Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Kategorie: Gedagtes

My 2015 in 500 woorde

2015

Dit was hierdie jaar waarin ek vrede gemaak het dat ek ‘n berader is en nie ‘n besigheidsman nie. My geestelike mentor wonder of ek nie oorboord gaan om te voel dat ek die een of die ander een moet kies nie. “Hoekom kan ek nie albei wees nie?”

Sien in my kop is hierdie twee verskillende motiverings. Die berader simboliseer ‘n bediening, waar die besigheidsman simboliseer kapitalisme en finansiële sukses. Ek kan onthou toe ek ‘n jeugpastoor was het ek bedank met die rede dat ek in besigheid wil ingaan. Toe ek ‘n paar jaar later as ‘n besigheidsman uitbrand toe draai ek terug na ‘n bediening en begin seksuologie studeer. Toe begin ek geldmaak geleenthede raaksien in die sekswêreld, en begin ek weer gemotiveerd raak deur geld.

Die rede hoekom ek weer terug bediening/berader toe skuif is seker omdat in 2015 het my nuutste seks besigheid (die maak van ons eie lubes) bankrot gegaan. So eintlik is ek maar niks meer as ‘n ‘hypocrite’ nie. Ek gryp elke besigheidsgeleentheid wat my pad verbykom en wanneer dit nie werk nie, troos ek myself dat my ware passie is eintlik mense en finansiële sukses maak nie vir my saak nie.

Dit bly seker so tot die volgende besigheidsgeleentheid oor my pad kom.

In 2015 het ek besef ek kan ‘n besigheid maak om grappies te vertel in piek stilettoes. Tot dusver het ek my eie shows gereël en dit gedoen vir die “fun” daarvan en eintlik baie geld gemaak met al die uitverkoopte teaters. Nou het ek ‘n agentskap aangestel wat ‘n groot deel van die winste neem, sodat ek meer geld kan maak deur meer shows te doen. Dit is die besigheidsmodel = (have to spend money to make money.)

Hierdie pendulum swaai van bediening tot besigheid terug tot bediening, is een wat ek in my hele lewe kan raaksien. Ai, watse een om te kies? Watse een om my lewe aan toe te wei. Watse een om my siel aan te verkoop?

In die laaste paar weke van 2015 het die Here my vrygemaak van die angs en druk om die hele tyd te perform en altyd die regte ding te doen vir die regte redes en my geleer dat ek fun mag hê om net vrylik met my talente te woeker en my lewe te geniet. Want dit is in die proses om my lewe te geniet dat die meeste mense rondom my bedien sal word en ek die beste besigheidsbesluite sal kan neem.

Talente is nie veronderstel om ‘n las te wees nie, maar ‘n seëning, eerstens vir jou en dan vir die mense rondom jou.

Wel, dit is as ek die regte karakter het om nie ‘n selfsugtige genot na te jaag nie. So hier is my persoonlike groei tema vir 2016. “Verdieping van my karakter.”

O ja, 2015 het ek ook nog 2 boeke geskryf en ‘n tweeling gemaak.

Advertisements

Om nie jou kind se hand te styf vas te hou nie.

hand vashou

Elke vakansie leer ek my kinders beter ken. Alhoewel ek baie tyd met hulle spandeer oor naweke en as ek by die huis kom van werk, is dit anderste om van oggend tot aand te wees saam met jou kinders. (Ek wil net hier ‘n shout-out gee tot Janet, wat elke dag die hele dag met die kinders spandeer. Jy is awesome. Ek kort werk na hierdie vakansie.)

Ons laaste vakansie hier in die Kaap, het my kinders vir my nuwe insig gegee tot hoe om ‘n goeie ouer te wees. Janey, my oudste, nou 7, was in die kombuis besig om haarself te help tot ‘n peer. Sy kry vir haarself ‘n skerp mes uit die laai en begin om die peer te sny in skuifies. Toe ek in die kombuis stap en dit sien neem ek dadelik die mes uit haar hande en sê pappa sal sny.

Die gesigsuitdrukking wat sy gehad het is gebrandmerk in my geheue. Ek besef dadelik ek het meer as net ‘n mes van haar geneem. Ek het waardigheid en selfversekering van haar ontneem. Ek sak tot my knieë om met haar op ooghoogte te praat.

“Liefie, ek sien dat ek jou onstel het om die mes weg te neem sonder om te vra. Ek wou maar net jou beskerm, maar ek sien dat jy eintlik dit self wou doen. Ek was maar net bang jy sny jou vinger raak en daarom het ek die mes geneem. Ek het glad nie die mes van jou weggeneem omdat ek dink jy nie groot genoeg is of instaat is om hierdie peer vir jouself te sny nie. Ek dink jy kan verseker hierdie op jou eie sny. Maar mag ek die voorreg hê om hierdie peer nou vir jou te sny?”

Sy knik haar kop en glimlag weer.

Twee dae later tydens etenstyd neem ek weer instinktief die mes uit haar hand. Sy kyk my stip in my oë en sê: “Ek dog jy het gesê ons mag self in die toekoms sny?”

Hmmm, my gesprek met haar het dieper ingesink as wat ek gedink het.

Hier het ek besef dat my oorbeskerming is eintlik besig om my kind meer seer in die toekoms te verseker. As ek nie van jongs af in my kind beklemtoon dat sy sterk, selfstandig en in staat is om dinge te doen nie, is ek verseker dat mense en omstandighede in haar toekoms oor haar sal loop. So ek sal eerder dat sy dalk haarself kan raak sny, as wat ek ‘n dogter groot maak wat glo dat haar pa nie dink sy in staat is om iets te kan doen nie.

(Sy het darem nog nie in die laaste week haarself raakgesny nie. Ek bid maar baie.)

Ons het die een pragtige sonnige dag op Tafelberg gegaan. Dit was perfek. Ons het lekker gespeel en oor die rotse geklim en aan die einde van die staproete was daar ‘n groot poel water wat ek my jongste, Tenike (2), oor wou help. Ek tel haar toe op by haar handjie en sit haar aan die anderkant neer. Sy het dadelik begin huil en haar elmboog vasgehou. Vir die res van die dag wou sy nie haar linkerarm gebruik nie. Die hele aand het sy niks geslaap nie en die hele tyd gekla oor “My arm, my arm, my arm is seer.”

Pappa se hart was stukkend. Google vertel my dat my kind ‘n “nursemaid elbow” gehad het. Haar ligament in haar elmboog het uit lit geskuif soos wat ek haar opgetel het. (Ek voel soos ‘n vark.)

Die dokter kon darem haar elmboog weer in plek skuif en later daardie dag het Tenike my ‘n drukkie gegee met albei arms.

Pappa se hart is bly en smelt.

Ek het myself belowe ek tel nooit weer my kind by die hand op nie. En hierdie gebeurtenis saam met Janéy se peer-sny insident het vir my die waarde daarin laat sien om nie jou kind se hand te styf vas te hou nie.

Ja jy moet jou kinders beskerm, maar meer as dit, wil jy suksesvolle, selfvertroue volwassenes eendag kweek.

Ek is nie jou…

label

Ek is nie jou advertensie bord waarmee jy kan adverteer nie.

Ek is nie jou sticker nie waarmee jy my label nie.

Ek is nie joune om te maak soos jy wil nie.

Ek is nie jou stereotipe wat jy in jou boksie kan sit nie.

Ek is nie jou pop waarmee jy kan speel nie.

Ek is nie jou slaaf wie jy kan rond jaag nie.

Ek is nie jou slaansak wie jy jou woede op kan oefen nie.

Ek is nie jou skepsel om voor jou te buig nie.

En om jou finaal te leer hoe om my te hanteer, gaan ek myself ophou voorgee wie ek nie is nie, ophou label as gevolg van dinge in my verlede, ophou net vir myself lewe, ophou myself vergelyk met die status quo’s, ophou myself dom hou en my mind speak, ophou my kop laat sak en net nog ‘n lyn in die sand trek met die hoop dat jy hierdie keer dit respekteer, ophou myself verwyt vir my verkeerde lewensbesluite en belangrikste van alles ophou voel ek skuld jou iets.

Want as ek myself toe laat om net ekke te wees, het jy geen houvas oor my nie.

Vergeet van die Gay-antwoord, wat van die Gay-vraag?

gay-marriage-debate

Niemand van ons wil aspris verkeerd wees nie. Ons almal smag tog daarna om reg te wees. Die meeste van ons dink ons is alreeds aan die regte kant van alles en dit is net die ander wat moet bykom.

Ek persoonlik is versigtig vir iemand wat al die regte antwoorde het tot al sy eie vrae. (Klink soos ‘n  scam-artist.) Ek sal eerder iemand vertrou wat van die begin af vir my sê, ek het nie al die antwoorde nie, maar ek sal saam met jou die vrae bespreek.

Ek dink ons samelewing (en veral die godsdienstige instellings) is te gefokus op die regte antwoorde, dat ons nie meer die regte vra vrae nie.

Kom ek sit nou ook my toon in hierdie hele gay debat wat die laaste ruk Facebook so ‘hot en bothered’ gehad het.

Soos wat ek die argumente hierdie kant en daai kant toe gelees het besef ek dat ons ‘n antwoord soek vir ‘n vraag wat ons nie totaal en al verstaan nie.

Okay so die argument aan die eenkant is dat die Bybel duidelik is oor homoseksualiteit en daarom moet ons daardie standaard van elke hoek en platform verkondig. (Ek lees in die Bybel van mense wat raas gekry het vir sulke publieke kakofonie.)

“Love the sinner, but hate the sin.” Is die banier van hierdie faksie. Het enige van ons al die moeite gedoen om een van daai sinners te vra of hulle ons liefde voel, tussen deur ons haat vir wat hulle doen, dink, begeer, is?

En hoekom is daar ander dinge in die Bybel wat ook duidelik is, soos ‘n vrou wat nie mag opstaan in die kerk en preek nie, almal moet ‘n hoed op hulle kop dra, niemand mag op die Sabbat werk doen nie (en van wanneer af is die Sabbat op ‘n Sondag?), wat ons duidelik nie meer ‘n probleem het om nie te volg nie.

“So, wat sê jy nou hier Timothy? Sê jy homoseksualiteit is nie ‘n sonde nie?”

Wag ek lees gou weer wat ek tot dus ver geskryf het…

Nee ek dit nie gesê nie.

En weet jy hoekom ek dit nog nie gesê het nie?

Want ek is nie opsoek na ‘n antwoord op daardie vraag nie.

Want wat maak dit regtig saak om ‘n antwoord op daardie vraag te kry?

Gaan my teenkanting homoseksuele mense keer om homoseksueel te wees?

Gaan my goedkeuring heteroseksuele mense meer gay maak?

Gaan my antwoord die hel of die hemel voller maak?

Gaan my antwoord ‘n gay persoon se hart oorwen en my die geleentheid gee om saam met hom ‘n pad te stap?

Gaan my antwoord enigsins God se liefde vir my of die gay persoon verander?

Die vraag wat ek baie meer in belangstel om ‘n antwoord op te soek is op die twee “jobs” wat Jesus ons mee gelos het.

“Gaan uit en maak al die gay-mense straight” en “wees lief vir jou naaste, solank soos wat hy soos jy lyk”.

O, nee wag, dit is nie wat die Bybel sê nie.

Ons moet uitgaan en die goeie nuus gaan verkondig.

Uitgaan beteken buite jou gemaksone, buite jou vriendekring, buite jou omgewing, buite! In ander woorde ons moet moeite doen om die goeie nuus te verkondig.

Goeie nuus?

Die wet?

Die reëls?

Die sonde?

Of die genade?

Ons moet moeite doen om die genade storie te vertel. Dat maak nie saak wie of wat jy is nie, God is lief vir jou en Hy stel belang in jou net soos jy is. Ek is vas oortuig hoe meer mense die liefde van God in hulle lewens ervaar, sal die Heilige Gees daardie persoon in hulle eie persoonlike journey lei en oortuig van sonde en geregtigheid.

En wees lief vir jou naastes, soos jouself.

Ons liefde vir die sondaars beteken niks as hulle nie ons liefde ervaar en beleef nie. Ons kan op ons kop staan en ons liefde proklameer totdat ons blou is in ons gesig, maar as die wêreld nie ons liefde voel nie gaan ons verseker nie hulle oortuig dat ons, onsself die goeie nuus van God se liefde en genade verstaan nie.

(As hierdie artikel jou gelos het met meer vrae as antwoorde, dan is ek bly. As ons na die Bybel kyk praat God met die mens baie meer in vrae as in antwoorde. “Waar is julle?” “Hoekom het julle weg gekruip?” “Wie het vir julle gesê julle is naak?”

Jaag die regte vrae na en jy sal vind dat die regte antwoorde jou nie meer so baie pla nie, vir die blote rede dat ons nie die kapasiteit het om die volheid en kompleksiteit van die antwoord te verstaan nie.

En as jy steeds daarop aandring om DIE ANTWOORD te vind, gaan koop maar vir jou hulle CD.)

Gesonde Seks gaan oorskakel tot Engels.

Engels

Vandat my Facebook volgers meer as 1,000 was het mense my konstant gevra: “Maar Timothy hoekom doen jy nie dit in Engels nie. Daar is so veel meer Engelssprekendes en dan kan jy internasionaal bekend raak en skatryk word.”

Ek moet bieg, dit klink belowend. As die enigste ding wat in my pad staan om ‘n internasionale miljoenêr te raak, is om in Engels te begin tik, dan wow, hoekom doen ek dit dan nie?

Ek het met my antwoord uitgehou tot nou. Nou voel ek gereed om hierdie oorskakeling tot groter dinge aan te kondig…

Maar voordat ek dit doen, nog eers ‘n bietjie reminiscing. (Sien ek kan groot Engelse woorde gebruik.) Ek het ‘n nuwe online hero John Green. Hy skryf, hy vlog (video blogs, nie die slaan tegniek in BDSM nie), hy is snaaks, anderste en leersaam. En hy maak ‘n lewe van sy blog en youtube channels. So ek het gedink as ek ook miljoene mense kan kry om na my vlogs te kyk (nou wonder jy na watse vlog ek verwys, nè?) sal Google ook vir my $ begin betaal vir die voorreg om op my blog en kanaal te adverteer.

En hoe cool sal dit wees om 1,000,000 vloggers te hê (wag, ek bedoel volgers, freudian slip.) Wel, ek weet nie wanneer gaan ek kan slaap nie, want om 60,000+ mense aandag te gee is alreeds ‘n 24/7 job.

Maar sien dit is nie wat my dryf nie. Ek soek nie internasionale roem of miljoene $ nie. (Okay wel dit is ‘n leuen, wie soek nie internasionale roem nie.) Ek het nie ‘n begeerte om die wêreld te verander nie. Ek het nie ‘n Engelse juffrou op skool gehad wat vir my gesê het ek sal nooit ‘n skrywer kan wees nie. Dit was my Afrikaanse juffrou en ek moet haar nog verkeerd bewys.

Ek is lief vir die Afrikaner. Al wil ek hom soms by die strot van sy nek gryp en skut tot al sy valse hoogmoed afval. Ek identifiseer myself as Afrikaner, alhoewel ek lank al nie meer soos ‘n tradisionele een dink nie. Ek voel hy is my mense, alhoewel ek soms soos ‘n nomad in die woestyn ronddwaal.

Nee dankie internasionale wêreld. Nee dankie Engels.

Ek gaan Afrikaans bly.

Dit laat my dink aan die spreekwoord, ‘n voël in die hand is beter as twee in die bos.

So, terwyl ek die Afrikaner se voël styf in my greep het, gaan ek nie ogies maak met die Engelse birds se bush nie.

‘n Gedagte oor Verdraagsaamheid

tolerance-300x293

Kom ons begin met die woordeboek se verduideliking van die woord. (Dit is as ek dit in die Afrikaans woordeboek kan vind.)

Verdraagsaam – Inskiklik, toegeeflik, geduldig; wat ‘n ander se gevoelens eerbiedig.

Klink soos alles wat ons as Afrikaners sukkel om te doen. Eendrag maak mag, was maar iets wat ons orals gedoodle het, maar nooit regtig beoefen het nie. Jy ken die grappie, 3 Afrikaners eindig op ‘n eiland en binne ‘n paar maande is daar 4 politiese partye en 5 kerkdominasies.

Ons kan nie eers onsself verdrae nie. Hoe baie gesinne in Suid Afrika is in twee geskeur net omdat iemand besluit het om hulleself te laat grootdoop? Wat van die dogter wat onverwags swanger by die huis aankom, wat weggejaag word soos ‘n hond. (Verduidelik dalk hoekom sy so gretig was om liefde te vind in die arms van ‘n vreemde man.)

As ons nie eers ons eie bloed, velkleur en medegelowige kan verdrae nie, hoe op aarde kan die liberale mense daarbuite verwag dat ons oor die kultuur, taal, politiese en geloofsgrense kan verdra?

Inskiklik, toegeeflik, geduldig; wat ‘n ander se gevoelens eerbiedig.

Klink soos iemand wat nie baas van sy eie plaas wil wees nie.

Belangrike mense kan nie toegee nie, kan nie geduldig wees nie. Hulle stoom rol almal wat nie soos hulle dink, voel en redeneer nie. (Aka. ‘n Boelie)

Daar is baie voorbeelde van verdraagsaamheid wat Jesus getoon het toe Hy op die aarde was. Maar wat help dit ek noem dit vir jou as ons nie saamstem wie ons naastes is nie?

Is iemand jou naaste wat naas jou glo?

Of is jou naaste jou medemens, ook geskape in God se beeld?

Dit maak seker nie saak wie jy verdra of wie jy as jou naaste beskou nie. Aan die einde van die dag verklik ons onverdraagsaamheid meer van wie ons is as van die persone wie ons nie kan verdra nie.

2014 in die Glashuis

media_47454_en2014 was ʼn snaakse jaar. Nie omdat ek met my stand-up comedy show begin het nie, maar meer in die lewensbeginsels wat ek geleer het. Ek het geleer dat daar humor is in pyn en seer. Maar ons kan slegs daardie humor raak sien, wanneer ons ophou onsself jammer kry. Solank soos wat ons die pyn en seer styf vas hou, sal daar geen lig aan die einde van die tonnel wees nie.

Ja, die meeste van die pyn en seer wat oor ons pad kom het ons nie voor gevra nie, of is eens ons skuld nie. Dit was sonder permissie op ons af geboelie. En as ons daardie pyn en seer gaan toelaat om in ons harte te bly, verander ons in die emosionele boelie wat onsself onderhou.

Lig jou kop op.

Dit is nie die einde van die wêreld nie.

Die Mayans was verkeerd, ons almal lewe nog. (Dis seker die laaste jaar wat ek daai grappie kan maak.)

Jou pyn en seer gaan jou altyd laat voel dat JY die belangrikste persoon in die wêreld is.

Dis dalk hoekom ons almal ander mense ook so seer kan maak, want ons glo (vanuit ons eie pyn en seer dat EK die belangrikste persoon is.)

Daar is verligting in die besefwording dat EK nie die belangrikste persoon is nie. En sodra ek dit besef raak my pyn en seer nie meer my kruis om te dra nie, want ek sien dat elke mens op die aarde loop met ʼn kruis op hulle rug.

As jy die vermoë kan ontwikkel om vir jouself te kan begin lag en toelaat dat jou pyn en seer jou hart nie verbitter nie, dan, moontlik, sal die vreugde van die Here weer vir jou krag gee.

ʼn Ander snaakse ding wat ek hierdie jaar geleer het, is dat as God ʼn God is wat deure oopmaak, moet Hy tog ook ʼn God wees wat deure toemaak. Of glo ons dat God in ʼn grot gebore was? Maar dit is tog wat ons glo. God sal net goeie dinge oor my lewe bring en al die teenstand wat ek kry is van die duiwel af. Nie waar nie? Soms sê die Here ook nee, vir geen rede wat ons ooit sal kan verstaan nie. En om daarteen te skop en skreeu, los jou net moeg en hees. Daarom het ek hierdie jaar oorgegee aan die God wat deure oopmaak asook toe slaan in jou gesig.

Ek het ook geleer die belangrikheid om dinge te hoor wat jy nie wil hoor of hou van om te hoor nie. Moenie wegskram van sulke ongemak nie. Sit en leer.

Die volgende 2014 openbaring is dalk nie heeltemal ʼn nuwe openbaring vir my nie. Ek was al vir baie lank bewus van die feit dat wat ek doen as ʼn Bybel en Seksualiteitskenner sommige mense omkrap. Maar blykbaar het ek hierdie jaar te ver gegaan. Was dit die pink stilletos of was dit die blou-ballas? Ek weet nie. Ek het geleer dat daar mense is (3 is ‘mense’, 2 is ‘hulle’ en 1 is jou skoonma!) wie dit hulle absolute lewenstaak gemaak het om my loopbaan en reputasie te vernietig. (Ek moet bieg. My skoonma is awesome. En ek sê dit nie net omdat ek weet sy my blog lees nie, ek bedoel dit regtig.)

Ek weet ons land het ʼn te kort aan werk en ek is absoluut vir werkskepping, maar regtig. Anti-Timothy lui net nie lekker op jou besigheidskaartjie nie. Wat gaan gebeur as ek oorsee genooi word om daar my show te gaan doen. Word daai mense dan Internasionale Anti-Timothy’s?

Ek gaan toe na die Here toe met hierdie bedroefdheid in my om vir advies te vra, hoe het Hy sulke Anti-Christene gehanteer? Hy het my dadelik geantwoord.

“Ek het gesterf.”

En so moet ek en jy ook maak elke keer in onsself sterf en ons ego’s en reputasies neerlê, want ongelukkig is daar net te veel mense op die aarde en statisties sal daar wel ʼn presentasie van mense wees wat Anti-jy is.

Nee wat, ek het hierdie jaar besef dis ʼn mors van tyd om jou reputasie te beskerm, want mense gaan in elk geval hulle eie afleidings maak van jou. Ek spandeer eerder my energie om vir die mense wie naby genoeg aan my is en wie my wil leer ken, om vir hulle my karakter te wys.

En laaste, maar seker vir my die mees diepgaande openbaring wat ek in 2014 geleer het, is die belangrikheid om vir ander mense hulle waardigheid te gee. ‘Dignity’, is wanneer ons die mooi in mense raak sien en tot dit spreek en nie afgesit word of hulle afskryf oor ʼn swak keuse of ongewenste uitkoms nie. Want is ons nie tog almal in God se beeld geskape nie? Gaan soek lank genoeg, grou diep genoeg en jy sal hulle goddelike “spark” vind. ‘Dignity’n is hoe jy teenoor daardie “spark” optree, en dit in die persoon uitroep.

En as jy lank genoeg gewag het en jy vind absoluut geen goddelike “spark” in die persoon nie, dryf die demoon uit en soek van vooraf.

Vind die humor in jou tragedie.

Aanvaar wanneer God ʼn deur in jou gesig toe slaan.

Gaan rustig op daai reputasie van jou, werk eerder aan jou karakter.

En bowenal, behandel mekaar met waardigheid.

Geseënde Nuwejaar vir julle almal.

Die Eks-Christen

eks Christen

Die laaste ruk het so baie mense my pad gekruis wat hulleself aan my bekend gestel het as ʼn eks-Christen. Of dit nou tydens berading was, inleiding tot hulle Facebook vraag vir my of sommer by ʼn vriend se braai, orals ontmoet ek eks-Christene. Die res van my familie is verbaas dat daar so baie eks-Christene is, maar dit is seker omdat die res van my familie baie betrokke is in die kerk en dit is een plek waar eks-Christene nie regtig uithang nie.

Timothy waar hang jy dan rond dat jy al hierdie eks-Christene ontmoet? Dit is seker ʼn boek op sy eie, maar dit is waar dat ek nie meer so aktief in die main-stream kerke betrokke is, soos ek was nie. Dit het dalk iets te doen met my seksuologie studies en my Gesonde Seks bediening wat ek begin het.

Ek glo die beste stories om te vertel is die stories wat onder die komberse lê en broei. (En ek verwys nie nou na Gesonde Seks nie.) Ek praat van wat in al hoe meer mense (normale mense, soos ek en jy) se gedagtes en harte begin pos vat. Mensie wie nog nie hulleself kan verwoord sonder dat die samelewing dit hoor en die individu kruis as ʼn ketter nie.

Daarom wil ek graag tyd neem om hierdie groep van mense (die eks-Christen) te leer ken en verstaan.

Wat is ʼn eks-Christen?

Om hierdie vraag te beantwoord moet ons seker eers die vraag “Wat is ʼn Christen?” beantwoord.

  • Iemand wat in Jesus Christus glo.
  • Iemand wat in die Bybel glo.
  • Iemand wat kerk toe gaan.
  • Iemand wat Christus gelykvorming is.
  • Iemand wat in die wegraping en wederkoms glo.
  • Iemand wat in die doop glo.
  • Iemand wat in tale praat.
  • Iemand wat in die hel en ewige dood glo.

 

Die meeste mense sal saam stem dat as jy die meeste van hierdie lysie tick kan jy jouself as Christen asook ander sal jou as ʼn Christen beskou.

Maar is dit so eenvoudig soos dit?

Is Christenwees verminder tot ʼn een bladsy checklist?

Is Christenwees regtig in sulke duidelike swart en wit op verdeel?

Ek is nie so seker nie.

 

 

  • Iemand wat in Jesus Christus glo?

Is glo regtig genoeg? Met my mond bely? Ander mense evangeliseer? En as ek glo, bely en evangeliseer, wat van Jesus Christus is dit? Is dit dat 2000 gelede God (Moet ek in God ook glo?) in die vorm van ʼn mens op aarde kom woon het en ʼn normale menslike lewe gehad het en ʼn groot volgeling onder die Jode opgebou het, net om later gekruisig te word deur die Romeine wat bang was vir enige Joodse rebellie.

  • Iemand wat in die Bybel glo?

Wat van die Bybel moet ek glo? (Alles van begin tot einde?) Dat dit van God af kom. (Ek moet seker dan ook in God glo? Wie is Hy?) Dat God deur die Heilige Gees (Nog Iemand om in te glo?), mens geïnspireer het om presies neer te skryf wat Hy wou gehad het moes neergeskryf word. (Al was die eerste boeke van die Bybel nie geskryf nie, maar mondelings van een generasie na die ander oor vertel. Kry stories nie altyd stertjies by nie?)

Moet ek glo dat God ook die apostels en kerkvaders van oud net so geïnspireer het om die verskillende geïnspireerde skrywe te neem en te sif en rangskik om in een heilige boek te bind. (Dit was seker die eerste keer wat die meerderheid kerkvaders saam gestem het oor iets en nie ons gelos met 2, 3, 25 verskillende Bybels nie.)

 

  • Iemand wat Sondag kerk toe gaan?

Wat van die wat Saterdae kerk toe gaan? Is huiskerk ook kerk? Tel dit as ek Sondae net ʼn preek op televisies of oor die radio luister? Is Church-hopping toe gelaat of moet ek by een submit?

 

  • Iemand wat ʼn WWJD armbandjie dra?

(Wat het gebeur met almal wat daardie bandjie gedra het? Is dit nou nie meer mode om vir almal te verkondig jy doen wat Jesus sou doen nie. Of probeer doen. Tel dit? Tel dit as jy net probeer om Christus te naboots? Hoeveel strikes kry ‘n mens? Strike een = genade vir jou broer. Strike twee = wees gewaarsku my broer. Strike drie = Jy is onder sensuur my broer? (Word mense nog onder sensuur geplaas of kan ons dit nie meer bekostig om die mense wat wel nog kerk toe gaan te verkleineer en ontstel nie?)

 

  • Iemand wat glo in die wegraping?

Is dit voor of na die wederkoms? (Wederkoms? Nog iets wat ek moet glo?) Moet ek glo dat dit in my leeftyd gaan gebeur? Wat van die mense in Jesus se tyd wat geglo het dit gaan in hulle leeftyd gebeur?

 

  • Iemand wat glo in die doop?

Groot doop of klein doop? “Wat sê die Bybel oor doop?” vra die wat glo in die groot doop. “Onderdompeling, dis die Griekse woord vir doop in die Bybel” antwoord hulle sommer vinnig vinnig. (Beteken dit dat die wat die klein doop volg nie in die Bybel glo nie? Of nie Grieks ken nie?)

  • Iemand wat in tale praat?

Is om in tale (engele tale) te praat die enigste teken dat ek met die Heilige Gees gevul is? Moet alles Christene in hierdie taal praat? Wat van die Bybel vers wat sê jy mag in die publiek hardop in tale praat nie. (Gaan die wat in die Bybel glo nie ʼn probleem hê om in die kerk in tale te praat nie?)

 

  • Iemand wat glo in hel en ewige dood?

Snaaks dat jy in die hel en ewige dood moet glo om as ʼn Christen beskou te word? Is Christene bang mense, bang om hel toe te gaan. Word ons met vrees gemotiveer om ʼn Christen te wees? Hoekom is daar so baie van ons preke en evangelie wat ons verkondig gesleutel rondom die hel en ewige dood?

 

 

 

Sjoe, nou weet ek nie meer wat ek glo nie of wat ek MOET glo nie. Ek het gedog ek weet presies hoe lyk ʼn Christen. Maar nou is ek nie so seker nie.

 

Die Jode wat gewag het vir God om vir hulle ʼn verlosser te stuur, het Jesus gesien, aangeraak en gehoor, maar dit wat hulle gesien het in Jesus was nie wie en wat hulle verwag het nie, daarom wag die Ortodokse Jood steeds vir die komende Messias.

So as die regte Jesus Christus nie eers as die “Messias” geklassifiseer kon word nie, hoe op aarde dink ons ons kan 2000jaar later, die wat in Hom glo (wat ook al dit beteken) in ʼn stereotipe boksie sit om te sê: “Dis hoe ʼn Christen lyk.”

Want elke keer as ons dit doen. Elke keer as ons ʼn Christen mold maak, is daar duisende wat nie meer pas nie. (En die funny ding van hierdie Christen mold is dat hy baie verander oor die jare, so hoe ‘set in stone’ is hierdie mold waarin ons almal MOET pas.)

So vir elke boksie Christen, is daar ook ʼn eks-Christen wat nie aan die checklist voldoen nie. Hierdie eks-Christene beskou hulleself nie as Ateïste nie. Dit is heeltemal ʼn ander groepering van identiteitsankers. Nee, hulle is eks-Christene. As jy vir hulle vra: “Maar wat glo jy?” Sal hulle eenvoudig net antwoord wat hulle NIE meer glo nie. Daarvan is hulle seker. Maar nog onseker presies waarin hulle glo en hoe dit hulle identifiseer. Die belangrikste is waarin hulle NIE meer geglo nie en wat dit van hulle maak: ʼn Eks-Christen.

 

Dit laat my dink aan die verhaal van die verlore seun. Die een broer het by die huis gebly en al die reëls gevolg. (Die checklys Christen.) En die ander seun wat nie meer by sy vader se huis wou bly of die reëls daarvan volg nie. (Die eks-Christen.)

Die eks-Christen het baie mense in die wêreld gevind (ateïste = mense wat in geen God glo nie en hulle identiteit daar rondom gevorm het.) Maar die eks-Christen het nie regtig in die wêreld in gepas soos wat hy gedink het hy sou nie. Sien, net om NIE saam met die ‘checklist’ Christen saam te stem nie, maak hom nie ʼn ateïs nie. Dit maak hom net ontnugter met die Christen-mold.

Die eks-Christen vind homself vervreemd van die Christen-mold en nie verseldigbaar met die ateïs nie, wat hom los in die varkhok van emosionele en innerlike wroeging. Hy kan nie regtig terug gaan na sy Vadershuis nie, want daar is ʼn ouer broer wat nie gereed is om sy ‘anderste’ broer terug te verwelkom nie.

So vir hierdie redes, het ek besluit om ʼn eks-Christen projek aan te pak. Nie met die doel om die eks-Christen weer ʼn Christen te kry of om die Christen ʼn eks-Christen te maak nie.

Nee, my doel is baie minder sinister as dit. Ek word gedryf deur my nuuskierigheid en my passie om verskillende identiteitsgroepe te verstaan.

So as ek met hierdie artikel dalk met jou gepraat het, as jy met sommige van hierdie eks-Christen vrae kon identifiseer, wil ek jou graag uitnooi om my jou volle storie te vertel.

As jy dink jy val in die eks-Christen groep van mense, stuur vir my ʼn email om jou storie te vertel hoekom jy nie meer jouself as ʼn Christen wil of kan beskou nie, maar ook wat jou keer om jouself nie heeltemal as ʼn ateïs te beskryf nie.

Ek sal na julle stories kyk en narratiewe navorsing ontleding gebruik om die kern temas te identifiseer, hoekom, waarom, wat, hoe, waar alles om te antwoord wie is ʼn eks-Christen.

Al jou stories bly anoniem en jou naam sal nêrens uit kom nie. (Moenie jou storie hier op die blog comment nie. Stuur jou storie aan timothy@gesondeseks.co.za)

 

 

 

 

Hoekom raak die kerk van agter vol en teaters van vooraf vol?

kerkbanke

Ek is nie een wat daarvan hou om te veralgemeen nie, maar iemand voor my tyd het die observasie gemaak dat kerke van agter af vol raak en dit is slegs die mense wat laat kom wat moet boet om tot heel voor aan die kerk te loop en voor te gaan sit. (Seker omdat die Bybel sê dat die wat eerste is sal laaste wees, en die wat laaste is sal in die voorste banke moet gaan dit.)

Ek dink sommige kerke vandag sal al te bly wees om van enige kant vol te raak. (Daar is so baie kerke wat leeg loop en as ons nie iets gaan doen nie, gaan ons ʼn Europa op ons trek. En ons kerke maak nie sulke mooi katedrale om toeriste te lok nie.)

Ek het een predikant gehoor grap van sy nuwe uitvindsel waar hy ‘n kerk net met een ry banke gaan bou. Die agterste bank. En as hy vol is, skuif die hele ry outomaties vorentoe en dan verskyn daar nog ‘n bank heel agter.

Dit is nie asof ons alle byeenkomste so volmaak nie. Teaters en stadiums  word altyd van vooraf vol.

Waarom die verskil?

Is geld dalk die bepalende faktor?

Al twee vra tog vir geld om daar te wees. Een verkoop kaartjies voor die tyd en die ander een vra vir donasies na die tyd. Vir die een betaal jy geld om toegang te kry en die ander een gee jy geld om nie uit te stap met ‘n skuldgevoel nie.

(Moet die kerk eerder begin kaartjies verkoop voor die tyd tot die Sondag Erediens?)

 

Is eenkeer ‘n week nie dalk te veel nie?

Het ons dalk nie te veel kerk dat ons nie meer uitsien daarna nie? Mense sal nie elke week ‘n konsert of show wil gaan kyk nie. Dit het tyd nodig om die ‘hype’ te bou, sodat ons opgewonde is en uitsien om te gaan, inplaas van om moreel verplig te voel om elke week jouself na kerk toe te sleep.

 

Is vermaaklikheid die probleem?

Is dit omdat die Sondag Erediens nie so vermaaklik aanmekaar gesit is soos ‘n teater produksie nie? (En enige iemand wat hier antwoord maar kerk moet nie vermaaklik wees nie, wil ek graag vra hoekom nie? Hoekom moet ons gees-mens beroof word van goeie professionele vermaaklikheid?)

Kerk het al baie verander oor die jare en het baie vermaaklikheidselemente ingebring, maar tog in daardie “vernuwings” kerke raak die cinema styl stoele ook maar vol van agter af.

 

Wat van die kwaliteit van die kunstenaars?

Kan dit dalk wees oor die vertonings van die kunstenaars wat jou meer gryp en aandag behou as die analitiese eksegese van die predikant?

Ek dink nie so nie, want selfs die swakste optredes en vals sangers se shows word van vooraf vol. (Hulle word net weer van vooraf weer leeg ook.)

 

As dit niks met die geld, vermaaklikheid of kwaliteit van vertoning te doen het nie, moet daar iets wees aan die ongesien atmosfeer en gees wat aan die gebou gekoppel is.

(Ek kan alreeds voel hoe sommige van my lesers snak na hulle asem.)

“Vat ons geldsake aan.”

“Vat ons tradisie aan.”

“Vat ons preekstyl aan.”

“Maar durf jy dit net om ons kerk gebou aan te vat.”

 

Ek het al so baie predikante gehoor preek oor ons moet dieselfde wees daar buite as binne die kerk. As jy jou hande klap, opsteek en rond waai op Loftus dan moet jy dit ook Sondag in die kerk kan doen. (Okay fine, dis meestal die Pinkster predikante wat dit sê vir al die NG besoekers wat niks wil saam beweeg en sing nie.)

Maar daar is iets van die atmosfeer van Loftus wat jou hande los maak, waar die oorheersende atmosfeer in die kerk wat jou arms soos sement laat voel.

 

Wat kan die kerk doen om sy lidmate te kry om die kerk van vooraf vol te maak?

Ek dink ek het ‘n moontlike antwoord.

Die kerk moet ophou voorgee dat hy die enigste een is in die dorp.

Mense wat teater en konserte van vooraf vol maak, is nie getroud tot net een teater of konsert venue nie. Hulle sien alle teaters en venues as ‘n samekoms van mense om na dieselfde verhoog te kyk.

Mense wat teaters van vooraf vol maak word nie afgesit of gepla by wat se teater hulle besoek nie. Die teater is net ‘n venue. Die fokus is op die main attraction = die show.

Waar die MY kerk die main attraction geword het. Daar word selfs gepreek om nie na ander kerke toe te gaan nie al word dieselfde “show” daar aangebied.

Solank soos wat die kerk die hooftoneel bly, sal mense met ‘n pligsgetroude gees kerk bywoon, inplaas van ‘n vrywillige gees die venue volmaak.

Sodra ‘n venue in kerk verander, is die oomblik wanneer kerk die mense verloor.

 

 

 

 

 

Jesus: Die kind rebel

Deel #4 in my reeks “Jesus die Rebel”

Lees deel 1 hier en deel 2 hier en deel 3 hier

Vandag se Skriflesing is Lukas 2:41-52 (Ek voel weer soos ‘n dominee om Skriflesing en gebed te doen. Lees verder aan en jy mag dalk die seën ook ontvang.)

(Ek bold die dele wat ek in my dominee stem lees.)

41 Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees. 42 Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle soos gewoonlik die fees bygewoon. 43 Ná die feesviering het hulle na Nasaret vertrek, maar Jesus het in Jerusalem agtergebly sonder dat sy ouers daarvan geweet het. 44 Sy ouers het Hom eers nie vermis nie omdat hulle gedink het Hy was by ander vriende in die reisgeselskap. Maar toe Hy die aand nog nie sy opwagting gemaak het nie, het hulle by familie en vriende na Hom begin soek. 45 Toe hulle Hom nie kon kry nie, is hulle terug na Jerusalem om daar na Hom te soek.

46 Drie dae later het hulle Hom uiteindelik gekry. Hy het in die tempel tussen die leermeesters gesit terwyl Hy na hulle luister en hulle uitvra.47 Almal wat na Hom geluister het, was verbaas oor sy insig en antwoorde.

48 Toe sy ouers Hom sien, het hulle nie geweet wat om daarvan te dink nie. “Kind,” het sy ma vir Hom gesê, “waarom het jy so met ons gemaak? Ek en jou pa het rasend van bekommernis na jou gesoek!” 

49“Maar hoekom was dit nodig om te soek?” het Hy gevra. “Julle moes geweet het Ek sou in my Vader se huis wees.” 50 Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel nie.

51 Hy is toe saam met hulle terug na Nasaret en was gehoorsaam aan hulle. Sy ma het al hierdie dinge in haar hart bewaar.

52 En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het.

 

Hier lees ons dat die 12-jarige Jesus vir sy ouers ‘n bietjie van ‘n harde tyd gegee het. (Wie van julle het 12-jariges?) Daardie begin tienerjare, is die inspirasie vir die yskasmagneet wat lees “Hire a teenager while they know everything.”

En dit lyk asof Jesus ook maar ‘n normale tiener was. Ons lees dat hulle elke jaar dieselfde roetine gevolg het en daarom het sy ouers nie bekommerd geraak in die begin nie, want hy travel gewoonlik saam met vriende en familie. Maar nadat hy nie teen sy curfew die eerste aan by hulle aangemeld het nie, het hulle bekommerd geraak. (Soos enige goeie normale ouers sal doen.)

Hulle kom agter dat Jesus nie saam met hulle reis nie en draai toe om om hom  te gaan soek in Jerusalem. Na 3 dae vind hulle hom weer, in die tempel besig om tussen die leermeesters te sit en die Skrifte te debatteer.

Let op hoe sy ma Jesus roep nadat sy hom na 3dae weer vind: “Kind”

Hoe dink jy het daardie “Kind” geklink?

Jesus het so raas gekry, en as hulle Afrikaners was ‘n goeie loesing ook. (Is dit nie wat ons doen wanneer ons so lief is vir ons kinders wat ons so laat skrik dat ons hulle raas en pakslae gee en dinge sê soos: “Moenie ons weer so laat skrik nie, ons was rasend na jou gesoek gewees, weet jy wat met jou kon gebeur het.”

Nadat Jesus raas gekry het by sy ouers sê die Skrif het hy saam met hulle gegaan en was aan hulle gehoorsaam. (Dit moes ‘n baie goeie pakslae gewees het om ‘n tiener in toom te bring.)

Maar wat ek hou van Jesus (daar is so paar dinge) maar spesifiek in hierdie stuk is Sy eiesinnigheid sonder om ‘n tool te wees nie.

Hy sê vir sy ouers “maar hoekom het julle my gesoek, weet julle nie ek sou in my Vader se huis gewees het nie?”

Hulle het dit nie verstaan nie, want sy vader Josef se huis was in Nasaret waar hy ‘n skrynwerker was as beroep. Maar Jesus het homself nie gesien as iemand wat in sy pa se voetspore gaan volg nie. Hy het sy eie plan en idee vir sy toekoms gehad.

(Klink dit soos jou tiener?)

Ongelukkig maak baie ouers hierdie fout om hulle tieners se drome en toekomstige ambisies te versmoor met hulle eie onvervulde lewens ambisies. “Ek het nooit die geleentheid gehad om doktor te swot nie, so jy gaan dit doen.” Of “Ons is ‘n familie van doktors so jy gaan ook een word. Dit is in jou bloed.”

Maar sommige tieners is meer rebels as ander.

En Jesus was een van die groot rebelle. Hy wou nie soos sy vader ‘n skrynwerker word nie. Hy was nie lus om net elke jaar die normale Paasfees roetine te doen nie. Hy was lus om sy eie drome en ambisie te volg.

Taamlike groot droom en ambisie om die mens te red van ewige verderf.

Die boodskap wat ek kry van Jesus, die kinder rebel is dat ek as ouer nie die rebel in my kinders moet doodmaak en versmoor nie. Ek moet vertrou dat die ingebore passie en lewensdoel wat soos ‘n vuur in hulle brand (al is dit om die beste koekbakker of ‘vliegtuiger’  te word, my dogtertjies is immers 6 en 4, hulle sal nog daaruit groei).

Die Skrifgedeelte eindig dat Jesus in sy wysheid gegroei het soos wat hy ouer geraak het, en dit is belangrik vir enige tiener om te doen, maar sonder ‘n rebel-vuur wat in hulle hart brand sal hulle nooit die wêreld kan verander nie.

 

Kinders by Dosyne

Opvoedkundige komedie deur Timothy Kieswetter

WellnessseX

Understanding, Acceptance and Management of our sexual wellbeing

goeienuusloli

Ek deel myne...kom deel joune!

tamatieland

'n paar gedagtes

Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Timothy Kieswetter's Blog oor Gesonde Seksualiteit

Om 'n gesonde gesindheid rondom ons seksualiteit te ontwikkel.

%d bloggers like this: