Depressie is ‘n Selfsugtige Siekte.

depression goddess

(#2 in die reeks “Ek is ‘n depressie vegter.”)

Lees #1 “Ek is ‘n depressie vegter hier.

Ek het aspris ‘n hele rukkie gewag voordat ek my tweede artikel in my reeks “Ek is ‘n depressie vegter” skryf, want ek wou kyk of ek ‘n depressie “relaps” kry. Tot dusver niks nie. Ek voel great! Was daar ‘n paar “triggers”? Verseker.

Een ding wat jy moet verstaan van depressie is dat dit ‘n selfsugtige siekte is. Dit is ‘n anti-sosiale siekte wat jou gaan oortuig dat jy alleen in die wêreld is. En omdat jy alleen in die wêreld voel, raak jy baie maklik alleen-gesentreerd in jou wêreld en dit is ‘n mooi manier om te sê: jy is ‘n suinige, selfsugtige, mislukke persoon om saam mee te woon.

Die draaipunt het vir my gekom toe Janet in ‘n baie liefdevolle maar eerlike gesprek vir my gesê het dat sy mal is oor my en dat daar nie baie dinge is wat sy aan my sal wil verander nie, behalwe my depressiewe oomblikke. Dit was nie vir haar lekker om ‘n spasie te deel met iemand was soos ‘n emosionele swart gat alle vreugde en geluk insluk rondom my nie.

In die verlede sou ek net my oë gerol het en gedink het, maar sy verstaan nie – ek alleen verstaan my smart en pyn.

En toe tref dit my.

Dit is nie net alleenlik my smart en pyn nie, dit is nie alleen my depressie nie. Wanneer ek in my depressiewe gat val, dan suig ek al die mense wie ek lief het ook in daardie swart gat. Dit was regtig vir die eerste keer daardie dag toe ek besef dat my innerlike depressiewe wereld het ‘n uiterlikke effek op die mense rondom my. WOW!

Ek dog ek was alleen.

Daar het op daardie oomblik, iets in my binneste, kristalhelder geraak:

EK WIL HIERDIE DEPRESSIE BEGIN VEG.

As ek my depressie vir myself kon hou, sou ek alleen daardie las dra (ag siestog ek het myself so baie jammer gekry. Dalk ‘n opvolg artikel.) Maar omdat ek nie my depressie vir myself kon hou nie, wou ek nie meer so ‘n persoon wees nie.

Tot op hierdie stadium het ek geweet ek sukkel met depressie, maar daar was geen begeerte om dit te veg nie. Voordat jy weer sal kan lag en gelukkig wees in jou lewe, sal jy ‘n punt moet bereik waar jy besef hierdie brein siekte is iets wat nie net jou beinvloed nie, maar ook die mense rondom jou.

Daar moet ‘n begeerte om dit te WIL veg gebore word in jou binneste.

Hierdie was die draaipunt in my psige.

Maar ek wil graag dit duidelik maak dat ek nog baie ver was om enige oorwinning oor hierdie siekte te kry, maar iewers in my diepste binne was daar ‘n skakelaar wat aangeskakel was.

Depressie maak nie net die lyer daarvan selfsugtig nie, maar ook die familie en vriende van die depressie lyers. Die mens is ‘n emosionele dom ding, in die sin dat ons net kan voel wat ons voel.

Ons sukkel om te voel wat ander voel. En dan maak ons baie keer die afleiding, maar omdat ek nie so voel nie, behoort jy nie anderste te voel nie.

Hoe baie keer sal die geliefdes van ‘n depressie lyer vir hulle sê: “Ag nee, kyk hoe lekker is dit hier. Kom geniet dit hier saam met ons.”

Moenie selfsugtig wees om depressie af te maak asof dit niks is nie, net omdat jy dit nie voel of verstaan nie.

Depressie is ‘n selfsugtige siekte want dit forseer sy emosies op die mense rondom hom, maar terselfdertyd is dit selfsugtig, wanneer die mense wat dit nie voel nie, dit ontken.