Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

2014 in die Glashuis

media_47454_en2014 was ʼn snaakse jaar. Nie omdat ek met my stand-up comedy show begin het nie, maar meer in die lewensbeginsels wat ek geleer het. Ek het geleer dat daar humor is in pyn en seer. Maar ons kan slegs daardie humor raak sien, wanneer ons ophou onsself jammer kry. Solank soos wat ons die pyn en seer styf vas hou, sal daar geen lig aan die einde van die tonnel wees nie.

Ja, die meeste van die pyn en seer wat oor ons pad kom het ons nie voor gevra nie, of is eens ons skuld nie. Dit was sonder permissie op ons af geboelie. En as ons daardie pyn en seer gaan toelaat om in ons harte te bly, verander ons in die emosionele boelie wat onsself onderhou.

Lig jou kop op.

Dit is nie die einde van die wêreld nie.

Die Mayans was verkeerd, ons almal lewe nog. (Dis seker die laaste jaar wat ek daai grappie kan maak.)

Jou pyn en seer gaan jou altyd laat voel dat JY die belangrikste persoon in die wêreld is.

Dis dalk hoekom ons almal ander mense ook so seer kan maak, want ons glo (vanuit ons eie pyn en seer dat EK die belangrikste persoon is.)

Daar is verligting in die besefwording dat EK nie die belangrikste persoon is nie. En sodra ek dit besef raak my pyn en seer nie meer my kruis om te dra nie, want ek sien dat elke mens op die aarde loop met ʼn kruis op hulle rug.

As jy die vermoë kan ontwikkel om vir jouself te kan begin lag en toelaat dat jou pyn en seer jou hart nie verbitter nie, dan, moontlik, sal die vreugde van die Here weer vir jou krag gee.

ʼn Ander snaakse ding wat ek hierdie jaar geleer het, is dat as God ʼn God is wat deure oopmaak, moet Hy tog ook ʼn God wees wat deure toemaak. Of glo ons dat God in ʼn grot gebore was? Maar dit is tog wat ons glo. God sal net goeie dinge oor my lewe bring en al die teenstand wat ek kry is van die duiwel af. Nie waar nie? Soms sê die Here ook nee, vir geen rede wat ons ooit sal kan verstaan nie. En om daarteen te skop en skreeu, los jou net moeg en hees. Daarom het ek hierdie jaar oorgegee aan die God wat deure oopmaak asook toe slaan in jou gesig.

Ek het ook geleer die belangrikheid om dinge te hoor wat jy nie wil hoor of hou van om te hoor nie. Moenie wegskram van sulke ongemak nie. Sit en leer.

Die volgende 2014 openbaring is dalk nie heeltemal ʼn nuwe openbaring vir my nie. Ek was al vir baie lank bewus van die feit dat wat ek doen as ʼn Bybel en Seksualiteitskenner sommige mense omkrap. Maar blykbaar het ek hierdie jaar te ver gegaan. Was dit die pink stilletos of was dit die blou-ballas? Ek weet nie. Ek het geleer dat daar mense is (3 is ‘mense’, 2 is ‘hulle’ en 1 is jou skoonma!) wie dit hulle absolute lewenstaak gemaak het om my loopbaan en reputasie te vernietig. (Ek moet bieg. My skoonma is awesome. En ek sê dit nie net omdat ek weet sy my blog lees nie, ek bedoel dit regtig.)

Ek weet ons land het ʼn te kort aan werk en ek is absoluut vir werkskepping, maar regtig. Anti-Timothy lui net nie lekker op jou besigheidskaartjie nie. Wat gaan gebeur as ek oorsee genooi word om daar my show te gaan doen. Word daai mense dan Internasionale Anti-Timothy’s?

Ek gaan toe na die Here toe met hierdie bedroefdheid in my om vir advies te vra, hoe het Hy sulke Anti-Christene gehanteer? Hy het my dadelik geantwoord.

“Ek het gesterf.”

En so moet ek en jy ook maak elke keer in onsself sterf en ons ego’s en reputasies neerlê, want ongelukkig is daar net te veel mense op die aarde en statisties sal daar wel ʼn presentasie van mense wees wat Anti-jy is.

Nee wat, ek het hierdie jaar besef dis ʼn mors van tyd om jou reputasie te beskerm, want mense gaan in elk geval hulle eie afleidings maak van jou. Ek spandeer eerder my energie om vir die mense wie naby genoeg aan my is en wie my wil leer ken, om vir hulle my karakter te wys.

En laaste, maar seker vir my die mees diepgaande openbaring wat ek in 2014 geleer het, is die belangrikheid om vir ander mense hulle waardigheid te gee. ‘Dignity’, is wanneer ons die mooi in mense raak sien en tot dit spreek en nie afgesit word of hulle afskryf oor ʼn swak keuse of ongewenste uitkoms nie. Want is ons nie tog almal in God se beeld geskape nie? Gaan soek lank genoeg, grou diep genoeg en jy sal hulle goddelike “spark” vind. ‘Dignity’n is hoe jy teenoor daardie “spark” optree, en dit in die persoon uitroep.

En as jy lank genoeg gewag het en jy vind absoluut geen goddelike “spark” in die persoon nie, dryf die demoon uit en soek van vooraf.

Vind die humor in jou tragedie.

Aanvaar wanneer God ʼn deur in jou gesig toe slaan.

Gaan rustig op daai reputasie van jou, werk eerder aan jou karakter.

En bowenal, behandel mekaar met waardigheid.

Geseënde Nuwejaar vir julle almal.

Advertisements

‘n Groter sonde as Moord. Iets wat ek en jy elke dag van skuldig van is.

Web-In-Search-of-DignityEk is besig om ‘n skitterend boek te lees “The Private Adam” geskryf deur ‘n Joodse Rabbi (kry mense enige ander tipe Rabbi’s?) Shumely Boteach. Een van die dinge wat baie duidelik in sy boek deur kom is dignity. Waardigheid (om vir iemand waarde te gee) in Afrikaans. Dit is hierdie dignity of waardigheid wat ons in God se beeld laat wees. As ons dit verloor of weggee, verloor ons ons konneksie en beeld van God.

Hy skryf: “The preservation of dignity at all costs is a theme that recurs over and over in Jewish law. According to the Talmud, the single greatest sin – worse than killing a man or a woman, more nefarious than spilling human blood – is to rob a man or a woman of dignity by humiliating him or her in public. The Talmud writes that whoever causes someone’s face to ‘turn white’ in public – cause the blood to rush away out of embarrassment – loses his allotment in the world to come.”

Dit is heavy. As jy iemand verneder in die publiek en sy waardigheid wegneem, verloor jy jou toekenning in die ewige lewe.

Jy mag dalk hierdie lees en dink Timothy, ek het nog nooit gedink om iemand te stenig om te vloek in die publiek nie. So kom ek plaas hierdie waardigheid stelery in konteks wat ons almal dit sal verstaan.

Wie het al jou man of vrou verneder in die publiek?

Hom of haar die butt van die grappie gemaak het?

Voor jou kinders baklei en jou man of vrou sleg maak in die oë van julle kroos.

