Ek hoef nie die wêreld te verander nie, net myself!

by Timothy Kieswetter

keep-calm-and-change-the-world-72

Ek het nog altyd ‘n gevoel gehad dat ek geroep is vir meer. Meer as ek nou doen. Maak nie saak wat dit is wat ek “nou” doen nie, die diep gewortelde gevoel van meer het my konstant uitgedaag om meer te doen. Die probleem egter was tweevoudig. Eerstens het dit my altyd onvergenoeg laat voel met waar ek tans myself in die lewe bevind. Niks wat ek doen of het was goed genoeg nie. Ek was nie tevrede met enige iets nie. Daar was geen kans om terug te staan en te reflekteer op wat ek bereik het of wie ek is nie. Die dryf tot meer en beter het altyd my aangepor. Dit bring my tot die tweede probleem van hierdie meer-gevoel.

Dat ek maklik uitbrand. (Dit is dalk ook as gevolg van die feit dat ek so ‘hot’ is, maar daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.) Besig, besig, besig. As ek stil staan en niks het om te doen nie, dan voel ek soos ‘n mislukking. Soos iemand wat sy talente vat en begrawe.

Ek het darem oor die jare daarin geslaag om hierdie meer-gevoel te kanaliseer tot my werke en nie meer so seer tot versameling van materiële dinge nie. En hier is waar ek weer ‘n groot fout begaan het. Ek het gedink omdat ek nie meer materiële dinge najaag nie, maar eerder my bediening om mense te bedien, huwelike te red en God se koninkryk uit te brei, dat ek veilig is.

Maar dit is nie. Of ek onvergenoegd was met my materiële besitting of met die hoeveelheid van huwelike wie ek red, hoogmoed is steeds die wortel wat diep in my siel gegrond is.

Ek gee jou ‘n voorbeeld.

Elke keer wanneer ek iemand help in berading, waar vorige beraders gefaal het, voel ek nog als great en vertel vir die Here dat Hy maar meer mense na my moet stuur, want ek het duidelik al die antwoorde.

Of nadat ek my een-man stand up comedy “Die Stripshow” doen en terug voering van my gehoor kry dat hulle so lekker gelag het, terwyl hulle oë oor sommige seksuele taboes oopgegaan het, skel ek die Here hoekom Hy my nog nie op die KKNK verhoog gesit het nie. Kyk dan hoe awesome is ek. My awesomeness is ‘n voordeel tot Hom, tot huwelike, tot Gesonde Seks, tot die wêreld. So hoekom is daar dan nie meer van my in die wêreld nie?

En soos wat ek met die Here worstel om vir my meer te gee, aan meer toe te vertrou, my meer te seën, worstel Hy soms terug met my. Een van my gunsteling stories in die Bybel is waar Jakob met die Engel van die Here worstel, want hy soek meer. Vir lank lyk dit asof Jakob die worsteling wen, totdat God besluit om terug te worstel.

POW!!!

KA-POW!!!

BAM!!!

KLAP!!!

En Jakob is uit. Die Here vra hom net een vraag. “Wat is jou naam?”

En dit is hoe God my nog altyd van my voete afgeklap het. Hy draai my fokus weg van die meer-dinge in die lewe wat ek najaag, en hy vra my “wat is my naam?” Hy vra my om binne in myself te kyk. Hy vra my om my hart te ondersoek. Hy vra my of ek weet wie ek is.

En as God vir jou vra wie jy is, dan voel al hierdie hoogmoedige persepsies wat ek van myself het, van “ek is die beste berader”, “die snaakse standup comedian”, “die beste skrywer” net nie meer reg nie. Al wat ek dan, God mee kan antwoord is, my swakhede, my tekortkominge, my vrese, my insecurities.

En wanneer jy so eerlik met jouself kan wees, dan voel dit asof die Here jou klap, soos Saul van die perd, Jakob op die heupbeen, Sagaria op die mond, Moses op lyf en Timothy op sy “meer-gevoel”.

Ek besef nou ek hoef nie die wêreld te verander nie. Ek is nie goed genoeg, groot genoeg, bekwaam genoeg om dit te doen nie. En in die proses om die wêreld te verander gaan ek seëninge in my lewe mis. Die dinge wat jy werklik eers kan raaksien en waardeer, nadat jy eers stilstaan en reflekteer.

Ek hoef nie die wêreld te verander nie, net myself!

Ek hoef nie al die huwelike te red nie, geniet die een wat ek het.

Ek hoef nie ‘n landwye toer te doen met “Die Stripshow” nie, geniet die een wat ek nou doen.

Hierdie neem die “meer-gevoel” wat onvergenoegdheid in my veroorsaak en verander dit tot ‘n tevrede-gevoel wat dankbaarheid in my laat insink.

“Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade?” – Markus 8:36

Advertisements