Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Kategorie: Drome

My herhaalde droom waar ek en my pa mekaar met vuiste slaan

fight

Drome is vir my belangrik en is baie keer die eerste leidraad tot hoe jy werklik diep binne voel. En wanneer jy jou tema drome kan identifiseer, is jy so veel nader om jou siel-mens te verstaan. In die laaste jaar of so het ek ʼn nuwe tema droom begin ontwikkel. Een wat altyd deur dieselfde gebeurtenisse getrigger word en wat min of meer dieselfde trant volg.

As ek kan bieg, ek hou glad nie van die nuwe tema in my drome nie en ook nie die uitleg daarvan nie.

Die nuwe droom tema: Ek en my pa baklei, skree op mekaar en eindig om vuis te slaan. (Die drome eindig nooit met ʼn wenner of met ʼn oplossing nie.)

Die droom:

Die nuutste episode in die “Baklei met my pa” reeks het ek net ʼn paar aande gelede gedroom.

Ek was tronk toe gestuur vir ʼn seksuele wandaad. Ek was gevang tydens masturbasie of so iets.

My vonnis? 8jaar in die tronk!

Toe ek my 8jaar vonnis voltooi het, het ek terug huis toe gegaan waar my familie was. In die droom het ek twee susters en ‘n broer gehad. Wie ek almal in die bed saam gevind het besig met ‘n threesome. Ek het dadelik toe na hulle geloop en baie emosioneel hulle vermaan. Ek het my twee susters 3 keer elkeen met die plathand in die gesig geslaan en my broer 3 keer met die vuis.

Ek skree op hulle dat hulle weet nie wat hulle doen nie. Ek het 8jaar gekry vir ietsie kleins, wat gaan hulle kry? Maar hulle het my net aangekyk asof hulle iets weet wat ek nie van bewus was nie.

Met trane wat by my wange afrol loop ek na my ouers se kamer toe en probeer myself kalmeer om vir hulle die skokkende nuus te vertel. Al wat ek kon uiter deur die snikke is dat ek my broer en susters geslaan het. Dit het dadelik my pa briesend gemaak. Hy het oor die bed gespring en my begin slaan. Ek keer en sê: “Laat ek net verduidelik. Laat ek net #*@ verduidelik. #@* laat ek praat.”

Tussendeur die houe verduidelik ek dat ek my broer en susters in die bed saam gekry het besig met ‘n threesome. My pa hou my op slaan en gee so paar tree terug. Sy antwoord lui nog in my ore:

“Dis tegnies nie ‘n threesome nie, want hulle het nie ‘n videotape daarvan gemaak en dit as porn verkoop nie.”

Die droom eindig waar ek stukkend, emosioneel, geestelik en vleeslik daar staan in die absolute ongeloof dat hierdie bloedskande threesome oorkyk word.

 

My Interpretasie

Hierdie tema drome waar ek en my pa baklei het niks te doen met my verhouding tussen my en my pa nie. Dankie tog! Ons verhouding is sterk, ons gesels gereeld, ons ondersteun mekaar en is lief vir mekaar.

Maar ongelukkig verteenwoordig my pa in my drome die leierskap van die kerk.

En die trigger vir hierdie tema drome is elke keer wanneer ek en iemand in die kerk baklei.

Die broer en susters in die droom is ook nie my regte suster nie, maar my geestelike broers en susters.

Die huis waarnatoe ek terug gekom het na my tyd in die tronk, en wat nog steeds my begeerte is om te wees en werk (bedien), is die kerk.

Dit is in hierdie huis (kerk) waar ek my broers en susters en my ouers (leierskap, reëls, etiek en dogma) vind.

Toe ek begin het met my Gesonde Seks bediening so 5 jaar gelede het dit vir my gevoel of ek tronk toe gestuur word vir hierdie “lus” wat ek nou mee gevang is.

Ek voel nie meer so nie. Ek is gemaklik in my Gesonde Seks roeping en lus vir my is nie ‘n lelike ding nie. So ek voel nie meer asof ek in die tronk is nie. (Dalk wil my ‘familie’ my nog in die tronk hê, maar ek is nie meer in my eie tronk nie.) My begeerte was en is nog steeds om die Gesonde Seks boodskap in die kerk vir my broers en susters te verkondig.

Wat ek ongelukkig oor en oor vind in my spreekkamer is die hoer en rumoer van my geestelike broers en susters en die absolute “Sshhhh” van die kerk.

Dit maak nie vir my sin wanneer een van die grootste gemeentes in Suid Afrika hulle huweliksfokus bediening beëindig nie. Die 5 grootste gemeentes in Pretoria het almal vir my dieselfde gesê toe ek gratis my dienste as ‘n seksuoloog aanbied. “Nee, toemaar ons mense het nie seks probleme nie.”

Goed om te weet, maar jy lieg vir jouself!

Die antwoord is nie dat die kerk net meer moet toelaat om oor seks te praat nie, sy moet heeltemal haar siening rondom seks verander. Want sy fokus om seksuele wandade tronk toe te stuur, maar die eintlike vrot te ignoreer.

Vanoggend in die stort snap ek iets. Dalk is sy vas gevang in ‘n gevoel van moedeloosheid en hulpeloosheid om die bloedskande-vrot te hanteer en genees dat sy oorreageer om al die “klein” seksuele wandade hard te vonnis.

Sy het baie om te sê en haar etiek is duidelik oor masturbasie, sex toys, pornografie en seks voor die huwelik, (Waar ek tot vandag toe GEEN verse in die Bybel vind wat enige van hierdie 4 eers noem nie), maar die affairs, egbreek en intiemlose huwelike (wat die Bybel wel magdom van verse oor het), maar eerder onder die mat vee. Want gelukkig het ons nou nie ‘n movie daarvan gemaak nie!

 

Dalk moet ek ophou so hard probeer om my broers en susters op hulle ongesonde seks uit te wys en terug gaan tronk toe –  ‘die wêreld’ – wat onder geen illusies is van die seksuele dade wat daar aangaan nie. (Verduidelik die soap-on-a-rope), want duidelik niemand in my “huis” het enige seksuele probleme nie.

“Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.” – Markus 2:17

 

 

Advertisements

Ek is die antagonis

Vatican Pope Easter

 

Hierdie het ek gedroom en geskryf in die tyd toe hulle besig was om ‘n nuwe Pope in die Katolieke kerk te verkies en ek deur nog ‘n intense sosiale boelie periode gegaan het. Ek het dit nie gepost nie, want my wonde was nog rou en my ego te groot. Ek het gister nog ‘n droom gehad wat moontlik opvolg op hierdie een (ek weet nog nie), maar dit is nou die tyd om hierdie een te post.

 

Droom:

Die Katolieke kerk was besig om ‘n nuwe Pope te kies en een van die Kardinale verduidelik aan ‘n groot groep mense en mense van die pers presies hoe dit werk. Hy noem toe dat een van die Kardinale by God gaan hoor wie wil God Pope hê en dan kies almal vir daardie persoon. Net toe spring daar iemand uit die gehoor uit en maak sarkastiese opmerkings. “Duidelik het julle nog nie my DVD reeks gekyk nie.”
In die droom dink ek toe by myself dat hierdie man is nogal arrogant en naïef om te dink dat die kerk na sy DVD reeks gaan kyk oor al die kerk se foute.

Uitleg:

Die uitleg is heel eenvoudig. Ek is daardie arrogante en naïewe man. Ek is die antagonis in die droom. Baie van my boodskap oor Gesonde Seks challange die tradisionele kerk seks-siening. Maar net omdat ek ‘n nuwe ander boodskap het beteken nie dat die kerk haarself aan my gaan steur nie of selfs dat my boodskap die regte boodskap is nie.

Is daar iets soos DIE regte boodskap?

Is die mense nie te kompleks vir net een boodskap nie?

Ek weet nie!

So hier is wat ek leer van hierdie droom. Hou aan met my boodskap (DVD reeks) want dit is ‘n boodskap wat ek in glo. Maar moenie die boodskap teen die kerk verdedig nie, want dan lyk dit asof ek teen die hele kerk baklei. En ek doen nie!
So ek sal aanhou met my boodskap en ophou dit verdedig en toe laat dat die vrug van die boodskap vir dit self getuig. (of nie)

Die veiligheid van die Kerk of die onsekerheid van Gesonde Seks?