In die slaapkamer wanneer jy nie nou lus is nie, om sommer ietsie vinnig te sê, soos jy “is ook maar net altyd lus ne?”

Hierdie is alles dinge wat ons almal elke dag doen wat die waardigheid van ons huweliksmaats wegneem.

En as ons so maklik en gereeld die waardigheid kan wegstroop van die persone wat ons veronderstel is om die liefste voor te wees, hoeveel steel ons mense wie ons nie eers van hou nie, se waardigheid?

Die taxi bestuurder.

Die poskantoor amptenaar.

Die bank teller agter die einde van die maand ry.

Die persoon aan die ander kant van die anonieme vraag.

Hierdie boek, hierdie konsep van om mense te behandel sonder om hulle waardigheid weg te neem, is een wat ek vir die laaste paar weke konstant bepeins. En ek is skaam om te noem soos wat ek daarop gelet het, het ek agter gekom hoe vinnig is ek om waardigheid van mense rondom my weg te neem.

Nou dat ek myself daarop attent gemaak het, is dit vir my ‘n groot fokus in my dag om presies die teenoorgestelde te doen wat my vleeslike natuur so maklik vanself doen. Om waardigheid vir my vrou te gee, al het sy my kwaad gemaak. Om waardigheid vir my kinders te wys al was hulle stout. Om waardigheid vir my werknemers te gee al het hulle nie hulle werk gedoen nie. Om waardigheid vir die boemelaar op die straathoek te gee al het ek nie enige kleingeld by my nie.

Ek wonder of ietsie hiervan, nie in die grootste gebot (Markus 12:28-31) vir ons saamgevat is nie.

“Wees lief vir jou naastes soos jouself.”

Wat van as daardie liefde verwys tot om mekaar met waardigheid te behandel.

“Bestow dignity upon one another as you yourself have dignity.”

My pa die snaakste predikant en ek die prekerigste komediant.

AppleTreeLg

Die appel val nie ver van die boom nie. Wat seker nie ʼn slegte ding is as jy ʼn appel is nie, maar as jy ʼn ambisieuse testosteroon gedrewe jong seun is dan is daar ʼn seker rebellie wat in jou binneste groei omdat jy jouself in die skaduwee van jou pa se Appelboom vind.

My pa is verseker een van die beste aardse pa’s wat jy kry en ons het ʼn nog altyd ‘n baie goeie verhouding gehad. Daar was net een probleem volgens my. My pa was net tè bekend. Die van julle wat nie my pa, Gary Kieswetter ken nie, hy is ʼn rondreisende predikant en maak nie saak waar ek sou gaan in Suid-Afrika nie, sou almal my Gary Jnr. noem.

Ek moet bieg dat daar baie voordele is om ʼn bekende pa te hê. Maar vir hierdie jong seun wat sy eie merk op die samelewing wou maak, was die kerk-wêreld net te klein vir twee Kieswetter’s. So toe ek my loopbaan in seksuologie begin toe begin ek voel hoe hierdie appel al hoe verder van die Appelboom wegrol. My identiteit as individu was nog nooit so sterk nie, maar so ook my stresvlakke, want ek rus nie meer in my pa se bekende skaduwee nie.

Ek voel hierdie appel het vol sirkel gekom die naweek van 2-3 Augustus 2014.

Soos baie van julle weet en 750 van julle my gesien het, was ek die 2de Augustus met my een-man standup comedy show “Die Stripshow” in die Kaap gewees. Daar was baie dinge van daardie aand wat vir my uitgestaan het, maar niks so veel soos my pa wat in die voorste ry van die gehoor gesit het nie. (Die 10 rye agter hom 250 van sy gemeentelede.)

Ek begin toe my show om te noem dat alles wat ek die aand op die verhoog gaan “strip” is alles my pa se skuld. Hoekom? Want hy is só bekend dat ek ʼn male-stripper moes geword het om uit sy skaduwee te kom. (Ek is seker my pa is baie dankbaar ek het nie besluit om ʼn female-stripper te word nie.)

Die show het fantasties goed gegaan. Ek het so goed gevoel, want nie net het ek my pa se goedkeuring en ondersteuning vir my “stripping” nie, maar ook het ek vir die eerste keer in my lewe my eie Appelboom gegroei. Ek het my eie identiteit gevind en besig om my merk op die wêreld te maak. As iemand sou vra wat doen ek, kan ek met totale uniekheid antwoord: “Ek was eers ʼn jeug-pastoor en toe gaan studeer ek seksuologie en nou is ek ʼn standup komediant.”

Die aand was ʼn sukses. Nie net het die mense vir my grappies gelag nie, maar hulle het ook my boodskap ingeneem.

Die volgende oggend gaan ek saam na my pa se gemeente in die Kaap “Die Bron.” (Die van julle wat ʼn gemeente in die Kaap soek, ek kan my pa se gemeente aanbeveel, want hulle ondersteun “Stripshows.” Verseker net myne, maar nogsteeds. Facebook Die Bron)

Daar sit ek in die kerk, baie tjuff met myself en luister na my pa se preek en besef wat ek nog al die jare geweet het. My pa is die snaakste predikant. Ek het nog altyd gewonder hoekom hy nie in comedy in gaan nie, want die mense in die kerk huil soos hulle lag. (Natuurlik eers nadat hulle gekyk het of die dominee ook lag.)

My verhoogbestuur wat langs my gesit het in die kerk voordat sy weer Pretoria toe sou vlieg, stamp my in die ribbes en sê: “Ek kan sien waar jy jou sin van humor gekry het. Jou pa is vrek snaaks.”

Maar inplaas daarvan om weer daardie rebellie in my binneste te voel om uit my pa se skaduwee te beweeg en my eie ding te doen, het ek ʼn trots en dankbaarheid dat ek wel die voorreg het om my sin van humor van my pa te kry. (Nie almal het pa’s om dinge van te kry nie, en ek vir een is ʼn baie dankbare appel.)

Ek het vol sirkel beweeg net om te besef dat ek nie so anderste is soos ek probeer het om te wees nie. En weet jy wat? Dank die Here daarvoor.

Maak seker jy woon my volgende show in Pretoria by die 3de Oktober by die Centurion Teater. Hierdie sal my laaste show vir die jaar in SA wees. Ek doen die einde van Oktober 3 aande in Namibië by die Nasionale teater van Namibië in Windhoek.

Kaartjies vir albei by Computicket beskikbaar.

 

 

 

Die Eks-Christen

eks Christen

Die laaste ruk het so baie mense my pad gekruis wat hulleself aan my bekend gestel het as ʼn eks-Christen. Of dit nou tydens berading was, inleiding tot hulle Facebook vraag vir my of sommer by ʼn vriend se braai, orals ontmoet ek eks-Christene. Die res van my familie is verbaas dat daar so baie eks-Christene is, maar dit is seker omdat die res van my familie baie betrokke is in die kerk en dit is een plek waar eks-Christene nie regtig uithang nie.

Timothy waar hang jy dan rond dat jy al hierdie eks-Christene ontmoet? Dit is seker ʼn boek op sy eie, maar dit is waar dat ek nie meer so aktief in die main-stream kerke betrokke is, soos ek was nie. Dit het dalk iets te doen met my seksuologie studies en my Gesonde Seks bediening wat ek begin het.

Ek glo die beste stories om te vertel is die stories wat onder die komberse lê en broei. (En ek verwys nie nou na Gesonde Seks nie.) Ek praat van wat in al hoe meer mense (normale mense, soos ek en jy) se gedagtes en harte begin pos vat. Mensie wie nog nie hulleself kan verwoord sonder dat die samelewing dit hoor en die individu kruis as ʼn ketter nie.

Daarom wil ek graag tyd neem om hierdie groep van mense (die eks-Christen) te leer ken en verstaan.

Wat is ʼn eks-Christen?

Om hierdie vraag te beantwoord moet ons seker eers die vraag “Wat is ʼn Christen?” beantwoord.

  • Iemand wat in Jesus Christus glo.
  • Iemand wat in die Bybel glo.
  • Iemand wat kerk toe gaan.
  • Iemand wat Christus gelykvorming is.
  • Iemand wat in die wegraping en wederkoms glo.
  • Iemand wat in die doop glo.
  • Iemand wat in tale praat.
  • Iemand wat in die hel en ewige dood glo.

 

Die meeste mense sal saam stem dat as jy die meeste van hierdie lysie tick kan jy jouself as Christen asook ander sal jou as ʼn Christen beskou.

Maar is dit so eenvoudig soos dit?

Is Christenwees verminder tot ʼn een bladsy checklist?

Is Christenwees regtig in sulke duidelike swart en wit op verdeel?

Ek is nie so seker nie.

 

 

  • Iemand wat in Jesus Christus glo?

Is glo regtig genoeg? Met my mond bely? Ander mense evangeliseer? En as ek glo, bely en evangeliseer, wat van Jesus Christus is dit? Is dit dat 2000 gelede God (Moet ek in God ook glo?) in die vorm van ʼn mens op aarde kom woon het en ʼn normale menslike lewe gehad het en ʼn groot volgeling onder die Jode opgebou het, net om later gekruisig te word deur die Romeine wat bang was vir enige Joodse rebellie.

  • Iemand wat in die Bybel glo?

Wat van die Bybel moet ek glo? (Alles van begin tot einde?) Dat dit van God af kom. (Ek moet seker dan ook in God glo? Wie is Hy?) Dat God deur die Heilige Gees (Nog Iemand om in te glo?), mens geïnspireer het om presies neer te skryf wat Hy wou gehad het moes neergeskryf word. (Al was die eerste boeke van die Bybel nie geskryf nie, maar mondelings van een generasie na die ander oor vertel. Kry stories nie altyd stertjies by nie?)

Moet ek glo dat God ook die apostels en kerkvaders van oud net so geïnspireer het om die verskillende geïnspireerde skrywe te neem en te sif en rangskik om in een heilige boek te bind. (Dit was seker die eerste keer wat die meerderheid kerkvaders saam gestem het oor iets en nie ons gelos met 2, 3, 25 verskillende Bybels nie.)

 

  • Iemand wat Sondag kerk toe gaan?

Wat van die wat Saterdae kerk toe gaan? Is huiskerk ook kerk? Tel dit as ek Sondae net ʼn preek op televisies of oor die radio luister? Is Church-hopping toe gelaat of moet ek by een submit?

 

  • Iemand wat ʼn WWJD armbandjie dra?

(Wat het gebeur met almal wat daardie bandjie gedra het? Is dit nou nie meer mode om vir almal te verkondig jy doen wat Jesus sou doen nie. Of probeer doen. Tel dit? Tel dit as jy net probeer om Christus te naboots? Hoeveel strikes kry ‘n mens? Strike een = genade vir jou broer. Strike twee = wees gewaarsku my broer. Strike drie = Jy is onder sensuur my broer? (Word mense nog onder sensuur geplaas of kan ons dit nie meer bekostig om die mense wat wel nog kerk toe gaan te verkleineer en ontstel nie?)

 

  • Iemand wat glo in die wegraping?

Is dit voor of na die wederkoms? (Wederkoms? Nog iets wat ek moet glo?) Moet ek glo dat dit in my leeftyd gaan gebeur? Wat van die mense in Jesus se tyd wat geglo het dit gaan in hulle leeftyd gebeur?

 

  • Iemand wat glo in die doop?

Groot doop of klein doop? “Wat sê die Bybel oor doop?” vra die wat glo in die groot doop. “Onderdompeling, dis die Griekse woord vir doop in die Bybel” antwoord hulle sommer vinnig vinnig. (Beteken dit dat die wat die klein doop volg nie in die Bybel glo nie? Of nie Grieks ken nie?)

  • Iemand wat in tale praat?

Is om in tale (engele tale) te praat die enigste teken dat ek met die Heilige Gees gevul is? Moet alles Christene in hierdie taal praat? Wat van die Bybel vers wat sê jy mag in die publiek hardop in tale praat nie. (Gaan die wat in die Bybel glo nie ʼn probleem hê om in die kerk in tale te praat nie?)

 

  • Iemand wat glo in hel en ewige dood?

Snaaks dat jy in die hel en ewige dood moet glo om as ʼn Christen beskou te word? Is Christene bang mense, bang om hel toe te gaan. Word ons met vrees gemotiveer om ʼn Christen te wees? Hoekom is daar so baie van ons preke en evangelie wat ons verkondig gesleutel rondom die hel en ewige dood?

 

 

 

Sjoe, nou weet ek nie meer wat ek glo nie of wat ek MOET glo nie. Ek het gedog ek weet presies hoe lyk ʼn Christen. Maar nou is ek nie so seker nie.

 

Die Jode wat gewag het vir God om vir hulle ʼn verlosser te stuur, het Jesus gesien, aangeraak en gehoor, maar dit wat hulle gesien het in Jesus was nie wie en wat hulle verwag het nie, daarom wag die Ortodokse Jood steeds vir die komende Messias.

So as die regte Jesus Christus nie eers as die “Messias” geklassifiseer kon word nie, hoe op aarde dink ons ons kan 2000jaar later, die wat in Hom glo (wat ook al dit beteken) in ʼn stereotipe boksie sit om te sê: “Dis hoe ʼn Christen lyk.”

Want elke keer as ons dit doen. Elke keer as ons ʼn Christen mold maak, is daar duisende wat nie meer pas nie. (En die funny ding van hierdie Christen mold is dat hy baie verander oor die jare, so hoe ‘set in stone’ is hierdie mold waarin ons almal MOET pas.)

So vir elke boksie Christen, is daar ook ʼn eks-Christen wat nie aan die checklist voldoen nie. Hierdie eks-Christene beskou hulleself nie as Ateïste nie. Dit is heeltemal ʼn ander groepering van identiteitsankers. Nee, hulle is eks-Christene. As jy vir hulle vra: “Maar wat glo jy?” Sal hulle eenvoudig net antwoord wat hulle NIE meer glo nie. Daarvan is hulle seker. Maar nog onseker presies waarin hulle glo en hoe dit hulle identifiseer. Die belangrikste is waarin hulle NIE meer geglo nie en wat dit van hulle maak: ʼn Eks-Christen.

 

Dit laat my dink aan die verhaal van die verlore seun. Die een broer het by die huis gebly en al die reëls gevolg. (Die checklys Christen.) En die ander seun wat nie meer by sy vader se huis wou bly of die reëls daarvan volg nie. (Die eks-Christen.)

Die eks-Christen het baie mense in die wêreld gevind (ateïste = mense wat in geen God glo nie en hulle identiteit daar rondom gevorm het.) Maar die eks-Christen het nie regtig in die wêreld in gepas soos wat hy gedink het hy sou nie. Sien, net om NIE saam met die ‘checklist’ Christen saam te stem nie, maak hom nie ʼn ateïs nie. Dit maak hom net ontnugter met die Christen-mold.

Die eks-Christen vind homself vervreemd van die Christen-mold en nie verseldigbaar met die ateïs nie, wat hom los in die varkhok van emosionele en innerlike wroeging. Hy kan nie regtig terug gaan na sy Vadershuis nie, want daar is ʼn ouer broer wat nie gereed is om sy ‘anderste’ broer terug te verwelkom nie.

So vir hierdie redes, het ek besluit om ʼn eks-Christen projek aan te pak. Nie met die doel om die eks-Christen weer ʼn Christen te kry of om die Christen ʼn eks-Christen te maak nie.

Nee, my doel is baie minder sinister as dit. Ek word gedryf deur my nuuskierigheid en my passie om verskillende identiteitsgroepe te verstaan.

So as ek met hierdie artikel dalk met jou gepraat het, as jy met sommige van hierdie eks-Christen vrae kon identifiseer, wil ek jou graag uitnooi om my jou volle storie te vertel.

As jy dink jy val in die eks-Christen groep van mense, stuur vir my ʼn email om jou storie te vertel hoekom jy nie meer jouself as ʼn Christen wil of kan beskou nie, maar ook wat jou keer om jouself nie heeltemal as ʼn ateïs te beskryf nie.

Ek sal na julle stories kyk en narratiewe navorsing ontleding gebruik om die kern temas te identifiseer, hoekom, waarom, wat, hoe, waar alles om te antwoord wie is ʼn eks-Christen.

Al jou stories bly anoniem en jou naam sal nêrens uit kom nie. (Moenie jou storie hier op die blog comment nie. Stuur jou storie aan timothy@gesondeseks.co.za)

 

 

 

 

Hoekom raak die kerk van agter vol en teaters van vooraf vol?

kerkbanke

Ek is nie een wat daarvan hou om te veralgemeen nie, maar iemand voor my tyd het die observasie gemaak dat kerke van agter af vol raak en dit is slegs die mense wat laat kom wat moet boet om tot heel voor aan die kerk te loop en voor te gaan sit. (Seker omdat die Bybel sê dat die wat eerste is sal laaste wees, en die wat laaste is sal in die voorste banke moet gaan dit.)

Ek dink sommige kerke vandag sal al te bly wees om van enige kant vol te raak. (Daar is so baie kerke wat leeg loop en as ons nie iets gaan doen nie, gaan ons ʼn Europa op ons trek. En ons kerke maak nie sulke mooi katedrale om toeriste te lok nie.)

Ek het een predikant gehoor grap van sy nuwe uitvindsel waar hy ‘n kerk net met een ry banke gaan bou. Die agterste bank. En as hy vol is, skuif die hele ry outomaties vorentoe en dan verskyn daar nog ‘n bank heel agter.

Dit is nie asof ons alle byeenkomste so volmaak nie. Teaters en stadiums  word altyd van vooraf vol.

Waarom die verskil?

Is geld dalk die bepalende faktor?

Al twee vra tog vir geld om daar te wees. Een verkoop kaartjies voor die tyd en die ander een vra vir donasies na die tyd. Vir die een betaal jy geld om toegang te kry en die ander een gee jy geld om nie uit te stap met ‘n skuldgevoel nie.

(Moet die kerk eerder begin kaartjies verkoop voor die tyd tot die Sondag Erediens?)

 

Is eenkeer ‘n week nie dalk te veel nie?

Het ons dalk nie te veel kerk dat ons nie meer uitsien daarna nie? Mense sal nie elke week ‘n konsert of show wil gaan kyk nie. Dit het tyd nodig om die ‘hype’ te bou, sodat ons opgewonde is en uitsien om te gaan, inplaas van om moreel verplig te voel om elke week jouself na kerk toe te sleep.

 

Is vermaaklikheid die probleem?

Is dit omdat die Sondag Erediens nie so vermaaklik aanmekaar gesit is soos ‘n teater produksie nie? (En enige iemand wat hier antwoord maar kerk moet nie vermaaklik wees nie, wil ek graag vra hoekom nie? Hoekom moet ons gees-mens beroof word van goeie professionele vermaaklikheid?)

Kerk het al baie verander oor die jare en het baie vermaaklikheidselemente ingebring, maar tog in daardie “vernuwings” kerke raak die cinema styl stoele ook maar vol van agter af.

 

Wat van die kwaliteit van die kunstenaars?

Kan dit dalk wees oor die vertonings van die kunstenaars wat jou meer gryp en aandag behou as die analitiese eksegese van die predikant?

Ek dink nie so nie, want selfs die swakste optredes en vals sangers se shows word van vooraf vol. (Hulle word net weer van vooraf weer leeg ook.)

 

As dit niks met die geld, vermaaklikheid of kwaliteit van vertoning te doen het nie, moet daar iets wees aan die ongesien atmosfeer en gees wat aan die gebou gekoppel is.

(Ek kan alreeds voel hoe sommige van my lesers snak na hulle asem.)

“Vat ons geldsake aan.”

“Vat ons tradisie aan.”

“Vat ons preekstyl aan.”

“Maar durf jy dit net om ons kerk gebou aan te vat.”

 

Ek het al so baie predikante gehoor preek oor ons moet dieselfde wees daar buite as binne die kerk. As jy jou hande klap, opsteek en rond waai op Loftus dan moet jy dit ook Sondag in die kerk kan doen. (Okay fine, dis meestal die Pinkster predikante wat dit sê vir al die NG besoekers wat niks wil saam beweeg en sing nie.)

Maar daar is iets van die atmosfeer van Loftus wat jou hande los maak, waar die oorheersende atmosfeer in die kerk wat jou arms soos sement laat voel.

 

Wat kan die kerk doen om sy lidmate te kry om die kerk van vooraf vol te maak?

Ek dink ek het ‘n moontlike antwoord.

Die kerk moet ophou voorgee dat hy die enigste een is in die dorp.

Mense wat teater en konserte van vooraf vol maak, is nie getroud tot net een teater of konsert venue nie. Hulle sien alle teaters en venues as ‘n samekoms van mense om na dieselfde verhoog te kyk.

Mense wat teaters van vooraf vol maak word nie afgesit of gepla by wat se teater hulle besoek nie. Die teater is net ‘n venue. Die fokus is op die main attraction = die show.

Waar die MY kerk die main attraction geword het. Daar word selfs gepreek om nie na ander kerke toe te gaan nie al word dieselfde “show” daar aangebied.

Solank soos wat die kerk die hooftoneel bly, sal mense met ‘n pligsgetroude gees kerk bywoon, inplaas van ‘n vrywillige gees die venue volmaak.

Sodra ‘n venue in kerk verander, is die oomblik wanneer kerk die mense verloor.

 

 

 

 

 

Jesus: Die kind rebel

Deel #4 in my reeks “Jesus die Rebel”

Lees deel 1 hier en deel 2 hier en deel 3 hier

Vandag se Skriflesing is Lukas 2:41-52 (Ek voel weer soos ‘n dominee om Skriflesing en gebed te doen. Lees verder aan en jy mag dalk die seën ook ontvang.)

(Ek bold die dele wat ek in my dominee stem lees.)

41 Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees. 42 Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle soos gewoonlik die fees bygewoon. 43 Ná die feesviering het hulle na Nasaret vertrek, maar Jesus het in Jerusalem agtergebly sonder dat sy ouers daarvan geweet het. 44 Sy ouers het Hom eers nie vermis nie omdat hulle gedink het Hy was by ander vriende in die reisgeselskap. Maar toe Hy die aand nog nie sy opwagting gemaak het nie, het hulle by familie en vriende na Hom begin soek. 45 Toe hulle Hom nie kon kry nie, is hulle terug na Jerusalem om daar na Hom te soek.

46 Drie dae later het hulle Hom uiteindelik gekry. Hy het in die tempel tussen die leermeesters gesit terwyl Hy na hulle luister en hulle uitvra.47 Almal wat na Hom geluister het, was verbaas oor sy insig en antwoorde.

48 Toe sy ouers Hom sien, het hulle nie geweet wat om daarvan te dink nie. “Kind,” het sy ma vir Hom gesê, “waarom het jy so met ons gemaak? Ek en jou pa het rasend van bekommernis na jou gesoek!” 

49“Maar hoekom was dit nodig om te soek?” het Hy gevra. “Julle moes geweet het Ek sou in my Vader se huis wees.” 50 Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel nie.

51 Hy is toe saam met hulle terug na Nasaret en was gehoorsaam aan hulle. Sy ma het al hierdie dinge in haar hart bewaar.

52 En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het.

 

Hier lees ons dat die 12-jarige Jesus vir sy ouers ‘n bietjie van ‘n harde tyd gegee het. (Wie van julle het 12-jariges?) Daardie begin tienerjare, is die inspirasie vir die yskasmagneet wat lees “Hire a teenager while they know everything.”

En dit lyk asof Jesus ook maar ‘n normale tiener was. Ons lees dat hulle elke jaar dieselfde roetine gevolg het en daarom het sy ouers nie bekommerd geraak in die begin nie, want hy travel gewoonlik saam met vriende en familie. Maar nadat hy nie teen sy curfew die eerste aan by hulle aangemeld het nie, het hulle bekommerd geraak. (Soos enige goeie normale ouers sal doen.)

Hulle kom agter dat Jesus nie saam met hulle reis nie en draai toe om om hom  te gaan soek in Jerusalem. Na 3 dae vind hulle hom weer, in die tempel besig om tussen die leermeesters te sit en die Skrifte te debatteer.

Let op hoe sy ma Jesus roep nadat sy hom na 3dae weer vind: “Kind”

Hoe dink jy het daardie “Kind” geklink?

Jesus het so raas gekry, en as hulle Afrikaners was ‘n goeie loesing ook. (Is dit nie wat ons doen wanneer ons so lief is vir ons kinders wat ons so laat skrik dat ons hulle raas en pakslae gee en dinge sê soos: “Moenie ons weer so laat skrik nie, ons was rasend na jou gesoek gewees, weet jy wat met jou kon gebeur het.”

Nadat Jesus raas gekry het by sy ouers sê die Skrif het hy saam met hulle gegaan en was aan hulle gehoorsaam. (Dit moes ‘n baie goeie pakslae gewees het om ‘n tiener in toom te bring.)

Maar wat ek hou van Jesus (daar is so paar dinge) maar spesifiek in hierdie stuk is Sy eiesinnigheid sonder om ‘n tool te wees nie.

Hy sê vir sy ouers “maar hoekom het julle my gesoek, weet julle nie ek sou in my Vader se huis gewees het nie?”

Hulle het dit nie verstaan nie, want sy vader Josef se huis was in Nasaret waar hy ‘n skrynwerker was as beroep. Maar Jesus het homself nie gesien as iemand wat in sy pa se voetspore gaan volg nie. Hy het sy eie plan en idee vir sy toekoms gehad.

(Klink dit soos jou tiener?)

Ongelukkig maak baie ouers hierdie fout om hulle tieners se drome en toekomstige ambisies te versmoor met hulle eie onvervulde lewens ambisies. “Ek het nooit die geleentheid gehad om doktor te swot nie, so jy gaan dit doen.” Of “Ons is ‘n familie van doktors so jy gaan ook een word. Dit is in jou bloed.”

Maar sommige tieners is meer rebels as ander.

En Jesus was een van die groot rebelle. Hy wou nie soos sy vader ‘n skrynwerker word nie. Hy was nie lus om net elke jaar die normale Paasfees roetine te doen nie. Hy was lus om sy eie drome en ambisie te volg.

Taamlike groot droom en ambisie om die mens te red van ewige verderf.

Die boodskap wat ek kry van Jesus, die kinder rebel is dat ek as ouer nie die rebel in my kinders moet doodmaak en versmoor nie. Ek moet vertrou dat die ingebore passie en lewensdoel wat soos ‘n vuur in hulle brand (al is dit om die beste koekbakker of ‘vliegtuiger’  te word, my dogtertjies is immers 6 en 4, hulle sal nog daaruit groei).

Die Skrifgedeelte eindig dat Jesus in sy wysheid gegroei het soos wat hy ouer geraak het, en dit is belangrik vir enige tiener om te doen, maar sonder ‘n rebel-vuur wat in hulle hart brand sal hulle nooit die wêreld kan verander nie.

 

Jesus: Die blink môrester rebel.

blink morester#3 in die reeks “Jesus die Rebel”

Lees deel1 hier en deel 2 hier

In Matteus 2 lees ons dat Jesus se geboorte verkondig word as koning van die Jode, nie deur die koninklike kanale, of deur die Joodse tradisie (die profete) nie, maar deur ʼn blink môrester. Jy mag dalk vra, wat is so rebel aan om die blink môrester te wees? Die rebelse antwoord lê in vir wie is Jesus daardie blink môrester?

Was dit vir die profete?

Was dit vir die gelowiges?

Was dit vir die koninklikes?

Was dit vir die gereddes?

Was dit vir die Jode?

Nee, nee, nee, nee, nee, nee.

Dit was vir die wyse manne van die Ooste. Wyse manne is eintlik so ʼn versagting vir wie hulle eintlik was. Hulle was NIE Jode NIE. Dink ʼn oomblik daaraan. Die eerste persoon wie Jesus as koning van die Jode erken is nie Jode. Hulle is ook nie profete nie. Hulle is mense buite die kerk. Hulle is mense buite die geloof. Want wyse manne in die oorspronklike Hebreeus is “Magos” wat beteken magician.

In sommige kerke, heers daar ʼn atmosfeer om nie met enige iemand wat daar buite is te meng nie. En as jy moet, dan is dit om hulle so vinnig as moontlik te evangeliseer om in die kerk/geloof/my tradisie/my manier van worship in te bring. (Evangelisasie is verseker ‘n belangrike deel van Christenskap, maar dit neem ‘n vere tweede plek agter wees lief vir jou naastes soos jouself.)

Enige iets of iemand anderste as MY manier van doen is “Magos.”

Seker hoekom so baie van hulle verbrand was in die donker en middel eeue. Vandag sal ons nou nie meer die “Magos” tussen ons aan die brand steek nie, ons sal maar net die brûe tussen ons brand van vriendskap. Glo my nie? Hoe baie families, Afrikaner families het in twee geskeur as gevolg van een van hulle wat besluit het om gedoop te word in ʼn ander kerk? “Magos!”

Of wat van die heel nuutste “Magos” in die SA kerk wêreld – “Die nie kerk Magos”?

Daar is ʼn groot en groeiende groep mense wat disillusioned is oor die kerk waarin hulle groot geword het en vir redes buite die verstaan van die mense wat nog in die kerk is, wil hierdie groep “Magos” net nie kerk toe gaan nie.

Dan het ek nie eers van die “Magos” gepraat wat nie eers Christene is nie. Ek los daardie “Magos” maar vir Rob Bell om oor te praat in sy uitstekende moet lees boek “Love Wins.” Ek is maar net braaf genoeg om te praat oor die “Magos” in die kerk.

Jesus verskyn as ʼn blink môrester aan die “Magos.” Hy praat hulle taal. Hy stuur nie vir hulle ʼn profeet, of ʼn Bybel nie, maar praat met hulle deur hulle “Magos” taal. Die sterre.

So baie mense in die kerk maak dit hulle hele lewe om die deur toe te maak vir die “Magos” in hulle huise. Enige iets van die Ooste is mos verkeerd, want ons sien onsself as Westerlik. Ons is vrees gemotiveer om so ver as moontlik van enige iets vreemd, anders en teenstrydig met ONS tradisie. “Magos!” verdoem ons.

Maar wat ek lees hier in Matteus 2 is dat Jesus nie net met die “Magos” praat in hulle eie taal nie, Hy verwelkom hulle in en aanvaar hulle “Magos” geskenke.

Tradisie sal altyd die “Magos” uitjaag, waar die genade van die Here altyd die “Magos” sal verwelkom.

In ʼn vorige lewe was ek ʼn politikus.

IEC-South-Africa

Ek love politiek. So paar jaar gelede toe ek moes besluit wat ek wou doen anderste as pastoor wees, was daar twee opsies vir my gewees.

#1 Politiek (Toe ek op skool was het ek ure lank parlement TV gekyk eerder as die movies)

#2 Seksuologie (Toe ek op skool was het ek ure lank…)

Ek was en steeds is passievol oor albei, maar ek het gefigure daar is seker minder backstabbing in seksuologie as in die politieke sirkels. (Ek het reeds geweet dat die kerk wêreld is vol daarvan!)

Maar wat ek oor die jare agter gekom het is dat waar jy die mens kry sal jy backstabbing kry. Die platform en die wapen is die enigste dinge wat verskil.

Ten spyte van hierdie baie siniese siening is ek ʼn ware optimis. (Ek weet ook nie hoe dit werk nie.)

So gun my hierdie geleentheid om ook my opinie oor die SA politieke landskap te gee.

Hoekom kry die ANC steeds die meerderheid stemme?

Hoekom het die EFF so goed gedoen?

En kan die DA beter doen?

 

Die ANC steeds die mense se nommer 1 keuse. Hoekom?

Ons moet verstaan dat SA politiek nie ʼn kop besluit is nie, maar ʼn hart besluit. Emosies motiveer meer in SA politiek as rasionalisering. Daarom as ons na al die foute van die ANC kyk sukkel ons om te verstaan waarom die meeste mense nog vir hulle sal stem. Maar dit is suiwer uit ʼn logiese benadering en inkorporeer glad nie die hart en emosionele konneksie met ʼn seker party nie.

(En voordat jy ʼn rassistiese opmerking maak oor ja, dis omdat hulle nie kan dink nie dat hulle maar so “dom” en oningelig stem, wil ek net jou aandag spits op al die mense (dalk jy in kluis) wat oor die jare vir die kleiner politiese partye gestem het soos die VF Plus en ACDP onder andere. Nie een van daardie twee stemme is “logies” nie, en is ook 100% hart en emosioneel gedrewe.)

So om terug te kom tot die emosionele konneksie wat die mense steeds met die ANC het, moet ons vir eers die logiese eenkant skuif en dieper kyk.

Ja al die korrupsie, Nkandla, swak dienslewering, ens is iets wat die ANC ondersteuner pla, maar nie genoeg om weg te stap van hulle redder nie. Ten spyte van al die ANC se swakhede is hy steeds die party wat Apartheid verslaan het. So die “slegste” van die huidige ANC is steeds beter as die “beste” onder Apartheid. (Dis dalk moeilik vir ons om te verstaan wie nog nooit gevoel het hoe dit was om nie as mens beskou en behandel te word nie. Maar vryheid is beter as ʼn gerieflike lewe met goeters.)

Die ANC het in die hart van die mense geklim en hulle vryheid gegee, al neem hulle nog lank om enige iets anderste vir hulle mense te gee, die hoop en menswees is die massas steeds voor dankbaar en lojaal.

Almal se gunsteling persoon om te haat…Julius Malema.

Ek het iets interessant gelees in ʼn boek oor Stalin en Hitler klompie jare gelede dat as Stalin en Hitler nooit gebore was nie, sou daar iemand anderste in hulle plek op gestyg het. Die mense, die omgewing, die tyd, die atmosfeer, die siege van die tyd, plek en kultuur is wat die leiers produseer.

Ek wil net graag noem dat ek nie Julius vergelyk met Stalin of Hitler nie, ek dink darem ons is dit gespaar, maar die punt wat ek probeer maak is dat die duidelike sukses wat Julius se EFF gekry het in hierdie verkiesing, wys op ʼn groot behoefte en leemte in die SA politieke landskap. En dit is die groot behoefte van ʼn sterk sosialistiese party.  En Julius was net die eerste persoon wat genoeg balls gehad het om hierdie behoefte te probeer aanspreek. Cosatu was tot op hede onbereidwillig om weg te breek van die ANC om hierdie sosialistiese leemte in SA te vul, maar ek glo nadat hulle die sukses van die EFF gesien het, dink ek ons gaan baie ontwikkeling in hierdie sosialistiese deel van SA politiek sien.

Well done meneer Malema jy sal bekend staan as die Madiba van die vêr linkses.

 

Sal die DA ooit regeer?

Nee.

Vir twee redes wat ek sien.

#1 Die DA, maak nie saak as hy heeltemal in ʼn “swart” party verander nie, sal nooit gesien word as die redder wat die mense vrygemaak het van Apartheid nie. Daarom sal die DA nooit die emosionele “hart” stem van die mense kry nie.

#2 Die DA, maak nie saak hoe goeie dienslewering hy ook mag gee vir al sy mense in die Wes-Kaap, sal nooit die behoeftes van die massas in armoede kan gee (of belowe) soos wat die EFF of enige ander sosialistiese party nie.

Die DA is ʼn party wie groei en sal aanhou groei (en vir wie ekself nog vir die volgende paar verkiesings sal stem), soos wat die middelklas van SA groter word. As almal in SA hulleself op dieselfde Maslow hierarchy vlak bevind, dan glo ek die DA sal die logiese keuse wees vir die meeste, maar net totdat die DA te sterk word, want (power corrupts and absolute power corrupts absolutely!)

Vir daardie rede sal ek altyd stem vir die 2de grootste party. En as ons gelukkig is in SA mag ons dalk binnekort met twee 2de grootste party sit.

 

Daarom is ek opgewonde en optimisties oor ons land Suid Afrika, want na 20 jaar se demokrasie het ons geen civil oorlog nie, ʼn redder van Apartheid wat ons vrymaak van rassistiese blindheid, ʼn groeiende middelklas wat vir ons ʼn logiese alternatief aanbied, maar ook het ons ʼn rebel wat ʼn stop wil sit tot die uitbyting en misbruik van die weerlose.

Viva Suid-Afrika, Viva!

 

 

 

Jesus: Die Papawersaad Rebel

Poppy-Seed-Pictures

Toe Jesus nog nie eers so groot was soos ‘n papawersaad nie, was hy alreeds besig om teen die norm, die wet, sy ouers se aansien en reputasie te rebelleer.

MATTEUS 1:19 AFR83

“Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek.”

MATTEUS 1:19 NLV

“Josef, haar verloofde, was in ’n dilemma. Aan die een kant was hy ’n wetsgehoorsame man; aan die ander kant wou hy haar die openbare skande spaar. Daarom het hy hom voorgeneem om die verlowing privaat te verbreek.”

Hierdie dilemma wat Josef en Maria hulleself in bevind het was natuurlik dat Maria op ‘n bonatuurlike manier swanger geraak het.

‘n Vrou wat vandag swanger word voordat sy getroud is, bring meskien ‘n bietjie skande tot haar familie, maar in Jesus se tyd, was ‘n vrou wat swanger geraak het voor haar troue gestenig!

‘n Man wat ‘n vrou swanger maak vandag mag dalk sy hande in die lig op steek (nadat hy sy broek optrek) en sê: “was nie ekke nie!”
Maar ‘n man wat nuus moet ontvang dat sy verloofde swanger is en hy het nog geen ‘cherry gepop’ nie – hoe herstel so verhouding ooit?

Jesus se verskyning op aarde as mens (Immanuel = God met ons) is iet-wat van ‘n dilemma. Een van die eerste aksies wat Jesus doen is om te rebelleer teen die wet van Moses, die troubaarheid van Maria en die agterdog van Josef.

Ons het alreeds gesien in deel 1 van hierdie reeks dat rebellie in die Bybel word anderste gebruik as hoe ons vandag rebellie verstaan. In die Bybel se definisie daarvan bevat dit bitterheid, maar hoe ons rebellie vandag verstaan is alleenlik om teen outoriteit op te staan en dinge anderste en nuut te doen. (Lees deel 1 van Jesus die Rebel hier)

En selfs met Jesus se bevrugting, was Hy alreeds besig om dinge anderste en nuut te doen.

Hoeveel mense het ek al gesien vir berading wat nog die skande dra van ‘n voorhuwelikse swangerskap. Let wel hulle almal is baie lief vir daardie ‘onwettige-wellus-gevulde-kind’ en sal nie daardie kind wil omruil vir enige iets nie. So die pyn en seer (bitterheid) van die persoon kom nie van die kind nie, maar van hulle ouers, die samelewing, die wetsgehoorsames rondom haar wat haar emosioneel stenig.

Hoekom rebelleer Jesus teen die bitterheid van ‘n vrou wat swanger word buite die eg?

Ek glo dis omdat hy ‘n nuwe, belangriker les vir die mens wil leer. Een wat nie net gefokus is om altyd die masker blink te ‘polish’ nie, maar ‘n gesindheid van onvoorwaardelike liefde te kweek, dat wanneer die masker van ‘n persoon wel afval, in ‘n oomblik van swakheid, word daardie persoon nie eenkant toe geskyf of gestenig (emosioneel of fisies) nie, maar dat daardie persoon met onvoorwaardelike liefde behandel word.

Onthou die wet sal nooit onvoorwaardelike liefde vir jou kan leer nie. Die wet sê vir jou hoe dinge moet wees, veronderstel om te wees, wat van jou verwag word, en as jy gaan so wet gefokus wees, gaan jy met ‘n al hoe groter masker begin rondloop en die mens agter die masker begin verag.

Jesus se nuwe boodskap is: al raak iemand swanger buite die eg, wees lief vir hulle steeds. Moenie wegstap van hulle nie.

So hier wil ek ‘n boodskap gee aan twee groepe mense.

#1 Die ouer, ma of wetgehoorsame wat al in die verlede neer gekyk het op ‘n enkel swanger dame  en emosioneel gestenig het en uitgeskuif het. As jy so iets al gedoen het, daag ek jou nou uit om die foon op te tel en daardie persoon te bel en omverskoning te vra dat jy die wet bo onvoorwaardelike liefde geplaas het. Dat jy jou reputasie en blink masker belangriker geag het as die mens.

En #2 vir die swanger vrou buite die eg. Moenie bekommer nie, genade is groter as die wet.

 

Die les wat Jesus so groot soos ‘n papawersaad vir Josef leer is een wat elke huwelik vandag nog kan baat vind by om te snap. ‘n Perfekte huwelik is nie een waar pyn en seer (bitterheid) afwesig van is nie, dit is normaal om so te voel wanneer iets met daardie ‘happy-ever-after-masker’ gebeur, maar dat genade en onvoorwaardelike liefde aan die einde van die dag oorwin. Dat bitterheid nie wortel skiet in jou hart nie, maar dat vergifnis en genade seëvier.

Bitterheid is wanneer ons nie vrede kan maak dat ons of iemand anders nie kan opleef tot die voorgehoue masker nie. Dus word ons almal gekonfronteer met een of ander vorm van bitterheid, want NIEMAND van ons kan ‘n masker lewe volhou nie.

My uitdaging vir die persoon in die huwelik wat bitter voel oor iets wat hulle maat nie reg gedoen het nie, vergewe hulle, begrawe daardie koei en geniet die res van julle huwelik in ‘n atmosfeer van onvoorwaardelike liefde en genade.

 

Jesus rebelleer teen hierdie masker (wet) en bring genade en ‘n nuwe boodskap van jou waarde is nie gekoppel omdat jy alles eksie-perfeksie gedoen het nie, maar omdat Hy jou lief het, net vir wie jy is!

Revolusionêr, ek weet!

Jesus die Rebel.

rebel-sport-featured-image

Ek is seker jy het hierdie titel twee keer oor gelees om seker te maak jy lees reg. So ek moet seker begin om die twee groot woorde in hierdie titel “Jesus die Rebel” se konteks verduidelik, voordat ek gestenig of gekruisig word saam met al die ander rebelle van oud.

Met Jesus verwys ek ja na Jesus Christus toe wat in Nasaret so 2000 jaar terug gewoon het, en nie die 2000 Jesus’s wat in Mexico woonagtig is nie.

Die woord rebel gaan ek seker ‘n hele boek neem om die konteks (soos ek dit sien) te verduidelik. Ja ek weet van die vers in die Bybel wat sê in 1 Samuel 15:23 “rebellion is like the sin of witchcraft.” Die Afrikaans vertaal dit beter sodat ons dit kan verstaan, Weerspannigheid (AFR83), Opstandigheid (NLV).

Hierdie is ‘n lekker vers vir enige iemand in leierskap posisie om te kwoteer vir hulle onderlinge om hulle in toom en in lyn te hou. Ons voel (rebellion), weerspannigheid en opstandigheid is om ANDERSTE te wees en om TEEN te gaan wat tradisie dikteer. Enige iets NUUTS en ANDERSTE en VARS (out of the box) wat bots met die status quo word geklassifiseer as (rebellion), weerspannigheid en opstandigheid = dus is dit ʼn sonde so erg soos om ʼn heks te wees. (Ek neem aan hierdie heksery is ʼn bietjie erger as die liewe Heksie waarmee ons grootgeword het.)

 

Maar as hierdie vers van ‘rebellion is like the sin of witchcraft’ gebruik word om mense by die kruis te brand wat nie volgens outoriteit van die dag saam stem nie, kan ek vir jou sommer nou al sê dat daar ʼn goeie kans is dat die persoon wat die vers kwoteer nog nie die hele 1 Samuel 15 gelees het om die konteks te kry van hierdie vers nie.

Koning Saul het die Amalekiete aangeval in oorlog. Die standaard ‘etiek van oorlog’ was wanneer jou vyande oorgee kan jy stop met jou aanval. Met ander woorde die vrouens en kinders van jou vyande kan jy spaar en die vrouens, kinders en kleinvee neem vir jouself as ‘the spoils of war’.

Dit was die norm.

Maar God gee vir Saul baie spesifieke opdrag om teen die status quo te gaan en ALMAL dood te maak. Niemand te spaar nie. 1 Samuel 15:3 “Jy moet nou gaan en Amalek heeltemal uitroei. Doen dit sonder dat jy iemand oorsien, mans, vroue, kinders, babas, grootvee, kleinvee, kamele en donkies.”

Om ʼn lang wrede storie kort te maak, Saul en sy 200 000 manskap verslaan die Amalekiete, maar doen nie die NUWE ding wat God vir hom gesê het om te doen nie, maar besluit om te gaan met die standaard meer tradisionele manier van ‘the spoils of war’ en hy spaar so paar van die vrouens, kinders en kleinvee.

Dit is met hierdie agtergrond, dat God vir koning Saul die les van ‘rebellion is like te sin of witchcraft’ leer. Sy rebellie was nie as gevolg van om tradisie te breek nie, maar om te weier om iets NUUTS te doen.

Met ander woorde rebellie, weerspannigheid en opstandigheid is so veel meer as net om op te staan teen iets, iets teen te werk, nee te sê of om op ʼn besem te vlieg. Rebellie is nie die troefkaart van die tradisie leiers, die status quo oppassers of die gesagsfigure nie.

Rebellie is nie altyd die rede om iets NUUTS of ANDERSTE te doen nie, wat in hierdie 1 Samuel geval was Saul beskuldig van rebellie juis omdat hy NIE iets nuuts en anderste wou doen NIE en besluit het om met tradisie te gaan.

So dit klink vir my dat 99% van ons wat al ooit hierdie vers gekwoteer het om iemand weer in lyn te kry, het nie net dit verkeerd kwoteer nie, maar was self skuldig aan rebellie…

…aangesien die Hebreeuse woord vir rebellie in 1 Samuel 15 beteken “bitterheid

So rebellie is nie eers gekoppel aan ongehoorsaamheid nie?!? Wat? (Ek gaan met my ouers moet praat hieroor.)

Maar eerder oor bitterheid van die hart.

Ek vra toe vir myself, waar in 1 Samuel 15 het Saul bitterheid van die hart gewys. Ek dit vir eers nie gesien nie, en toe sien ek dit deur my kapitalistiese westerlike brille en kom agter maar Mammon is alive and well.

1 Samuel 15:9

“Saul en sy manskappe het Agag se lewe gespaar, asook die beste skape en beeste, die vet kalwers en lammers – trouens, alles wat hulle begeer het. Hulle het net dit wat waardeloos was, vernietig.”

Saul was bitter dat hy uit mis op al hierdie dinge wat sy hart begeer. Hy was bitter dat hy nie homself kon verryk deur sy oorwinning nie. Hy was bitter dat sy harde werk nie vir hom ʼn groter reward gegee het nie.

 

So ons sit met die Bybelse 1 Samuel 15 definisie van rebellie wat soos heksery is, wat na ʼn bitter hart verwys. (Sjoe hoe meer ek oor die woord en emosie en hartkondisie van bitterheid dink, hoe meer kom ek agter maar dit is orals. Maar vir eers sien ons dit nie raak nie, want bitterheid vermom homself as iets wat maar net die beste vir jou wil hê. Ek dink nou aan die rede hoekom Satan uit die hemel geskop was…bitterheid…hy was bitter dat hy nie soos God was nie. En Eva was bitter dat sy nie so slim soos God was nie, en Adam was bitter omdat hy nie vir ʼn kaal vrou kan nee sê nie.)

En dan het ons die Oxford algemeen aanvaarde definisie van rebellie.

“An act of armed resistance to an established government or leader:the authorities put down a rebellion by landless colonials”

Of

“The action or process of resisting authority, control, or convention:an act of teenage rebellion”

 

Nou lyk dit vir my dat van hierdie regerings en owerhede en ouers wat hulle kinders blameer van rebellie is die wat met bitterheid in hulle harte sit.

Ek nooi jou uit om vir die volgende paar weke en maande my te volg om op ʼn ‘rebelleuse’ (ANDERSTE en NUWE) manier na die Bybel, spesifiek na Jesus te kyk sodat ons die bitterheid in ons harte kan identifiseer.

Kinders by Dosyne

Opvoedkundige komedie deur Timothy Kieswetter

WellnessseX

Understanding, Acceptance and Management of our sexual wellbeing

goeienuusloli

Ek deel myne...kom deel joune!

tamatieland

'n paar gedagtes

Binne die Glashuis

Die binne na buite weerspieëling van my gevoelens, gedagtes en drome oor Gesonde Seks

Timothy Kieswetter's Blog oor Gesonde Seksualiteit

Om 'n gesonde gesindheid rondom ons seksualiteit te ontwikkel.

%d bloggers like this: