Om nie jou kind se hand te styf vas te hou nie.

by Timothy Kieswetter

hand vashou

Elke vakansie leer ek my kinders beter ken. Alhoewel ek baie tyd met hulle spandeer oor naweke en as ek by die huis kom van werk, is dit anderste om van oggend tot aand te wees saam met jou kinders. (Ek wil net hier ‘n shout-out gee tot Janet, wat elke dag die hele dag met die kinders spandeer. Jy is awesome. Ek kort werk na hierdie vakansie.)

Ons laaste vakansie hier in die Kaap, het my kinders vir my nuwe insig gegee tot hoe om ‘n goeie ouer te wees. Janey, my oudste, nou 7, was in die kombuis besig om haarself te help tot ‘n peer. Sy kry vir haarself ‘n skerp mes uit die laai en begin om die peer te sny in skuifies. Toe ek in die kombuis stap en dit sien neem ek dadelik die mes uit haar hande en sê pappa sal sny.

Die gesigsuitdrukking wat sy gehad het is gebrandmerk in my geheue. Ek besef dadelik ek het meer as net ‘n mes van haar geneem. Ek het waardigheid en selfversekering van haar ontneem. Ek sak tot my knieë om met haar op ooghoogte te praat.

“Liefie, ek sien dat ek jou onstel het om die mes weg te neem sonder om te vra. Ek wou maar net jou beskerm, maar ek sien dat jy eintlik dit self wou doen. Ek was maar net bang jy sny jou vinger raak en daarom het ek die mes geneem. Ek het glad nie die mes van jou weggeneem omdat ek dink jy nie groot genoeg is of instaat is om hierdie peer vir jouself te sny nie. Ek dink jy kan verseker hierdie op jou eie sny. Maar mag ek die voorreg hê om hierdie peer nou vir jou te sny?”

Sy knik haar kop en glimlag weer.

Twee dae later tydens etenstyd neem ek weer instinktief die mes uit haar hand. Sy kyk my stip in my oë en sê: “Ek dog jy het gesê ons mag self in die toekoms sny?”

Hmmm, my gesprek met haar het dieper ingesink as wat ek gedink het.

Hier het ek besef dat my oorbeskerming is eintlik besig om my kind meer seer in die toekoms te verseker. As ek nie van jongs af in my kind beklemtoon dat sy sterk, selfstandig en in staat is om dinge te doen nie, is ek verseker dat mense en omstandighede in haar toekoms oor haar sal loop. So ek sal eerder dat sy dalk haarself kan raak sny, as wat ek ‘n dogter groot maak wat glo dat haar pa nie dink sy in staat is om iets te kan doen nie.

(Sy het darem nog nie in die laaste week haarself raakgesny nie. Ek bid maar baie.)

Ons het die een pragtige sonnige dag op Tafelberg gegaan. Dit was perfek. Ons het lekker gespeel en oor die rotse geklim en aan die einde van die staproete was daar ‘n groot poel water wat ek my jongste, Tenike (2), oor wou help. Ek tel haar toe op by haar handjie en sit haar aan die anderkant neer. Sy het dadelik begin huil en haar elmboog vasgehou. Vir die res van die dag wou sy nie haar linkerarm gebruik nie. Die hele aand het sy niks geslaap nie en die hele tyd gekla oor “My arm, my arm, my arm is seer.”

Pappa se hart was stukkend. Google vertel my dat my kind ‘n “nursemaid elbow” gehad het. Haar ligament in haar elmboog het uit lit geskuif soos wat ek haar opgetel het. (Ek voel soos ‘n vark.)

Die dokter kon darem haar elmboog weer in plek skuif en later daardie dag het Tenike my ‘n drukkie gegee met albei arms.

Pappa se hart is bly en smelt.

Ek het myself belowe ek tel nooit weer my kind by die hand op nie. En hierdie gebeurtenis saam met Janéy se peer-sny insident het vir my die waarde daarin laat sien om nie jou kind se hand te styf vas te hou nie.

Ja jy moet jou kinders beskerm, maar meer as dit, wil jy suksesvolle, selfvertroue volwassenes eendag kweek.