As jy nog nie my vorige drome gelees het nie, sal dit sinvol wees om dit te lees om die konteks van my droomwêreld beter te verstaan.

Elke keer wanneer ek by my ouers in die Kaap gaan kuier dan los dit my met ’n vraag? “Moet ek nie dalk in die kerk rigting gaan nie? Ek kan ook oor normale dinge preek! Ek is ook lief vir Jesus! Ek weet ook hoe om te bid en Bybel te lees!”

Vir die van julle wat nog nie weet nie, my ouers het ’n gemeente in die Kaap begin so jaar of so gelede “Die Bron” en die seëning van die Here is so duidelik daarop dat dit my lus maak om ook deel daarvan te word. Toe my ouers met die gemeente begin het, het hulle vir my suster en haar man, wat toe pastore in Kuruman was, beroep Kaap toe. (Die weer is ’n bietjie beter in die Kaap hoor ek.) Nou sit my hele familie in die Kaap, in die bediening, in dieselfde kerk, besig om die Here se koninkryk te bou. En waar is kiepie? Alleen in Pretoria besig om met mense te praat oor hulle seks lewens!

Hierdie was vir my ’n moeilike besluit gewees om nie die veiligheid van die kerk te kies nie. Veiligheid in die sin van, teologiese veiligheid, finansiële veiligheid, covering veiligheid en hate mail veiligheid. (Ek is seker daar is ook predikante wat hate mail kry!)

Ten spyte van die hunkering in my om in te blend en die mainstream ding te doen kry ek elke keer die gevoel om te bly en om aan te gaan met Gesonde Seks. Na een van my Kaap trips droom ek hierdie droom.

Droom:

Ek staan in ’n bunker wat in ’n berg gebou is. Daar tipiese weermag bunkers wat gebou is vir veiligheid. In die bunker loop my ouers rond, my suster en haar man. Dit is hulle bunker. Ek inspekteer die bunker van hoek tot kant en bewonder die veiligheid daarvan. Ek oorweeg dit om daar te bly.

Ewe skielik vind ek myself in ’n landery. Die grond was sopas klaar geploeg en in die middel van die landery staan my KIA kar en soos wat ek daarna toe loop verander die KIA na ’n Hyundai H1 (My droom kar). Ek sien hoe die skuifdeur oop staan en die kinder se tasse is oop en al die klere is orals gestrooi. Iemand het my beroof. Ek is so kwaad vir die Here en vra vir Hom hoekom het Hy dit toe gelaat? Hoekom het hy ons nie beskerm nie?

Met daardie vraag word ek wakker en ontvang dadelik die interpretasie van die droom.

Interpretasie:

Die bunker is natuurlik my ouers se kerk wat ek seriously eye. En terwyl ek probeer om my bediening daar te maak werk, word daar van my huidige bediening (karre praat baie maal van ministry – veral as dit ’n traveling ministry is) gesteel. Die antwoord is duidelik. Omdat ek nie al my aandag by my Gesonde Seks bediening plaas nie, maak ek myself oop vir potensiële skade. God se beskerming lê daarin om in Sy wil te wees vir jou lewe. God beskerm en seën my ouers en suster in die kerk omdat dit God se wil is vir hulle. God seën en beskerm my in my Gesonde Seks bediening want dit is Sy wil vir my.

Die upgrade van die KIA na die H1 praat weer van groei en momentum in my bediening. Die feit dat die kar in die middel van nêrens staan, kan na ’n paar dinge verwys. Dat my traveling ministry my gaan neem na plekke soos, Steelpoort, Christiana, Koster en Kanoneiland. Dit kan ook verwys na my vorige droom oor moenie die kansel na jaag nie, waar ek alleen op die grondpad ry. Gesonde Seks is ’n alleen bediening in die sin dat daar nie baie pioneers is wat die onderwerp van Gesonde Seks in die kerk of onder die Afrikaners oopgebaan het voor my nie.

Maar wat my die meeste opgewonde maak oor hierdie droom was dat die kar in die middel van ’n geploegde landery gestaan het. Hierdie is bevestiging waar ek voel die Here my spesifiek geposisioneer het. Nie in die landerye wat gereed is om geoes te word nie, waar die kerk homself bevind. Lukas 10:2 “Jesus het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Maar op ’n dor stuk land. Op sommige plekke moet daar nog gedisc word, geploeg en dan begin die saai proses. Die werk van ’n pionier. Ground breaking work. Die afbreek van ou taboes. Die voorstelling van nuwe Gesonde Seks filosofie en gedagte patrone. En ultimately die saaiing van ’n nuwe generasie wat die ware betekenis van intimiteit verstaan en geniet.

 

 

 

Moenie die kansel najaag nie

Opvolg tot “‘n Kerk of nie-Kerk boodskap?” My Gesonde Seks bediening het tot ’n punt gegroei waar dit aandag vereis het. Nie ek of die kerk waar ek was kon langer dit ignoreer nie en ’n besluit moes gemaak word hoe ek my Gesonde Seks boodskap gaan verpak. Gaan ek dit so verpak om nie die kerk-ganger se vere te veel te ruffle nie of gaan ek dit so verpak dat dit nie aan die wêreld daar buite aanstoot gee nie. (In retrospek dink ek nie ek kry enige van die twee goed reg nie.)

Op daardie stadium van my bediening was ek nog baie onseker oor Gesonde Seks en wat ek daarmee moet doen en het die meeste van my tyd in gebed en bepeinsing deur gebring opsoek na helderheid. Ek kry toe ’n droom.

Die droom

Ek sien hoe ek en my vrou in my X3 BMW op die N1 ry. Die pad is groot en wyd. Daar is baie karre en die geboue en stede langs die hoofweg is gevestig. Ek bring die kar tot ’n stilstand by ’n klein grond afdraaipad. Janet vra vir my waarnatoe gaan ek? En ek antwoord ‘trust me’. Sy herhaal dit weer maar die keer sit ek in die passasiers sitplek en die Here sit agter die stuurwiel en antwoord ‘trust Me’.

Ek draai toe af op die grondpad wat nou 90grade wegbeweeg van die hoofweg. Ek sien hoe dit al hoe kleiner agter my word. Die grondpad is klein en ongemaklik. Na ’n hele end se gery is daar ’n draai in die grondpad en ek kan nou weer die hoofweg voor my indie vêrte sien. Die grondpad sluit nooit weer aan by die hoofweg nie, maar eindig tog in dieselfde stad, doer in die vêrte.

Soos wat ek aanhou om op die grondpad te ry begin daar klein huisies en geboue opspring langs die pad. (Daardie tiepe geboue wat jy in die Western movies sien, al wat gekort het in die droom was die tumbleweeds wat oor die pad gerol het). Die spoed van die ontwikkeling langs die grondpad was indrukwekkend. Selfs die grondpad was besig om deur ’n metamorfose opgradering te gaan. Dit het breër geword, dit was geskraap en dit was geteer.

Ek ry toe met my X3 BMW in ’n KIA garage in om my ou kar in te ruil vir ’n nuwe SUV.

Die Interpretasie

Die interpretasie van die droom was duidelik die oomblik toe ek wakker word. Die hoofweg is die kerk, die tradisionele manier van bediening. Dit is gevestig en bedien baie mense en het baie motors (ander mense se bedienings) daarop.

Die feit dat ek in my huidige kar gery het, het gepraat van die hier en nou. Die grond afdraaipad is die keuse wat ek oor gewaarsku was. Wie gaan jy bedien? Hoe gaan jy jou boodskap verpak? Ek volg my hart en sê vir Janet sy moet my vertrou. Alhoewel logies dit nie sin maak nie, sy moet my vertrou want ek voel iets in my hart. Maar ten selfde tyd soos wat ek my vrou op die Gesonde Seks paadjie neem, voel ek die Here neem beheer van my toekoms en roeping en gee my rustigheid en sê ek moet Hom vertrou, Hy het ’n plan.

Die grondpad is die grys-area, dit is nie die normale wit en swart absolutes van die hoofweg bedieninge nie. Maar die belofte is daar dat daar groei sal wees op hierdie grondpad.

Vir die mense op die hoofweg gaan dit lyk asof ek wegbeweeg en my eie ding doen. Ek self gaan soms wonder wat de hel maak ek. Maar die aanhoudende groei gaan my oortuig ek doen die regte ding. Daar is mense langs die grondpad wat eens op die hoofpad was, maar vir wat ook al rede nie meer bedien word of belangstel in die hoofweg bedieninge nie. My grondpad bediening sal vir daardie mense hulp bring en die Goeie Nuus, (al is dit vereers vermom met die Gesonde Seks goeie nuus) verkondig.

Die feit dat my BMW ingeruil word vir ’n KIA Sorrento (Ek het toe na die droom my BMW ingeruil vir ’n KIA) wys twee dinge. #1 My grondpad Gesonde Seks bediening sal groei en sal nuwe wiele kry. Maar dit gaan ’n downgrade wees van BMW na KIA. Dieselfde tiepe status downgrade as wat dit was om vanaf ’n hoofweg bediening na ’n grondpad bediening te gaan.

Die droom los my met die sekuriteit dat ek nie hoef te bekommer oor die grondpad wat ek kies nie, want dit sal suksesvol wees en dit sal op die ou einde op dieselfde plek eindig as die hoofweg, maar dit gaan vir eers eensaam en hard wees.

Die bevestiging kort daarna

Ek het al vir baie lank oorweeg om seks speelgoed via my website te verkoop en het toe alles in orde gekry om daarmee uit te rol. Die dag toe ek dit publiek maak dat ek binnekort seks speelgoed op Gesonde Seks gaan verkoop, ontvang ek ’n oproep van een my toe pastore. Hy nooi my vir ’n koffie. Na die aanvaarbare hoeveelheid van chit-chat kom hy tot die eintlike rede vir die intervensie. “Timothy ek het gesien dat jy dinge op jou website gaan begin verkoop?!” Ek weet nie of dit ’n vraag of ’n stelling was nie.

Nadat ek alles verduidelik het en so meer drop hy die bom. “Ek wil jou net vriendelik laat weet dat as jy voortgaan met hierdie besluit, gaan die kerk geforseer wees om van jou bediening afstand te doen.”

Ek kry toe dadelik ’n glimlag en sê hardop. “Hier begin die grondpad, trust (M)y.”

 

 

 

Vrees vir ‘n seuntjie van my eie

Ek was nog altyd meer van ‘n dogtertjies-tiepe-pappa. (Wat ook al dit beteken!) Selfs toe ek op skool was het ek geweet dat my oudste ‘n dogtertjie gaan wees. Dit was so sterk tydens ons eerste swangerskap, hierdie wete, dat enige iets of iemand wat die teendeel stry, ‘n baie streng en hard woord van my sou kry.

Opgewonde oupas en oumas, wie hulle eerste kleinkind verwag, het reg gestaan met drome, baba name en blou-bul baba kleure. (Dit was in die dae toe die blou bulle nog blou was!) Almal het ‘n seuntjie verwag.

Selfs die vreemde, ek neem aan Christen-broeder in die plaaslike Christelike boekwinkel wat opstap na my vrou toe en sy hand op haar maag sit en sê: “Die Here het groot planne met hierdie mannetjie.”

“Ek hoop nie so nie, want hierdie is ‘n meisiekind.”

En dan soos enige goeie charismatiese gevulde kennis-oor-die Gees Christen, het hierdie dierbare broeder net aangegaan met sy eie goddelike gevoel. “Dokters, scanners, toetse, moderne wetenskap, dit kan alles verkeerd wees, maar hierdie (g)od is nooit verkeerd nie.”

Die dude was baie naby om die ander wang te draai, want ek was goed op pad om hom by te kom.

My vrees/angs/onsekerheid vir ‘n seuntjie van my eie was so groot gewees toe die dokter ons eerste kind uithaal en haar vir my wys, het ek getwyfel. Ek het lank gestaar na die geslagsdeel van hierdie baba in die dokter se hande, maar dit wou nie in my kop registreer watse geslag nie. Ek weet nou as  seksuoloog, is die vrou se geslagsdeel baie opgeswel by geboorte en kan soos ‘n skrotum lyk, maar daar is een ander deel van die man se geslag wat gekoppel moet wees aan daardie skrotum, wat net nie daar was op my oudste nie. Die dokter moes gesien het ek weet nie waarna ek kyk nie, en sy het sag kuns genoem: “Gelukkig pappa en mamma, julle het ‘n pragtige dogtertjie.”

Die onderliggende vrees vir ‘n seuntjie van my eie het weer gaan hiberneer, net totdat die piepie-stokkie weer twee lyntjies getoon het. Die dokter het met die eerste sonar beweer dit mag dalk ‘n bulletjie wees, die keer!

Ek droom toe daardie aand, dat al die vooraf mediese-toetse en geestelike-gevoelens almal ooreenstem. Dit is ‘n seuntjie. Maar nadat hulle die kind uithaal is die geslagsdeel onontwikkeld en die dokter sê vir my dit is my besluit watse geslag hy of sy gaan uitdraai. (Gelukkig was dit net ‘n droom, maar duidelik was die onderliggende vrees vir ‘n seuntjie van my eie nog steeds iets wat by my psige gespook het.)

Ek is nie iemand wat dinge net los nie. Ek probeer dit uitpluis. Ek soek antwoorde. Ek wil verstaan. En met dié het ek ‘n paar moontlike redes vir my vrees vir ‘n seuntjie van my eie, mee vorendag gekom.

  • Ek is bang my seun gaan dieselfde seks vs. gees stryd hê as ek.
  • Dat ek nie so goeie pa sal kan wees as wat my pa vir my was nie.

Maar nie een van hierdie redes het my onderliggende vrees vir ‘n seuntjie van my eie versadig nie. Dit was nie totdat ek met een van my ooms in berading gesit het nie (ek was die persoon wie die berading ontvang het), dat hierdie vraatsugtige siels-dier tot ruste kon kom nie.

“Timothy ek dink nie dit het te doen met enige van hierdie redes wat jy wil voorgee dit is nie. Ek dink dit het baie eerder te doen met jou eie kinderjare en wat met jou gebeur het toe jy nog ‘n seuntjie was.”

In een oomblik, totale ontnugtering. Helderheid. Duidelikheid. Selfs genesing. (wel tot ‘n mate), maar genoeg só dat ek nou uitsien met die hoop dat nou met Janet se derde swangerskap dit ‘n seuntjie van my eie sal wees.

 

Ek recycle

Hierdie was my eerste droom wat ek gedroom het oor my Gesonde Seks Bediening. Dit was in daardie tydperk toe ek nog nie mooi geweet het waar my bediening gaan inpas nie en hoe die kerk die Gesonde Seks sou aanvaar nie. In werklikheid was die eerste jaar van my seksuologie loopbaan een waar daar nie net konstante bakleiery was tussen ek en die kerk nie, maar ook tussen ek en myself. Ek was in ‘n rigting gelei wat die tradisionele in my en almal rondom my baie ongemaklik gemaak het.

Die droom:

Ek het ‘n nuwe tydelike werkaanbod gekry. Die maatskappy het my geheadhunt vir die posisie. Ek stap toe deur ‘n groot scrap yard, (laat my dink aan die een in die film Gone in 60 Seconds). Dit was een van die grootste scrap yards en juis wat my nuwe job so gewees het. Ek was aangestel om die voorman van hierdie scrap yard te word. Die scrap yard het behoort aan ‘n motor maatskap. (In my droom was dit Toyota.) Aan die voorkant van die scrap yard was daar ‘n showroom gewees, waar al die blink nuwe karre uitgestal was.

Ek sien toe hoe daar in die straat buite die showroom ‘n klein ongeluk gebeur wat net ‘n klein dent in die kar se bumper gemaak het, maar dadelik was die kar na die scrap yard geneem. Dit was vir my vreemd om te sien hoe maklik die karre hier beland het. Dit was net die blink, sonder stamp of krap wat op die showroom asook in die pad kon ry.

Juis dié rede hoekom hulle my wou aanstel, want die scrap yard het nie meer plek gehad om al die nie perfekte karre te akkommodeer nie. Ek het baie opgewonde geraak oor my werk en die plannetjies het alreeds deur my kop geflits. Ek sou hulle almal recycle en terug op die pad sit. Toe ek hierdie plan met die baas van die maatskap deel raak hy baie opgewonde oor die moontlikhede. Die glimlag op sy gesig het egter net vir ’n oomblik daar gebly. Amper asof hy van iets of iemand vergeet het. Die ou-voorman van die scrap yard, wie se skoene ek tydelik sou mos instaan.

Vanuit die skaduwee betree hierdie ou-voorman. Hy het met ’n kierie geloop, in die middel van twee ander mans. (Sy bodyguards.) Dit was duidelik dat die mafia hierdie plek besit het. Hy het ’n baie slinkse glimlag op sy gesig gehad. Hy was nie bekommerd oor my recycle plan nie, want hy sou seker maak dit sou nooit realiseer nie. Hy maak te veel geld van hierdie scrap yard.

Ek sê toe vir die baas van Toyota dat ek nie bang is vir hierdie mafia nie en ek sal hulle direk challenge en bewys dat recycling beter is vir almal. Die eienaar begin toe met my smeek om nie moeilikheid te maak nie. Dit was vir my eienaardig dat almal bewus was van die mafia maar niks daarom trend wou doen nie. Ek het vas besluit, EK sal hierdie mafia stop sit.

Op daardie oomblik verskyn Morgan Freeman aan my. Ek het geweet dit is God. (As gevolg van die film Bruce Almighty.) Hy gee vir my iets om te eet en kommunikeer baie duidelik aan my dat ek nie die mafia moet aanvat nie. Ek moet net aangaan met wat ek beplan om te doen.

Ek word toe wakker.

 

Die interpretasie:

Die nuwe werk het duidelik na my nuwe seksuologie loopbaan verwys. Wees rustig Timothy, Gesonde Seks is jou destiny. (Ek sou nog ’n paar drome ontvang wat hierdie diep in my hart kom bevestig.)

Die showroom en scrap yard is alles simbolies godsdiens. Die showroom met al die mooi nuwe blink karre, is waarop baie van godsdiens op gefokus is. Daar is geen ruimte vir die vlees of om mens te wees. Sodra jy sondig, ’n krap op kry (in konteks het dit alles na seksuele skade verwys), was jy dadelik van die pad afgehaal en op die scrap yard gesit. Daar is nie ruimte in die blink mooi showroom godsdiens vir die seksuele nie.

Mense word vir geen rede met skuld gelaai, geoordeel en met klippe gestenig.

Die mafia, verteenwoordig die fariseërs van godsdiens. Die hoogmoediges wie se werk dit is om die showroom en scrap yard van mekaar te skei. Dit is hulle mafia-plig om onderskeid te maak tussen die vlees en gees en die mens op sy seksuele sondige natuur uit te wys en hom te diskwalifiseer van genade en ’n lewe van oorvloed.

Die haat teen die idea van recycling, is gebaseer op die werke van die vlees. Vir hierdie Mafia-godsdiens gaan dit oor hoe blink jy jou kar kan hou deur jou eie werke. (Redding en heiligheid deur jou eie werke.)  Recycling het alles te doen met genade. Dit is niks wat jy verdien of gedoen het nie. Maak nie saak of jy ’n klein skraap op getel het of heel te mal afgeskryf is nie, genade is daar dieselfde vir jou en vir my.

Die vrees wat die Mafia-godsdiens met recycling het (aka genade ook vir die seksuele) is dat dit in hulle oë die waarde van die showroom kar sal verminder. In werklikheid gaan dit nie oor die waarde van motor-industrie nie, maar die waarde van elke individue. Ook die wat op die scrap yard lê bedek met die roes van skuld.

Die Mafia-godsdiens het al in Jesus se dae bestaan en is nog sterk vandag. In die woorde van “Morgan Freeman”, “Moenie hulle direk aanvat nie. Gaan jy aan met jou werk. Fokus op die individue wat recycle wil word, die wat oop is tot genade en los die wat nog dit op hulle eie wil doen. Begin klein, want vir daardie een sal dit ’n groot verskil maak.

Verslaap, maar betyds!

Die son het nog nie eers opgekom op die besluit wat ek gister geneem het om met my “Binne die Glashuis” blog te begin nie en die eerste droom is alreeds opgelewer. Soos wat jy my volg sal jy agterkom dat drome ’n groot rol in my lewe speel. Dit is of die Here wat met my gesels of my binne-diep-onbewuste mens wat sy stem wil dik maak.

Sodra ek wakker word van ’n droom dan probeer ek dadelik die konteks soek wat die droom se betekenis na vore sal bring. Die hoof tema van gisteraand se droom was dat ek verslaap het. Die oombliklik konteks was dat ek my wekker moes stel vir 5am om betyds te wees vir ’n manne-ontbyt praatjie. (Sommige mense dink God is net wakker vroeg in die oggend!) Die stel van die alarm vir 5am kon vir enige ander dag die nodige konteks gee om betekenisvolheid uit my droom te neem, want dit is vir my baie traumaties om my wekker vir daardie belaglike uur van die oggend te stel. Maar hierdie droom se konteks is groter as net die stel van die wekker. Dit is die launch van my “Binne die Glashuis”.

Die droom.

Ek droom ek en Janet word wakker met die gehuil van ons kind (wat regtig gebeur het). Janet klim uit om ondersoek te gaan instel. My pa klim toe in die bed en sê vir my ek het verslaap en is laat vir my praatjie. Ek gryp na my horlosie en sien dit is 6:01am. Ek het verslaap! Ek spring toe uit die bed en gaan badkamer toe om te gaan stort. Daar vind ek my vrou en kind besig om te bad. Ek kom agter hierdie is nie ons huis nie, maar weer soos baie van my drome, my oorlede oupa en ouma se huis in die Kaap. Ek klim in die stort maar sukkel. Ek kry nie die deur toe gemaak nie, die kraan oop gedraai nie. Ek voel totaal en al onbekwaam om betyds te wees vir hierdie praatjie.

Soos wat ek in die stort besig is om myself met die dove seep te was (wat nog in sy boksie is), erken ek aan Janet dat ek nie weet wat om vir die mense te sê nie. Ek weet nie hoe gaan ek betyds daar kom nie en as ek daar opdaag weet ek nie hoe ek hulle oor Gesonde Seks gaan kan leer nie. En soos wat ek dit erken kyk ek na myself wat my probeer was met die boksie dove en ek raak opgewonde omdat ek kaal staan. Net toe sê Janet vir my dat ek niks meer nodig het om te doen as wat ek alreeds doen nie.

Ek word toe wakker 4:45am.

Interpretasie.

Ek en Janet het baie gesels oor die wysheid agter my “Binne die Glashuis” blog. Dit is serious emosionele exhibitionism. Maar binne die eerste 24uur kom bevestig die Here dat dit nie gaan oor wat ek alles vir mense oor Gesonde Seks kan leer nie. Want as dit net van my vermoë af hang dan word ek totaal en al geparaliseer met onbekwaamheid. Al wat ek kan doen, is om eerlik en opreg binne die Glashuis te staan en my eie openbaringe met die wêreld te deel.

Die feit dat my pa ook in my droom was en in baie van my drome is, is omdat hy my geestelike mentor is en ’n groot inspraak in my lewe het. My pa simboliseer ook die kerk-sisteem, wat van my verwag om nie laat te wees nie, om te perform, om ’n goeie praatjie te lewer.

Dit simboliseer ook my eie default ‘kerk’ setting wat verwag dat dit my verantwoordelikheid is om die boodskap van Gesonde Seks reg oor te dra. Werke, werke, werke!

Maar Janet se stem is simbolies die Here. Wat net weer sagkens vir my sê, dit gaan nie oor wat jy kan en nie kan doen nie, maar wat jy bereid is om deur jou lewe te weerspieël.

Die onderwerp van seks (Gesonde Seks) het verslaap. Vir jare, generasies, is daar vir ons gelieg oor die gesondheid en geestelikheid van seks. Die menslike realiteit is dat die waarheid van Gesonde Seks, verslaap het. Maar die goddelike realiteit is dat dit nie te laat is nie. En die openbaring van Gesonde Seks begin nie met wat jy kan leer of bemeester nie. Dit begin met die bewuswording en opgewondenheid van jou eie seksualiteit.

Kinders by Dosyne

Opvoedkundige komedie deur Timothy Kieswetter

WellnessseX

Understanding, Acceptance and Management of our sexual wellbeing

goeienuusloli

Ek deel myne...kom deel joune!

tamatieland

'n paar gedagtes

Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Timothy Kieswetter's Blog oor Gesonde Seksualiteit

Om 'n gesonde gesindheid rondom ons seksualiteit te ontwikkel.

%d bloggers like this: