy weer Pretoria toe sou vlieg, stamp my in die ribbes en sê: “Ek kan sien waar jy jou sin van humor gekry het. Jou pa is vrek snaaks.”

Maar inplaas daarvan om weer daardie rebellie in my binneste te voel om uit my pa se skaduwee te beweeg en my eie ding te doen, het ek ʼn trots en dankbaarheid dat ek wel die voorreg het om my sin van humor van my pa te kry. (Nie almal het pa’s om dinge van te kry nie, en ek vir een is ʼn baie dankbare appel.)

Ek het vol sirkel beweeg net om te besef dat ek nie so anderste is soos ek probeer het om te wees nie. En weet jy wat? Dank die Here daarvoor.

Maak seker jy woon my volgende show in Pretoria by die 3de Oktober by die Centurion Teater. Hierdie sal my laaste show vir die jaar in SA wees. Ek doen die einde van Oktober 3 aande in Namibië by die Nasionale teater van Namibië in Windhoek.

Kaartjies vir albei by Computicket beskikbaar.