Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Kategorie: Is die Bybel nog relevant?

Ek ag die Bybel te belangrik om die Bybel letterlik te neem.

noag se ark

(#6 in die reeks “Moet ek vandag nog die Bybel lees en glo?”)

 

Het jy al iets in die Bybel gelees wat jy nie verstaan het nie?

Het jy al iets in die Bybel gelees wat jy gedink het ‘No Way?’

Het jy al iets in die Bybel gelees wat jy nie in jou eie lewe beleef nie?

 

Hierdie is die tipe vrae wat mense in twee gedagtes gestuur het oor die interpretasie van die Bybel. Die een groep is om die Bybel letterlik te neem van voor tot agter want daar is ʼn vers wat sê elke jota of titteltjie van die wet sal nie weg gelos kan word nie. (Letter of komma.) Met ander woorde die Bybel is deur God geskryf en ons moet dit letterlik neem anderste is ons geloof nie soos kinders s’n nie.

Die ander groep is dalk die meer siniese groep een, wat sukkel om die dinge in die Bybel letterlik op te neem want hulle verstaan dit nie, of dit het nog nie met hulle gebeur nie, of dit kan nie wetenskaplik bewys word nie, ens. Bly lank genoeg in hierdie groep en jy gaan voel jy is slimmer as die Bybel en het dit nie meer in jou lewe nodig nie.

So dan klink dit asof ons net weer ons intellek en redeneer vermoë wegbêre en alles letterlik soos kinders opeet?

Wel, nee. Bly lank genoeg in die ‘neem alles letterlik op’ groep en daar is die kans dat jy ʼn baie “oor” geestelike persoon word wat almal rondom hulle oordeel en voor preek. Heavenly minded person, but of no earthly use.

 

Nee, ek dink daar is meer as net twee groepe. Soos ek al in my vorige artikels geskryf het. Ek soek altyd vir ʼn 3de, 4de, 5de verduideliking, moontlikheid, groep, persepsie, en dan aan die einde vat ek so ietsie van almal. Ons kan seker so paar verse uit konteks ruk as ons hierdie siening ook WIL bewys, dat daar nie meer die groepe is van Jood of Heiden nie. Maar ek is nie in die “bewys alles” groep nie, in vrees dat ek feite en verse verdraai om my opinie te staaf. Maar ek is ook nie in die “glo alles” groep nie, in vrees dat ek net ʼn geestelike robot word wat aan die lewe bly deur tradisie wat ek nie verstaan of mag bevraagteken nie.

As ons alles wil bewys gaan ons niks van die verlede wil hou nie en as ons alles wil glo gaan ons niks nuuts wil glo nie.

Jesus het met hierdie dilemma gesit toe hy op die aarde was. Hy het gereeld gesê, “Julle het gehoor dat dit gesê is….” en dan het hy een of ander wet, tradisie of profeet aangehaal. Jesus het nie daarna gesê hou aan om dit net so te glo nie, of om feite uit te bring om dit verkeerd te bewys nie.

Nee, Hy het daarop gebou.

“… maar Ek sê vir julle …” en dan het Jesus vir hulle iets nuuts kom leer.

Bv. “Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. Maar Ek sê vir julle: Moenie keer wanneer iemand slegte dinge doen aan jou nie. As hy jou op jou regter-wang klap, draai dan die ander wang na hom toe, sodat hy jou daar ook kan klap.” (As jy meer oor hierdie vers en my interpretasie daarvan lees, kan jy my vorige artikel daaroor HIER lees.)

Nou as Jesus vir die mense van sy tyd die hele tyd nuwe dinge geleer het,

en as die nuwe dinge beter is as die ou dinge,

hoekom dan nie van die heel begin af in die Ou Testament al hierdie “beter” dinge

vir die mens geleer het in die wet nie?

 

Want “die draai die ander wang ding” is nie noodwendig beter as die “oog vir ʼn oog ding” nie. Dit is net dat wanneer jy die oog vir ʼn oog beginsel al gesnap het, kan jy verder groei na die draai die ander wang beginsel.

As ons die Bybel lees moet ons die ‘groei’ potensiaal raak sien en nie ons self blindstaar aan die letterlike interpretasie van die Skrif nie. (Want letterlik, was die Bybel nie in Afrikaans geskryf nie, en daar is baie woorde en beginsels wat nie 100% oorgedra kan word van Hebreërs of Grieks na Afrikaans (of enige ander taal) sonder om ʼn jota of titteltjie te verloor nie, want ons alfabet het nie jota of titteltjies nie.

Vra jouself wanneer laas het jy as mens gegroei. Nie in kennis nie, maar in persoonlikheid, emosioneel, geestelik, in menslikheid?

Vra jouself wanneer laas het jy ʼn storie of gedeelte in die Bybel gelees wat jy verby die letterlikheid daarvan gekyk het en die groei potensiaal raakgesien het en jou ʼn nuwe paradigma gewys het?

“Jy het gehoor dit was gesê, maar Ek sê vir julle iets nuuts.”

 

Kom ek eindig af met die storie van Noag se ark. En hoe ʼn letterlike interpretasie ons blind kan hou van die geestelike “nuwe” beginsel en groei potensiaal.

Die letterlike lees van Noag se ark maak homself oop tot baie vrae, vrae wat ons weerhou van enige potensiale groei en van enige nuwe persepsie.

Was die ark groot genoeg vir al die diere?

Dinosourusse ook? (Of verduidelik dit dat hulle uit gesterf het.)

Was dit ʼn globale vloed of was dit ʼn plaaslike vloed?

As dit ʼn globale vloed was hoekom nie op ʼn ander berg top op ʼn ander kontinent tot rus gekom nie?

As ons die storie van Noag se ark slegs letterlik gaan lees, gaan ons vas hak by die tegnies verskille tussen die twee groep se interpretasies daarvan.

Maar as ons die letterlike interpretasie net vir een oomblik op sy kan skryf kan ons iets heel te mal nuuts sien.

“Julle het gehoor dit was gesê, maar Ek sê vir julle iets nuuts”

Noag se storie oor die vloed was nie die enigste of selfs die eerste verhaal van ʼn groot vloed wat alles op die aarde verwoes het nie. Elke ander kultuur van daardie tyd het hulle eie vloed storie gehad. En Noag se storie begin presies dieselfde as hulle almal sin.

God was kwaad vir die mens,

want die mens was sleg,

so God besluit om die mens te staf

en te verdrink en oor te begin.

 

In al die ander stories van die vloed is dit hoe die stories gegaan het.

Maar God wil vir die mense van daardie tyd en vir ons vandag iets nuuts kom leer.

“Julle het gehoor dit was gesê (dis hoe ʼn vloedstorie werk), maar Ek sê vir julle daar is ʼn reënboog aan die einde van hierdie storie, hoop, ʼn verbond en belofte van My.”

Die storie van Noag se ark (vir my) het nie homself in die Bybel verdien omdat dit vir ons ʼn geskiedkundige weergawe van hoekom daar nie meer dinosourusse is nie. Nee vir my maak dit nie saak of die vloed letterlik was nie. Vir my maak dit saak dat hierdie storie ANDERSTE is as al die ander vloedstories.

My God is anderste as al die ander gode.

My godsdiens is anderste as al die ander godsdienste.

My God is nie so kwaad vir my dat Hy my wil dood maak of verdrink elke keer wanneer ek iets verkeerd gedoen het nie.

Nee, my God is lief vir my.

Hy is genadig.

Hy is liefdevol.

Hy is bereid om legende te verander.

Hy is bereid om wette te verander.

Hy is bereid om reëls te verander.

VIR MY.

VIR JOU.

VIR ONS.

VIR MENS.

 

Is jou perspektief oor God nog een van ʼn kwaai ou man op ‘n troon in die hemel is, wat jou enige oomblik gaan straf? Wel, dan het jy nog nie die ‘groei potensiaal’ storie van Noag se ark raak gelees nie.

“Julle het gehoor dit was gesê, maar Ek sê vir julle…”

Advertisements

Het mense die Bybel geskryf of het God dit geïnspireer?

god-breathed-1

(#5 in die reeks “Moet ek vandag nog die Bybel lees en glo?”)

 

Wanneer daar oor die Bybel gepraat word, word die kamer vinnig op verdeel in twee groepe. Die een wat glo die Bybel is deur mense geskryf, met menslike agendas, met menslike intellek, daarom is die Bybel maar net nog ʼn goeie beste verkoper op hulle boekrak.

Dan kry jy ook die groep wat glo die Bybel, van begin tot die einde, is deur God geïnspireer en deur God ingegee (God-Breathed) en is alles in die Bybel, betroubaar, heilig, die waarheid, onbetwyfelbaar, daarom is die Bybel DIE enigste boek wat saak maak, die enigste boek wat mense moet lees, glo, volg en preek.

Die probleem wat ek het met hierdie twee groepe is dat ons iewers in ons koppe gekry het daar vir elke situasie in die lewe is daar net twee groepe of kante waaraan ons kan behoort. Ons is so vinnig om ʼn stereotipies boksie te bou dat ons in elk geval nie die lewens–veranderende-potensiaal raak sien van die situasie waarvan ons verskil.

Byvoorbeeld, hierdie debat oor die Bybel.

As ek glo die Bybel is deur mense geskryf, dan moet ek ook alles glo wat saam met hierdie ‘humanistiese’ stereotipies boksie saam gaan. Kort voor lank het ek nie meer geloof, hoop of vrede in enige iets anderste behalwe myself nie. (Here, red my!)

Net so erg is alles wat saam kom met die geestelike boksie waarin ek myself bevind as ek glo saam met die groep wat die Bybel ongetwyfeld, blindelings, glo en aanvaar as God se Woord. (Pasop as ons ooit ʼn voet verkeerd sit en nie doen of glo wat die Bybel sê nie, want kort voor lank gaan hierdie groep my uit die groep werp, om die heiligheid van die groep (ware gelowiges) te behou. (Help my, mense!)

Hierdie dualistiese wêreldsiening moet ent kry. Daar is meer as twee opsies tot ʼn situasie of debat. Met meer as een reg en een verkeerde antwoord.

Dit laat my dink aan Joshua, net voordat die Israeliete Jerigo sou aanval, staan die Engel van die Here voor Joshua. Soos ʼn enige persoon met oorlog brilletjies op vra hy vir die Engel van die Here: “Is jy vir ons of teen ons?” Eenvoudig genoeg vraag, met ʼn duidelike antwoord. Ja ek is vir julle of nee ek is teen julle. (Swart en wit. Reg of verkeerd. Gered of verlore.)

Die Engel van die Here antwoord: “Nie een van die twee nie.”

Om terug te kom tot die debat oor die Bybel en wie dit geskryf het, wil ek ook antwoord “nie een van die twee alleen nie.”

Hierdie twee groepe word gegrond deur twee fundamentalistiese paradigmas.

#1 Die mense is sondig en korrup tot sy core en moet gered word. Daarom as dit mens was wat die Bybel geskryf het of saam aanmekaar gesit het, kan ons sekerlik nie die Bybel glo nie, want dit is net ʼn ander sondige, korrupte mens se opinie.

 

#2 Dat God is heilig en alles wat Hy sê of neer skryf is die absolute onveranderbare wet. En die slegte mens het hierdie goeie God nodig om te red. (Maar wat van al die kere waar mense in die Bybel wat met God gewandel het, dit kon reg kry om God se opinie en besluite oor iets of iemand te verander? Of Jesus self, wat teen die letterlike interpretasie van Sy eie wet gegaan het. (Nou mag ons op ʼn Sabbat werk doen en selfs vark eet as ons wil!)

 

Soos enige 2D wêreld is daar lewens–veranderende-potensiaal in al twee, maar kom ons wees versigtig om nie een ʼn absoluut te maak nie.

So hier is hoe ek dit sien. (En afhangend in watter groep jy is, gaan jy of glo dit is die Here wat deur my praat, of my menslike redenerings vermoë wat hierdie goeie (of slegte punt) maak.)

Ek sien die Bybel se outoriteit lê in dit dat beide mens en God betrokke was met die skryf daarvan en albei het bydrae gelewe tot die lewens–veranderende-potensiaal daarvan.

As ons vas kyk in die ‘geestelikheid’ van die Bybel gaan ons sukkel om die ‘menslikheid’ daarin raak te sien. Dit gaan ʼn lewe en geloof produseer wat so wonderlike ‘pie in the sky’ klink maar gaan sukkel om aanklank te kry by die mense vir wie dit juis geskryf is. (ek en jy)

En as ons gaan vas staar in die ‘menslikheid’ van die Bybel gaan ons sukkel om die ‘geestelikheid’ daarin raak te sien, en so ook nooit die ‘geestelikheid’ in onsself raak te sien nie.

So as die Bybel wel geskryf is deur regte mense, in die regte wêreld, met menslike agendas, in ʼn sekere konteks, met ʼn sekere boodskap, maar ten selfde tyd ook geïnspireer en ingegee (God-Breathed) is, kan ons die vorm van die Bybel vergelyk met die vorming van mens.

Eerstens maak God die mens se menslikheid. Sy uiterlike vorm. Hy maak die mens van klei. Maar hierdie vorm, klei, ‘dierlikheid’ is nog nie mens nie. Mens is meer as net ʼn lewendige ding wat deur instink gemotiveer word. God het vir hierdie klei vorm, iets van Homself gegee, wat hy nie vir die ander diere gegee het nie. Hy het van Sy asem in hierdie ‘dierlikheid’ in geasem om mens te vorm.

Dit is hierdie kombinasie tussen vleeslikheid en geestelikheid wat ons mens maak. Mens met gees, siel en liggaam. Eintlik kan ons (as ons die Bybel op sy woord neem) sê, was die mens eers liggaam, siel en toe gees.

Ons is te vinnig om ons ‘menslikheid’ te verruil vir ʼn beter ‘geestelikheid’.

Ons is te vinnig om God se wet in die Bybel te soek inplaasvan die liefde vir ons medemens te kweek.

As God aan die einde van die samevoeging van menslikheid en geestelikheid kon sê dit is goed, dan kan ons seker na die Bybel kyk en glo en volg wat mens en God vir ons neergepen het.

 

Elke ketter het sy letter

bible-as-sanction-550x550

(#4 in die reeks “Moet ek vandag nog die Bybel lees en glo?”)

Die Bybel het homself in die middel van baie oorloë, vredeversoening, moorde, inseënings, troues, egskeidings, kerk-planting asook kerkskeuring oor die jare gevind.

So baie mens gebruik die Bybel (of dele daarvan) om hulle eie aksies te regverdig of te staaf. Nie al hierdie aksies van die mens is altyd so eerbaar en rein nie. En wanneer ʼn onrein aksie geregverdig word deur Skrif of “God het vir my gesê”, los dit baie maal die toeskouers met ʼn baie groot vraag. Die vraag is nie gewoonlik gerig teenoor die persoon wat die ongewilde aksie gedoen het nie, nee eerder hang die vraag oor die Bybel.

“Is die Bybel en Christenskap nie veronderstel om die lewe ʼn beter plek te maak nie? Hoekom dan voel ek altyd dat dit as ʼn wapen teen my gebruik word? Hoekom het skurke ook hierdie ‘wapen’ in hulle arsenaal?”

Vandag se artikel “Elke ketter het sy letter” is juis om die vraagteken weg te skuif van die Bybel en terug op die mens. En ongelukkig is daar baie ketters daarbuite wat voel hulle het nodig om gewig agter hulle motivering, filosofie en optredes te gooi en daarom die Bybel in ‘n onveilige manier te gebruik.

So baie mense het al seer gekry met die Bybel en dit is baie hartseer, want dit sit die wêreld daarbuite af om ooit weer die Bybel te lees en glo.

Ek wil graag net een gedagtes by jou los.

Is die Bybel daar om gewig te verleen vir mens en sy verwronge gedagtes?

Of is die Bybel daar om die leser se lewe te verander?

Ek glo die antwoord tot ʼn beter lewe lê met die tweede vraag.

Kom ons gebruik die Bybel minder om te regverdig dit wat ons alreeds glo en wil doen.

Byvoorbeeld – Iemand wat wil trou, moor, skei, oorlogmaak, vrede maak, wat die Bybel oopmaak op ʼn plek en die eerste vers wat hy kry wat min of meer sê wat hy alreeds oortuig is van, is mos dan ‘n duidelike bewys dat hy in God se wil is en dat God hierdie missie vir hom gegee het om te doen.

Pasop vir dit. (Die duiwel het ook hierdie trick probeer om Skrif te kwoteer om sy wil te kry toe hy vir Jesus in die woestyn sê om by die krans af te spring, want die Skrif sê God sal engele stuur om jou te beskerm en jy sal nie eers jou toon stamp nie.)

Sien, Jesus het die Skrif beter verstaan as wat die duiwel dit geken het.

Die Skrif is nie daar om die wêreld te verander nie of om berge te versit nie of selfs om wonders te verrig nie. Die Skrif is daar om ons te verander, om ons afhanklik te maak van iets groter as onsself.

As jy nou weer jou Bybel lees, doen dit met die vraag hoe en waar verander dit my lewe.

In die Ou Testament met die Tabernakel vind ons ʼn wonderlike simboliese vergelyking met die Bybel. Die Tabernakel het bestaan uit 3 dele. Die buitehof, binnehof en die Allerheiligste (waarin die Verbondsark was.)

In die buitehof was daar ʼn offeraltaar, waarop die priesters diere geoffer het vir die sondes van die volk, asook ʼn koperwaskom, om hulle hande skoon te was, voordat hulle in die binnehof kon gaan.

Die Bybel dien dieselfde doel as daardie koperwaskom. Wanneer ʼn priester in die koperwaskom gekyk het, het hy sy eie refleksie gesien. (Soos om in ʼn spieël te kyk.)

Die doel van ʼn spieël is om enige foute in jouself raak te sien en reg te maak.

Maar sommige mense gebruik die spieël om hulleself te bewonder en neer te kyk op ander wat nie so goed lyk soos hulle nie.

Kom ons lees die Bybel met die regte gebruik van ʼn spieël in gedagte, dat die doel met die lees van die Bybel is om my te verander, te help groei, oorwinning te vind, genesing te kry, vrede te maak, in plaas van om die Bybel as ʼn wapen te gebruik om ander mense aan te val.

Die Bybel was vêr voor sy tyd, so moenie dit nou uit de oude doos maak nie.

new

(#3 in die reeks “Moet ek vandag nog die Bybel lees en glo?”)

Ek hoor baie mense se rede om nie meer die Bybel te lees, glo en volg nie is dat die Bybel uit de oude doos is. Komaan, ons lewe nou in die 21ste eeu. Die wêreld is nie meer plat nie, die son draai nie om die aarde nie en al hoe meer mense aanvaar die wetenskaplike bewyse van die oerknal en evolusie.

Dinge wat in vroeër generasies as die Evangeliese waarheid beskou was, as gevolg van een of ander vers in die Bybel wat dalk te letterlik opgeneem was.

Met hierdie artikel gaan ek nou nie elke ‘ou doos’ beginsels bespreek en debatteer nie. Daar is genoeg goeie (en slegte) boeke oor elke liewe onderwerp vir jou beskikbaar.

Om die Bybel te verstaan of jy nou in die 15de eeu of in die 21ste eeu lewe hang af of jy die ewigheidswaarde daarin kan raak sien.

Die Bybel (wat beteken die boeke) is ʼn samevoeging van teks wat as heilig beskou is en saam gesit. Die Hebreeuse Bybel het 24 boeke, die Etiopiese Ortodokse Kerk Bybel bevat 81 boeke, waar ons Protestante Christen Bybel soos ons dit vandag ken, bestaan uit 66 boeke.

Die oudste heel Christen boek wat nog bestaan dateer terug na die 4de eeu. Maar dit was eers in die 13de eeu toe die Bybel in hoofstukke op verdeel was en in die 16de eeu het die Bybel verse by gekry.

So kan ons sien dat soos tyd verby gegaan het, het die vorm van die Bybel verander soos wat ons dit vandag ken. (As jy meer oor die vorm van die Bybel wil lees, lees my vorige artikel hier )

Van die vroegste, was die Bybel, of altans boeke wat die Bybel eendag sou opmaak, die mees progressiste literatuur van die tyd en kultuur. In die outyd was dit populêr om baie gode te aanbid, een god vir elke belangrike ding in die mens se lewe. Gode van liefde, weer, reën, vrugbaarheid, oorlog, ens.

Een van die eerste dinge wat die Bybel op klem lê is dat daar net een God is. Al bestaan hierdie een God uit Vader, Seun en Heilige Gees, is hulle almal een. (Baie voor sy tyd, waar die mense van die tyd gode agter elke bossie en berg gesien het.)

ʼn Oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand, klink baie ou doos vandag, maar in sy tyd was dit cutting edge. As jy my oog uit gesteek het, het ek sommer jou kop afgekap en jou hele gesin verbrand. ʼn Oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand het meer beheer en regverdigheid vir die samelewing geleer.

In die ou tyd het die vrou nie baie regte gehad nie en was maar daar vir die man se plesier. Die Bybel het begin om reëls neer te lê om vir die vrou meer te beskerm. Sy was nie meer net daar vir die man se plesier om mee te maak soos hy wil nie, maar eerder ʼn besitting van hom. Die man se ‘beste’ en mees kosbaarste besitting en daarom sou die man vir die eerste keer sy vrou beter begin oppas. (Dank die Here die Bybel leer ons om progressief te wees en nie om te dink aan die goeie ou dae nie.)

Die Bybel se wette oor hoe om ʼn vrou te behandel in die huwelik raak al hoe meer progressief. In daardie tyd kon ʼn vrou slegs trou as sy nog ʼn maagd was. As haar bruidegom op hulle wittebrood uitgevind het dat sy nie ʼn maagd was nie, het hy die reg gehad om haar dood te stenig.

Die rede hoekom die Bybel nie net een progressiewe reël kan gee nie en dit daar los nie, want soos wat die kultuur nou die vrou meer waarde gee, al bly sy net ʼn besitting van die man, bring dit ander vorme van abuse. As ʼn man nou ʼn vrou getrou het, word daar van hom verwag om haar op te pas soos sy beste besitting. Maar soos enige huwelik vandag was daar huwelike daardie tyd wat nou nie gewerk het nie, maar die verskil is wanneer ʼn man sy vrou daardie tyd geskei het, was dit onmoontlik vir haar om weer te trou sonder om dood gestenig te word op haar 2de wittebrood, aangesien sy nie meer ʼn maagd was nie.

Daarom kom daar nog ʼn progressiewe reël in Deut. 24:1 wat vir die man opdrag gee om vir sy vrou ʼn skeibrief te gee as sy nou nie dit meer vir hom doen nie. Hierdie skeibrief wys sy dan vir haar tweede man om te wys dat sy ‘wettiglik’ nie meer ʼn maagd is nie, en daarom hoef sy nie dood gestenig te word nie.

Later raak dit nog moeiliker vir die man om van sy vrou te skei. Nie meer is dit ʼn goed genoeg rede dat sy hom nie meer bevredig nie, in Matteus se Jesus dat die enigste rede hoekom jy ʼn skeibrief mag gee is wanneer sy seksueel immoreel opgetree het.

Let op, nêrens word daar permissie vir die vrou gegee om te skei nie. (Daardie deel van progressie het eers later gekom.)

Die punt wat ek wil probeer maak met hierdie baie slordige en vinnige oorsig van net een van die progressiewe wette in die Bybel is dat ons wat in die 21ste eeu lewe nie hoef te voel dat om ʼn Christen te wees, moet ons ou doos raak in ons denke sodat ons letterlike die Skrifte moet nakom nie. (Want al wat ek sien dit doen is om mense te oordeel wat rondom ons aan beweeg het, en dit laat die Christen baie agter voorkom.)

So ek daag jou uit om die Bybel te lees met hierdie progressiewe gesindheid en gees. Nie om die outydse letter te gehoorsaam nie, maar om die (nog altyd daar) progressiewe gees te volg.

My Bybel, my towerstaf!

magic-wand

(#2 in die reeks “Moet ek vandag nog die Bybel lees en glo?”)

Ons almal het al onsself in ‘n situasie bevind, waarin ons so vinnig as moontlik net wil uit.

Finansiële skuld.

Kroniese siekte.

Werkloosheid.

Abusive verhoudings.

En wanneer ons desperaat genoeg raak om uit ‘n situasie te kom, sal ons letterlik enige iets en alles aangryp wat vir ons net ‘n bietjie hoop belowe. (Maar die dinge wat vir ons gewoonlik hoop belowe, doen dit nie gewoonlik in klein hoeveelhede nie. Gaan groot of gaan huis toe, is die houding van hierdie hoop-beloftes.)

Ons begin selfs om deals met God te maak. “Here as jy my verlos van so en so, sal ek dit en dat doen. Vir ewig!”

Dalk net voordat ons ‘n deal met God probeer onderhandel, draai ons na die Bybel toe en versamel al die “power” verse wat vir ons hoop in die hope bied.

(Ek gaan nou nie enige van hierdie verse van oorwinning, verlossing, genesing en oorvloed kwoteer nie, want ek wil nie enige van die hoop Skrifte van jou wegneem nie. Die doel van hierdie artikel en met die hele reeks oor “Moet ek vandag nog die Bybel lees en glo?” is nie om jou van die Bybel af te sit nie, maar om dit net in ‘n ander lig te plaas en gebruik.)

Die probleem om net te fokus op al die hoop versies, is dat ons die Bybel begin gebruik soos ‘n towerstaf. Ons kwoteer hier, ons kwoteer daar en siedaar!

Hoe meer verse ons kwiteer hoe meer hoopvol raak ons.

Na ‘n rukkie raak dit soos ‘n Harry Potter movie waar ons net alles in ons pad wil “Abrakadabra.”

Die Here maak wel aan ons ‘n belofte van hoop wat ek glo ons aan kan vas hou sonder om te verval in “toorkunsies.”

Psalms 23:4

“Wanneer ek loop

in ’n baie donker kloof,

sal ek nie bang wees nie,

want U is naby my.

U stok en u staf

beskerm en ondersteun my.”

 

Let op hoe Dawid hier sy vertrou in God beskryf wanneer hy homself in ‘n situasie bevind waarin hy so vinnig as moontlik sal wil uit. “U stok en u staf beskerm en ondersteun my.”

Daar staan nie “U stok en u staf verlos my en toor my hier uit nie.”

Alhoewel ek in wonderwerke glo, glo ek nie daarin om die Bybel soos ‘n towerstaf te gebruik om onsself uit situasie te kry nie.

Storie na storie in die Bybel, lees ek eerder waar die Here vir die mens krag gee om deur hulle storms te gaan en met sterker geloof en karakter aan die anderkant uit te kom.

Dit is daardie karakter groei wat God in ons wil bewerkstellig. En om die hele tyd ons uit die donker kloof te toor om te trippel op die bergtoppe, gaan nie die karaktervorming wees soos wat ons nodig het om deur te gaan nie.

Moenie die Bybel weggooi omdat jy nie reg met dit kan toor nie.

Nee, die Bybel is nie ‘n towerstaf nie.

Die Bybel is iets wat ons beskerm en ondersteun.

Kom ons leer om die Bybel te gebruik soos ‘n loopstaf inplaas van ‘n towerstaf.

 

 

Hoekom jy die Bybel kan glo, ten spyte al die “foute” daarin.

bibleInfo003

(#1 in die reeks “Moet ek vandag nog die Bybel lees en glo?”)

 Ek moet elke dag mense se seks vrae beantwoord en help met hulle liefdeslewe, maar so elke nou en dan kry ek die geleentheid om mense se Bybel vrae te beantwoord en help met hulle geestelike lewe. Laas week het ek so geleentheid gehad toe een van my kliënte na die tyd vra oor hoekom die Bybel nog relevant is in vandag se wêreld. (Seker omdat jy nou ʼn Bybel App het op jou foon. Nie die tipe relevantheid waarna hy verwys het nie.)

Ek het gedog dit is ʼn baie goeie vraag. ʼn Vraag wat ekself baie lank mee geworstel het. So ek sal graag in die komende paar weke ʼn reeks artikels skryf oor my gedagtes rondom die relevantheid van die Bybel in vandag se tyd.

Ek het al baie mense gehoor sê dat die rede hoekom hulle nie die Bybel ernstig kan glo nie is omdat daar sulke duidelike “foute” in is. Verse wat lyk of hulle mekaar teenstel, verhale wat moderne wetenskap al verkeerd bewys het, al die verskillende vertalings wat elke jaar uit kom en met mekaar verskil en seker die belangrikste “fout” in die Bybel is wanneer ek ʼn vers geneem het en dit gebid het, bedink het, geglo het, geproklameer het, gevas het, bestraf het (nie die vers nie, maar die duiwel wat die vers se krag in my lewe weerhou) net om aan die einde van my geloof te kom en geen antwoord of uitwerking van hierdie vers(e) in my lewe te sien realiseer nie. Of dit nou verse oor finansies, genesing, redding vir jou kind, beskerming of liefde was, maak nie regtig saak nie. Enige persoon wat lank genoeg ʼn Christen is, het al hierdie teleurstelling deur gegaan waar hulle in die begin so hard en suiwer geglo het, maar na afloop van tyd, nie meer so seker is nie.

Maar meer hieroor in my volgende artikel getitel “Die Bybel my towerstaf”

So om terug te kom tot vandag se vraag. Hoe kan ek die Bybel glo as daar “foute” in is?

Ek sien dit so…

Verbeel jou jy gooi water in ʼn kopie. Die water bestaan buite die kopie, maar het ʼn houer nodig om die gebruik en die benutting van water te vergemaklik. Die kopie bepaal nie die eienskap of DNA van die water nie, maar wel sy toeganklikheid.

(Sjoe, daar is so baie verse wat ek aan dink om hierdie artikel ʼn lekker Bybelstudie te maak, maar dan onthou ek, ek kan nie die relevantheid van die Bybel probeer bewys deur om die einste Bybel te kwiteer nie. So ek sal probeer om filosofies te bly.)

Die water in die illustrasie verteenwoordig God. Die Lewegewende bron wat orals te vinde is. Wat gee vorm in homself het nie, maar wat in verskillende vorms voorkom en gebêre word. Riviere, dame, gebottelde water, reën, hael, swembaddens, warm water bottels, ens.

Die kopie in hierdie illustrasie is dan die Bybel (Logos, die gestrewe woord.)

Die Bybel het nie altyd as Logos bestaan nie, maar het begin as Rhema (die gespreekte woord.)

Elke generasie het die stories van Adam en Eva, Noag, die eksodus uit Egipte, Jesus se kruisiging, ens oor gedra via gespreekte woorde. Maar daar is so baie storie oor die jare dat Rhema nie meer die beste “houer” kopie was om hierdie waarheid te bevat nie. Toe het hulle hierdie Rhema stories begin neer skryf. (Logos) ʼn Baie beter effektiewe “houer” kopie om meer water (God) te kan bevat.

Die “foute” wat sommige in die Bybel raaksien is nie met die water nie, maar met die kopie. Maar gaan “houer” vorm of kopie kan ooit groter, heiliger, foutloser wees as die water wat hy hou nie.

Ons kan onsself blindstaar aan die houer (Logos) en al sy “foute” en dan mis ons die lewendewater wat die “houer” vir ons so maklik toeganklik voor maak.

Dieselfde het gebeur met Jesus.

Jesus (Emmanuel, God met mens) is ook maar net ʼn “houer” die keer in vlees vorm om God (die lewendewater) meer toeganklik te maak vir ons.

Daar was baie mense wat hulleself blindgestaar het in Jesus se vleeslikheid, Betlehem sy geboorte plek, Nasaret sy grootword plek, skrynwerker sy familie besigheid, maagdelike swanger Maria sy skandalige ouers.

Maar die mense wie verby dit alles kon kyk. Wat nie hulleself aan die “foute” van die houer afgesit word nie, hulle kon God sien. Hulle kon God beleef. Hulle kon iets sien en beleef wat die ander mense rondom hulle nie sien of beleef nie.

Wanneer ek die Bybel lees, probeer ek nie myself blindstaar aan die Logos houer nie, maar eerder soek ek vir dit wat die houer vir my toeganklik maak. Bv. Ek het nie gelewe 2000jaar gelede nie, so ek het nie Jesus gesien of beleef nie. Maar as ek van Hom lees in my eie taal (Afrikaans) in ʼn vertaling wat ek verstaan (nie die ou 1933/53 vertaling nie), dan kan ek Hom begin raak sien en beleef tussen deur al die vertaalde, kultuur, druk en geskrewe “foute”.

 

 

Kinders by Dosyne

Opvoedkundige komedie deur Timothy Kieswetter

WellnessseX

Understanding, Acceptance and Management of our sexual wellbeing

goeienuusloli

Ek deel myne...kom deel joune!

tamatieland

'n paar gedagtes

Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Timothy Kieswetter's Blog oor Gesonde Seksualiteit

Om 'n gesonde gesindheid rondom ons seksualiteit te ontwikkel.

%d bloggers like this: